Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker bly in die Kaap, sê Carel

Die keuse van al drie Du Preez-broers in dieselfde span sal vir die Haaie ’n motiverende faktor in Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie op Nuweland wees.

So sê Carel du Plessis, wat in 1982 saam met twee van sy broers, Michael en Willie, in die WP-span was vir die eindstryd teen Noord-Transvaal. Die Streeptruie het daardie wedstryd op Nuweland met 24-7 gewen.

Die Du Plessis-broers (van links) Carel, Willie en Michael glimlag breed ná die WP se oorwinning van 24-7 oor Noord-Transvaal in 1982 se Curriebeker-eindstryd op Nuweland. Foto: WP Rugby Centenary

Dit was die laaste keer wat drie broers vir dieselfde span in ’n eindstryd gespeel het.

“Dit was werklik spesiaal om dit saam met hulle te kon doen en deel daarvan te kon wees. Ek kan dink dat hierdie vir die Du Preez-broers (Robert, Dan en Jean-Luc) ’n spesiale geleentheid kan wees. Dit gaan vir seker ook ’n motiverende faktor wees,” het Du Plessis Dinsdag gesê.

Robert du Preez, die Haaie se losskakel, was verlede jaar vir die WP ’n sleutelspeler in sy eindstryd-sege oor die Haaie in Durban. Daardie dag was sy broers in die opponerende span.

Hy het toe die skuif Haaie toe gemaak om saam met sy tweeling-broers te kan speel. Boonop word hulle deur hul pa, Robert sr., afgerig.

Die Du Preez-broers, wat waarskynlik almal in Saterdag se eindstryd op Nuweland betrokke gaan wees. Van links is Dan, Robert en Jean-Luc. Foto: Gallo Images

“Die tweeling is goeie spelers. Hulle gaan op die dag hul stempel wil afdruk. Albei is fisieke spelers, Jean-Luc dalk meer so. Hulle het ’n fisieke teenwoordigheid en gaan beslis vir die WP kom,” het Du Plessis gesê.

Dié gewese Springbok-vleuel en -afrigter verwag ’n “spanningsvolle” eindstryd, maar meen tog die Streeptruie behoort op hul tuisveld met die Haaie te kan afreken.

“Ek wil nie voorspel dat dit maklik sal wees nie, maar ek dink die WP het ’n bietjie meer skietgoed. Die WP was deur die loop van die seisoen die toonaangewende span en ek sal graag wil sien dat hulle die knoop deurhak,” het hy gesê.

Du Plessis meen ook die afgelope naweek se naelbytsege oor die Blou Bulle sou die WP gehelp het.

“Verlede naweek se wedstryd was baie spannend. Die span moes onder druk in bykomende tyd mooi werk om die oorwinning te behaal. Die eindstryd gaan ’n soortgelyke wedstryd wees,” voorspel Du Plessis.

Carel du Plessis. Foto: Gallo Images

Die “Prins van Vleuels” is ook beïndruk deur die WP se speelstyl, wat in die sewe wedstryde tot nou toe 40 drieë opgelewer het.

“Hulle speel opwindende rugby en dis asof die WP in elke area van die spel opgewasse is,” sê Du Plessis.

“Dit was goed om te sien dat ’n klomp spelers hul hande opgesteek en spelpeil gelig het. Daar is samehorigheid en die span is effektief in wat hy doen. Ek hou van wat ek sien. Die WP is redelik aanvallend ingestel en sy ondersteunende spel is goed.”

Terwyl die WP sy ligawedstryd teen die Haaie met 50-28 gewen het, maan Du Plessis diegene wat vir die Streeptruie ’n maklike sege voorspel tot versigtigheid.

“Jy moet op die dag als in plek hê, terwyl jou teenstander ook gaan probeer om jou te ontwrig. Die Blou Bulle was goed daarmee die afgelope naweek en jy sal dit te wagte wees (in ’n eindstryd). Die omstandighede is anders in ’n uitspeelwedstryd. Hopelik werk dinge op die dag reg uit.”


Meer oor:  Haaie  |  Wp  |  Curriebeker-Eindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.