Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Curwin Bosch se oë glinster weer’

In ’n eindstryd is ’n vleuel se werk om ’n ambagsman, eerder as ’n towenaar, te wees.

Dít is presies wat Sbu Nkosi bereid is om in die Curriebeker-eindstryd tussen die Haaie en Bulle Saterdag op Loftus Versfeld te doen.

Sbu Nkosi, die Haaie-vleuel, by ’n oefening in Durban. Foto: Gallo Images

“Die konserwatiewe aard van uitspeelwedstryde is nie aan die druk van die geleentheid te wyte nie, maar van die adrenalien en aandag wat aan detail geskenk word. As almal 100% konsentreer op die verdediging, is dit moeilik om gapings te vind,” verduidelik Nkosi.

“Ons wil liewer op die wedstryd as individuele geleenthede fokus. As die kans daar is om te hardloop, kan ons dit doen. As ons konserwatief moet speel, sal ons.

“Ons leuse is om die ruimte te vind. As die ruimte op die gras agter die verdediging is, sal ons daar speel. As ’n vleuel wil jy steeds jou stempel afdruk, maar in ’n taai wedstryd doen jy dit op ’n ander manier.

“Uitspeelwedstryde word gewen deur die span wat die minste foute begaan. In ’n uitspeelwedstryd fokus ek meer op die fundamentele aspekte van my spel as op my X-faktor.”

Die Bok-vleuel kom moontlik teen twee indrukwekkende groentjie-vleuels van die Bulle, Stravino Jacobs en Kurt-Lee Arendse, te staan.

“Hulle is albei baie goeie spelers, anders sou Jake White hulle nie gekies het nie. Hulle gaan met baie energie speel, soos wat groentjies gewoonlik doen.

“Ons almal leer deurlopend en ek is al so effens verder in die reis, so ek het al ’n paar goed opgetel wat hulle nog moet leer. Ek sal hulle Saterdag met agting benader en speel asof ek teen die beste vleuel in die wêreld speel.”

Die Bulle het ’n wêreldklas-afrigter en wêreldklas-spelers en hulle sal ons met die nodige agting betoon, want hulle weet ons sal dieselfde doen.
Sbu Nkosi

Die vleuels aan albei kante kan Saterdag in ’n interessante lug-tweestryd gewikkel wees. Hang- en dwarsskoppe word verwag.

Vir die Haaie speel Curwin Bosch tans uitstekende rugby: “Ek kan weer die glinstering in sy oë sien. Hy is aan die brand op die oomblik. Alles waaraan hy met sy skopstewel raak, verander in goud. Ek wil vir hom soveel as moontlik selfvertroue gee en ons wil hom kanse gee om pale toe te korrel, want hy skop alles oor.”

Maar die Bulle het in Morné Steyn en Chris Smith ook twee losskakels met geleerde stewels, wat veral daarvan hou op hul vleuels met dwarsskoppe te voed.

“Albei die Bulle se losskakels is puik skoppers. Hulle kry hul span in die regte gebiede van die veld. In moderne rugby is die dwarsskop iets wat deur alle spanne gebruik word. Ons oefen elke week om dit teen te werk en om dit self te gebruik.”

Nkosi sê die Haaie wil die reeks wen om al die opofferings van die Covid-jaar te regverdig. Hulle is die buiteperd, maar steur hulle nie veel daaraan nie. Hulle verwag ’n verwoede stryd.

“Die Bulle het ’n wêreldklas-afrigter en wêreldklas-spelers en hulle sal ons met die nodige agting betoon, want hulle weet ons sal dieselfde doen.”

Meer oor:  Sbu Nkosi  |  Haaie  |  Bulle  |  Curriebeker-Eindstryd  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.