Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Crusaders se swaargewigte keer nou terug
Die All Black- en Crusader-haker Codie Taylor aan’t oefen vir sy terugkeer tot Superrugby. Foto: Getty Images

Die Crusaders se klinkende sege die naweek oor die Rebels in die Superrugby-kompetisie het ’n duidelike waarskuwing aan ander aanspraakmakers op die titel gerig: Staal julle vir ’n span wat nou sy ritme gevind het.

Om alles te kroon sal die verdedigende kampioen oor twee naweke al sy beseerde sterre terughê. Die week wat voorlê is daar boonop ’n loslootjie vir die Nieu-Seelanders, so hulle sal uitgerus wees.

Scott Robertson, die afrigter, het Saterdag ’n kort boodskap aan sy spelers gehad nadat die ’Saders die Rebels met 66-0 in Christchurch vermorsel het.

“Uitkloprugby,” is al wat die breier gesê het.

Menende, die tipe spel wat die span nou opdis, beteken hy is slaggereed om wie ook al sy teenstander in die kwarteind is om te dop.

Robertson gaan die aangename uitdaging hê om oor twee weke sy 23-tal vir die tuiskwarteind te kies met die wete dat All Blacks soos die vaskopstut Owen Franks en die haker Codie Taylor ook weer beskikbaar, nadat hul skete afgeskud is.

Owen Franks maak ook sy terugkeer tot die Crusaders, net mooi betyds vir die uitkloprondes.Foto: Getty Images

Franks het slegs vier wedstryde gespeel voordat sy skouer hom kantlyn toe gedwing het. Taylor se gebreekte vinger het hom agt weke op die krukkelys gehou.

Nou kan die Crusaders vir die eerste keer die seisoen met ’n voltallige All Black-voorry sy volgende teenstanders aandurf.

“Om die reeks te wen, moet baie dinge reg verloop. Jy het ’n volle, fikse groep nodig. Om die eindstryd te haal moet jy jou beste span kan kies. Oor ’n bietjie meer as ’n week sal ons ’n paar moeilike besluite moet neem wat die samestelling van die span betref, met die terugkeer van die twee All Blacks,” erken Robertson.

Met die linkervleuel George Bridge wat volgens die nasionale rotasiebeleid Saterdag se wedstryd misgeloop het, het die span nou boonop voldoen aan die rugbybase se vereistes deur al sy All Blacks ’n blaaskans te gee.

Oor ’n bietjie meer as ’n week sal ons ’n paar moeilike besluite moet neem wat die samestelling van die span betref, met die terugkeer van die twee All Blacks.
Scott Robertson

Robertson gaan sy troepe die week toelaat om hul eie gang te gaan terwyl hy en sy hulpafrigters agter die skerms planne vir die komende uitklopwedstryd beraam.

“Ons sal gedurende die week op die span se WhatsApp-groep met almal in verbinding bly en spelers op hoogte hou van ons beplanning en hergroepering.”

Sou die Crusaders weer vanjaar die titel verower, sal dit sy tiende wees. – stuff.nz

Meer oor:  Owen Franks  |  Nieu-Seeland  |  Christchurch  |  Kwarteindronde  |  Crusaders  |  Superrugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.