Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van ...
Curriebeker se McHaai tob nog oor sy Bok-afjak

Albert Heenop gesels met Ian McIntosh

Dit was Jan F.E. Celliers wat geskryf het hy hou van “ ’n oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk”.

Daar is ’n goeie kans dat Ian McIntosh die vermaarde digter se goedkeuring sou weggedra het.

Ian McIntosh
Ian McIntosh praat hard met sy spelers tydens ’n Super12-wedstryd tussen die Haaie en die Brumbies in 1999. Foto: Gallo

“Mac” word net soveel vir sy indrukwekkende rugby-CV onthou as vir die intense kyk in sy oë wanneer hy langs die veld die aksie betrag het of probeer het om ’n punt by sy spelers tuis te bring. Passie vir die spel het uit hom gestraal.

“Ja, die fotograwe het dikwels daarop gefokus en dit het my soms ’n bietjie geïrriteer. Wat kan ek sê, dit was seker maar ’n aanduiding van die angs en stres wat met afrigting gepaardgaan,” vertel McIntosh, wat onlangs sy 82ste verjaarsdag gevier het.

Benewens ’n taamlik onstuimige en vlietende termyn as Springbok-breier in die vroeë jare negentig, is hy steeds die suksesvolste Haai-afrigter van alle tye met vier Curriebeker-titels, en 13 jaar en drie WB-toernooie in die rol van Bok-keurder.

“Ek is steeds betrokke by afrigtingsklinieke vir die SA Rugbylegendes, maar talle van ons aktiwiteite vanjaar is gekanselleer weens Covid-19.

“Verder speel ek twee tot drie maal ’n week gholf. Ons vyf kleinkinders hou my ook besig.”

McIntosh en sy vrou, Rona, met wie hy 57 jaar getroud is – “ek maak haar al die afgelope 69 jaar die hof” – woon reeds 32 jaar in hul gerieflike woonstel in Durban-Noord met ’n 180°-uitsig oor die Indiese Oseaan.

Rona is ’n rugbykarakter in eie reg. Sy was ’n moederfiguur vir die Haaie. Sy’t in ’n stadium selfs vir hulle ná oefeninge gekook.

“Sy het egter die fout gemaak om vir hulle braaiboud op ’n Maandag te belowe as hulle hul voorafgaande wedstryd sou wen.

“Ons het juis toe ’n rekordlopie van 29 agtereenvolgende Curriebeker-seges (1995-’97) behaal.”

Mac en Rona en hul vyf kleinkinders: Craig se kinders, Luc (22) en Chanelle (24), en Evan se kinders, Aimie (11), Robby (14) en Daniel (16).

McIntosh het drie seuns. Ross (54) is ’n metallurgiese ingenieur in Pretoria, terwyl sowel Craig (52) as Evan (51) geoktrooieerde rekenmeesters is. Craig het ook agt keer vir die Haaie op flank en agtsteman uitgedraf (1996-’98).

McIntosh, wat op 24 September 1938 in die Rhodesiese myndorp Que Que gebore is, was op sy dag self ’n kranige losvoorspeler. Sy held was die legendariese Bok-agtsteman Hennie Muller, wat vanweë sy vaart as Windhond bekend gestaan het.

“Ek het met Hennie se boek, Tot Siens to Test Rugby, onder my kopkussing geslaap.

“Daardie jare se rugbyreëls het losvoorspelers heelwat minder aan bande gelê, en Hennie was beroemd daarvoor dat hy met sy spoed opposisie-agterlyne man vir man kon afmaai.”

McIntosh se loopbaan as losvoorspeler is op ’n jong ouderdom reeds deur ernstige kniebeserings aan bande gelê.

“Ek het vir Matabeleland gespeel en is uitgenooi na die Rhodesië-proewe, maar ’n week voor die proewe het ek ’n kniebesering opgedoen, en het kort daarna ook die ander knie beseer.

“Dit het die einde van my loopbaan beteken, en ek was skaars 21 jaar oud. Dit het gevoel of die einde van die wêreld aangebreek het.”

McIntosh, toe ’n onderwyser, wou betrokke bly en het opgang gemaak as breier van Gifford High School, die Queens-rugbyklub en Matabeleland, voordat hy in 1971 die leisels as afrigter van Rhodesië oorgeneem het.

“Die hoogtepunt was toe Rhodesië die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks in 1973 gehaal het.

McIntosh tydens die Haaie se oorwinning oor Transvaal in die Curriebeker-eindstryd van 1996 op Ellispark. Foto: Gallo

“Ons moes met 7-20 die knie buig teen Noord-Transvaal, maar het die jaar vantevore die einste Ligbloues met 29-8 kafgedraf.”

In 1984, het McIntosh Durban toe verhuis. Dit was ’n skuif wat sy loopbaan en lewe drasties sou verander.

“Ek het opgehou afrig en vir Nasionale Brouerye gewerk toe ek ’n oproep van Rod Gould, die destydse visepresident van die Natalse Rugbyunie, ontvang het.

“Die pos van afrigtingsorganiseerder het vakant geraak toe Roger Gardner as hoofbestuurder aangestel is. Ek het dit egter aanvanklik van die hand gewys, aangesien ek so pas ’n taamlike bevordering by Brouerye ontvang het.

