
Curwin Bosch, Speler van die Wedstryd, het 14 van die Haaie se 19 punte met die stewel aangeteken. Foto: Gallo Images
Die Westelike Provinsie moes in sy laaste Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland die knie voor Curwin Bosch se kanonpoot buig.
Dis hartseer dat dit só vir die Streeptruie ná meer as ’n eeu en ’n kwart op hul tuisveld moes eindig en dit kon maklik anders gewees het in ag genome al die geleenthede wat die Kapenaars veral in die eerste helfte gehad het.
Maar die Haaie het hulle oorwinning van 19-9 verdien. Hulle het niks skouspelagtig gedoen nie, maar dis selde die bepalende faktor in uitspeelrugby. Jy móét goed kan verdedig, akkuraat wees in jou uitvoering en iemand in jou midde hê wat die telbord aan die rol kan hou.
Dít het die Haaie in Bosch gehad en ná slegs 11 minute verstreke, was die telling reeds 9-0 in hul guns danksy sy drie langafstand-strafdoele.
Daarna het die WP die eerste helfte oorheers, maar talle pogings tot rolmaalbewegings in die Haaie se kwartgebied het op niks uitgeloop nie.
Daarvoor verdien die besoekers baie krediet. Hulle het geweet wat gaan kom en kon diep genoeg delf om die WP te keer.
Vir die WP se afrigtingspan is die les hier sekerlik dat hulle ’n meer afgeronde spelpatroon gaan moet kweek. Die WP vaar baie goed in die stryd om veldgebied, maar daar’s bitter min ondernemingsgees by die Kapenaars te bespeur.
Selfs toe die Haaie ná ’n halfuur se spel vir Ox Nche weens herhaalde oortredings met ’n geelkaart verloor het, kon die WP nie aan die gang kom op die aanval nie.
Vooraf was die groot vraag of Ali Vermaak sy man op loskopstut sal kan staan in die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff se afwesigheid, en behalwe vir die eerste skrum het hy dit baie goed gedoen.
Die WP het kort ná rustyd gelyk getrek danksy Tim Swiel se derde strafdoel.
Maar die Haaie het goed op die terugslag gereageer en was in die tweede helfte gemaklik die sterker span.
Bosch het hulle weer die voorsprong met ’n skepdoel gegee en daarna het die WP se dissipline tot so ’n mate begin lol dat Ernst van Rhyn in die 68ste minuut vir herhaalde oortredings die trekpas gekry het.
Om in die pylvak van ’n wedstryd van ’n speler ontneem te word, is natuurlik ’n yslike slag en dit het die Haaie die geleentheid gegee om die dolk deur die WP se harte te druk.
Die man wat die WP vir ’n laaste keer op Nuweland planke toe gestuur het, was JJ van der Mescht, wat oor die doellyn gebeur het nadat die Haaie se voorspelers die bal geduldig opgeneem het.
Puntemakers:
Haaie 19 (9): Drie: JJ van der Mescht. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch (3). Skepdoel: Bosch.
WP 9 (6): Strafdoele: Tim Swiel (3).