Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker-glans? Nie dié week nie!
Bulle
Die Bulle-vleuel Stravino Jacobs duik gister oor vir een van sy twee drieë, met die Leeus se Tiaan Swanepoel te laat om te keer. Foto’s: Gallo Images

Toe ’n groep van die land se voorste rugbydenkers vroeër vandeesmaand in ’n koor mond uitgespoel het oor die vervelige nonsens wat Suid-Afrika se Curriebekerspanne aan rugbyliefhebbers opdis, was daar ’n koor van hoor-hoor én ’n koortjie wat geprotesteer het.

Daar was dus diegene wat volmondig saamgestem het dat grassny al amper lekkerder geword het as om rugby te kyk. Maar net so was daar dié wat Nick Mallett en Swys de Bruin-hulle beskuldig het van lekkerbekkigheid en ondankbaarheid. Want darem het ons rugby.

Maar dis waaragtig net aartsoptimiste wat ná gistermiddag se Curriebekerhalfeindstryde steeds in laasgenoemde groep sal val. Al vier spanne het gewissel tussen yskoud en louwarm, met niemand wat hulself juis as kampioene in wording bewys het nie.

Nie dat dit natuurlik die Bulle en Haaie sal skeel nie. Vir die volgende ses dae het hulle ’n Curriebekereindstryd waarvoor daar voorbereiding gedoen moet word – en die geskiedenisboeke gaan nie eendag weerspieël hoe hulle in daardie titelstryd gekom het nie.

Wat Shaun Everitt, die Haaie se afrigter, egter dadelik besef het, is dat ’n vertoning soos dié waarmee hulle die Westelike Provinsie se aanspraak gister met 19-9 beëindig het, nie Saterdag op Loftus Versfeld gaan deug nie.

“Die Bulle is ’n kragtige eenheid en hulle wissel hul spel goed af die seisoen,” het Everitt volgens Leighton Koopman gesê.

“Ons gaan die week planne moet beraam om seker te maak ons kom bo uit in die Curriebekereindstryd. Maar ’n vertoning soos vandag (gister) sal nie genoeg wees vir ’n oorwinning nie.

“Ek is net bly vir die ouens dat hulle die eindstryd gehaal het. Dit (die halfeindstryd) was nie ’n goeie vertoonvenster vir rugby nie, maar dis hoe dit gegaan het.

“Die WP se plan was om te skop, en ons plan was om hulle onder druk te plaas met skoppe, veral hul agterste drie. Daar was foute en dit het goeie rugby verhoed. Ons het onder die omstandighede goed gedoen, maar die Hoëveld gaan ’n ander uitdaging bied.”

Waaroor Everitt wel maar mag breëbors loop, is dat sy span die eindstryd gehaal het, al het die koronavirus in ’n stadium hope chaos in hul kamp veroorsaak.

Eindstryd toe! Curwin Bosch lyk verlig, terwyl sy spanmaats feesvier.

Ditto die Bulle, wat ten spyte daarvan vir die eerste keer in 11 jaar gasheer vir ’n Curriebeker-eindstryd sal speel.

Everitt het spesiale lof gehad vir sy losskakel, Curwin Bosch, wat die telbord vir die Haaie aan die rol gehou het met sy skopvoet.

“Dis ongelooflik hoe Curwin ons die afgelope seisoen uit die moeilikheid uit geskop het. Daar is baie selfvertroue in sy skopwerk en hy was (gister) die verskil.”

Op Loftus het die Bulle se afrigter, Jake White, gister sy span se kalmte onder druk en wilskrag uitgesonder as sleutels tot hul sukses, berig Cobus Claassen.

Die Bulle was met 26-21 baas oor die Leeus, in ’n Jukskei-derby vol ongedwonge foute en swak dissipline deur die Johannesburgers.

“Wanneer jy 14-0 voor is en twee minute later onder die pale staan met die telling 14-14, kan paniek maklik intree,” het White gesê, met verwysing na ’n Leeus-blitzkrieg wat kort ná rustyd twee drieë opgelewer het.

“Dat ons van daar af kop gehou het en kon wen, gee my groot tevredenheid. Onthou, van ons spelers het vir vier, vyf weke nie regtig gespeel nie.”

White sê dissipline was die Bulle se grootste bondgenoot.

“Hulle (die Leeus) het stelskoppers wat ongelooflik is en Tiaan Swanepoel het vandag nie een skop gehad nie.”

Senior spelers soos die kaptein, Duane Vermeulen, Cornal Hendricks en Ivan van Zyl se leierskap was waardevol in die tweede helfte, het White benadruk.

“Duane was die Speler van die Wedstryd in die Wêreldbeker-eindstryd en jy kan goeie kapteinskap nooit onderskat nie.”

Meer oor:  Haaie  |  Blou Bulle  |  Leeus  |  Wp  |  Halfeindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.