Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curwin gee Haaie sterk buitekans
Gaan Curwin Bosch se skopstewel die Bulle in Saterdag se Curriebeker-eindstryd op Loftus Versfeld tem? Foto: Gallo Images

Die Bulle sal die gunsteling wees vir die Curriebeker-eindstryd, maar die Haaie het Saterdag gewys dat hulle oor ’n bloudruk beskik om sukses in uitkloprugby te behaal. En bowenal het hulle vir Curwin Bosch.

“Dis ongelooflik hoe Curwin hierdie seisoen vaar. Hy het nou al ’n paar keer vir ons die wa deur die drif getrek. Sy strafdoele en skepdoel was die bepalende faktor,” het Sean Everitt, afrigter van die Haaie, gesê nadat sy span die Westelike Provinsie met 19-9 in hul halfeindstryd op Nuweland geklop het.

Die Haaie was ná net 11 minute reeds met 9-0 voor ná drie langafstand-strafdoele deur Bosch, een daarvan ’n monster-poging van by die 60 meter. Hou in gedagte dat dié wedstryd op kusvlak gespeel is en die bal nie naastenby so ver en sierlik deur die lug trek as op die Hoëveld nie.

“Curwin se selfvertroue het die hoogte ingeskiet danksy die gereelde speelkans wat hy op losskakel kry en sy skopwerk het in die proses ook beter geraak. Ek is baie trots op sy vertoning,” het Everitt gesê.

Was dit egter nie vir die voorspelers se manmoedige verdediging van die WP se rolmaalbewegings nie, sou Bosch se korrelwerk straks nie genoeg gewees het nie.

Buiten die eerste 10 minute, het die WP die eerste helfte oorheers, maar die Streeptruie kon nie hul aanvallende lynstane in punte omskep nie.

In die proses is die Kapenaars se voorspelbaarheid en eendimensionele aanslag ook lelik aan die kaak gestel.

Everitt het bevestig dat daar ’n sterk fokus op die stuit van rolmaalbewegings in hul voorbereiding was.

“Ons het die laaste twee weke gepraat oor hoe die wedstryd voorlangs gewen sou word. Ons het geweet dis ’n sterkpunt van die WP en hulle het deur die loop van die Curriebeker-reeds baie drieë van rolmaalbewegings af gedruk. Ons het daarin geslaag om die WP se sterkpunte te neutraliseer,” het Everitt gesê.

Die Haaie het ook geluk aan hul kant gehad met die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, wat aanvanklik traag was om hulle met geelkaarte vir hul herhaalde oortredrings te straf. Ox Nche het ná ’n halfuur uiteindelik die trekpas hiervoor gekry.

“Ons het in die week oor dissipline gesels, maar ongelukkig het dit nie in daardie opsig goed gegaan in die eerste helfte nie. Met rustyd het ons reeds 11 strafskoppe afgestaan,” het Everitt gebieg.

Hulle is ’n sterk span en wissel hul spel af met goeie teenaanvalle en speel goed van omkeerbesit af.
Sean Everitt

“In die tweede helfte was ons meer klinies in ons aanpassing by die reëls. Ons verdediging was puik.

“Ek dink ons was nogal gelukkig om lig daarvan af te kom in die halfuur wat die WP naby ons doellyn kamp opgeslaan het, maar dis waar die spelers krediet verdien vir die oorgawe waarmee hulle verdedig het.”

Wat die Bulle as teenstander vir die eindstryd betref, sê Everitt die Pretorianers het ’n “oorheersende pak”.

“Hulle is ’n sterk span en wissel hul spel af met goeie teenaanvalle en speel goed van omkeerbesit af,” het hy gesê.

“Als kom egter neer op druk by die afbreekpunte. Marco van Staden en Duane Vermeulen maak hulle baie gedug in daardie area. Dis ’n afdeling waar ons sal moet opskerp,” het hy gesê.


Meer oor:  Curwin Bosch  |  Haaie  |  Sean Everitt  |  Wp  |  Nuweland  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.