“Namate ek en Rona dit oordink het, het ons egter tot die besef gekom dat dit toenemend moeiliker sou raak om die seuns universiteit toe te stuur as ons in Zimbabwe bly, en toe Gould weer bel, het ek die NRU se aanbod aanvaar.

“Dit was voorwaar die Here wat daardie deur vir ons oopgemaak het.”

Benewens die vier Curriebeker-titels wat hy ingepalm het, het McIntosh nege jaar ná sy aankoms in Suid-Afrika in 1993 die Bok-breier geword.

“Gerrie Sonnekus is aanvanklik aangestel, en ek as afrigter van die SA A-span, maar hy moes bedank te midde van aantygings van wanbesteding van geld in Vrystaat-rugby.” Drie jaar later, in 1997, is Sonnekus in ’n hof van enige onregmatighede kwytgeskel.

“Die Rugbyraad het dus nie ’n ander keuse gehad nie as om my as Sonnekus se plaasvervanger aan te stel, maar my aanstelling was nie eenparig verwelkom nie.

“Benewens die feit dat ek Engelssprekend was, het ek nooit self vir die Springbokke gespeel nie en ek was van Zimbabwe.

“Ek is as ’n buitestander beskou, hoewel my ouers inderwaarheid Suid-Afrikaners was – my pa was van Newcastle en my ma van Matatiele.”

Tot vandag toe het ek nog nie ’n amptelike verklaring ontvang oor my afdanking in 1994 nie; ek moes maar daaroor lees in die pers.

McIntosh het nietemin met die kenmerkende Mac-passie aan die werk gespring en, hoewel sy rekord as Bok-afrigter dit miskien nie weerspieël nie en hy in 1994 op omstrede wyse afgedank is, in ’n mate tóg die grondslag gelê vir Suid-Afrika se onvergeetlike WB-triomf in 1995.

In reeksnederlae teen die Wallabies in 1993 en die All Blacks in 1994, was die punteverskille in die reekse onderskeidelik slegs agt en 12 punte. Inteendeel, McIntosh se Bokke het die Aussies met sewe drieë teen vier getroef, terwyl die drieë-telling in die reeks teen die Kiwi’s met 3-3 gelykop was.

“Ons het albei reekse slegs met skoppe verloor.

“As mense egter van jou ontslae wil raak, sal hulle enigiets soek om jou in ’n slegte lig te plaas, en dis hoekom ons toer na Nieu-Seeland in sommige kringe as ’n ramp uitgemaak is.

“Veral die manier waarop ek die trekpas gekry het, het ’n wrang smaak gelaat.

“Oor die jare moes ek gereeld spelers pos, maar dan is aan die speler verduidelik hoekom hy uit die span gelaat is.

“Tot vandag toe het ek nog nie ’n amptelike verklaring ontvang oor my afdanking in 1994 nie; ek moes maar daaroor lees in die pers.”

McIntosh het hom nie deur die teleurstelling laat onderkry nie, en die Haaie in 1995 en 1996 tot twee agtereenvolgende Curriebeker-titels gelei.

“Dit was ’n ongelooflik talentvolle groep spelers, wat almal ingekoop het in die konsep van direkte rugby, toe nog ’n nuutjie in SA rugby.”

Met ikone van nie net die Haaie nie, maar ook Springbokrugby, soos André Joubert, Henry Honiball, Gary Teichmann en Mark Andrews in hul geledere, het die Durbaniete die rekordboeke herskryf, met mylpale soos die meeste punte (792) en meeste drieë (112) in ’n seisoen.

Die Haaie het ook groot karakters opgelewer.

“Ouens soos John Allan en Dick Muir kon lekker ondeund wees,” lag McIntosh.

“Ek was baie gesteld op stiptelikheid by oefeninge en op ’n slag in Queenstown, Nieu-Seeland, toe ek die fluitjie blaas vir die oefening om te begin, het ek gesien John is nie daar nie.

‘Ek gee nie om dat julle biere bestel het nie,’ het ek gesê, ‘maar daar’s nie een vir my nie!’

“Die volgende oomblik was daar ’n dowwe plofgeluid agter my. Dit was John wat met ’n valskerm reg agter my geland en van hom laat hoor het: ‘Ek’s nie laat nie, Mac!’

“Dan was daar die keer in ’n Johannesburgse hotel aan die vooraand van ’n belangrike wedstryd teen Transvaal. Ek het tydens aandete die span gewaarsku teen enige vorm van rinkink.

“ ’n Rukkie later, op pad na my kamer, het ek ’n kelner gewaar met twee biere op ’n skinkbord. Ek het hom gevra watter kamer dit bestel het, die skinkbord met die biere by hom oorgeneem en selfs sy servet oor my voorarm gedrapeer.

“Só klop ek toe aan Dick Muir en Errol Stewart se kamerdeur. Errol was nog ’n groentjie en het hom boeglam geskrik toe hy die deur oopmaak.

“ ‘Ek gee nie om dat julle biere bestel het nie,’ het ek gesê, ‘maar daar’s nie een vir my nie!’

“Dick het nog ’n bier bestel en die drie van ons het lekker saam gelag oor die petalje.”

Meer oor:  Albert Heenop  |  Wat Het Geword Van  |  Ian Mcintosh  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.