Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker: 5 spanne veg vir 3 plekke

Kimberley?

Nee kyk ou swaer, daai plek is een waar jy as besoekende rugbyspeler sommer twee mondskerms gelyktydig moet dra vir dít wat voorlê.

Vir die brekers van die Griekwas is dit ’n stokperdjie om teenstanders op hul klipharde, stowwerige veld se vaal gras in die grond in te boor dat die tande klap en dit voel asof dit trekklavier speel.

Sondag het die Leeus en Haaie om besit baklei. Nou veg die twee spanne, asook die Westelike Provinsie, Vrystaat-Cheetahs en Blou Bulle om saam met Griekwas ’n plek in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks te bespreek. Foto: Getty Images

Saterdag wag hierdie sending so reg uit die hel op die Leeus in hul laaste Curriebeker-ligawedstryd teen die Kwaste in Kimberley.

Die Poubloues is boaan die puntelys met 19 ligapunte en het reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer. Die Leeus lê in die derde plek op 17. Die Vrystaat-Cheetahs is die vulsel in daardie toebroodjie in die tweede plek met ook 17 punte, maar ’n beter punteverskil as die Leeus.

Die kampioenspan, die Haaie, is vierde met 14, gevolg deur die Westelike Provinsie (13) en die Blou Bulle (9).

In Saterdag se laaste ronde van ligastryde is daar nog ’n magdom scenario’s wat hulle kan uitspeel om die vier spanne in die halfeindstryde te bepaal. Vyf spanne probeer nog hul halfeindplekke beklink, terwyl Griekwas nou speel vir tuisveldvoordeel in die uitkloprondes.

Vir die Leeus strek die spektrum wyd.

Hulle kan die ligafase in die eerste plek afsluit, maar vir dieselfde geld kan hulle glad nie eens die halfeindronde haal nie.

Klop hulle die Griekwas met ’n bonuspunt en die Vrystaat kry selfs net ’n oorwinning sonder ’n bonuspunt oor die WP in Bloemfontein, eindig die Leeus in die eerste plek.

Verloor hulle egter in Kimberley en kry geen bonuspunt nie en die Haaie wen teen die Bulle in Pretoria en die WP klop die Vrystaat, word die Leeus uitgeskakel.

Selfs die Bulle het nog ’n buitekans. Vir hulle om by die agterdeur in te glip, moet hulle die Haaie met ’n bonuspunt klop sonder dat die Durbaniete een kry en moet die Vrystaat die WP klop en met leë hande terugstuur Kaap toe. Hulle sal ook die Haaie met ’n aansienlike telling moet klop om hul punteverskil ’n hupstoot te gee.

Die WP het ook hulp uit ander oorde nodig om die voorste vier te haal. Behalwe dat hulle die Vrystaat moet klop, sal hulle dan moet hoop die Bulle doen hulle ’n guns en reken met die Haaie af. Dit sal hulle dan ook pas indien die Griekwas met die Leeus klaarspeel.

Daar sal inderdaad tot en met die einde van die laaste stryd Saterdag gewag moet word om die voorste vier te kan vasmaak.

Die Leeus besef egter die taak wat op hulle wag verg ’n man op ’n perd.

“Ons sal veral voorlangs ons man moet staan. Die Griekwas is baie sterk voorlangs en dit is waar ons sal moet vasbyt,” sê Ross Cronjé, Leeu-kaptein.

Hy het juis ná Sondag se nederlaag teen die Haaie ’n beskuldigende vinger na sy agttal gewys, wat nie aan die verwagtinge voldoen het nie.

“Ons hoef nie terug te gaan na die tekenbord nie, want die planne wat ons afrigters uitwerk, is volmaak. Al wat nou moet gebeur, is dat ons daardie planne reg toepas,” sê Cronjé.

“Ons het nog nie in een Curriebeker-wedstryd hierdie seisoen geclick nie en nou moet ons dit Saterdag doen. Maklik gaan dit nie wees nie,” gee Cronjé toe.

* Die Pumas (9 ligapunte), die sewende span in die Premierliga, het hul verpligtinge die afgelope naweek afgehandel en kan nie meer vir die halfeindronde kwalifiseer nie.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.