Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curwin skop Bok-plek los
Curwin Bosch lê aan pale toe tydens die o.20-wêreldtoernooi in Georgië. Foto: getty images

Curwin Bosch is geoormerk om die groot tokse van Frans Steyn in die Rugbykampioenskap te gaan vol staan.

Hy is Saterdagaand op verrassende wyse ten koste van die Kings se Lionel Cronjé as ’n veelsydige agterspeler in die Springbok-groep van 34 spelers vir die Rugbykampioenskap ingesluit.

Hy, Dan du Preez (22) en Warrick Gelant is die nuwelinge in die groep. Du Preez is gekies in die plek van Warren Whiteley, wat ’n liesoperasie moet ondergaan en ses weke buite aksie sal wees.

Du Preez en Jean-Luc du Preez is die tweede stel tweelingbroers wat vir die Bokke speel. Odwa en Akona Ndungane was die eerstes.

Daar is nog niks oor die kapteinskap gesê nie, maar Eben Etzebeth blyk die gunsteling te wees om by Whiteley oor te vat.

Bosch se kanonpoot, wat soos Steyn s’n in die laaste paar oomblikke ’n toets met ’n langafstand-strafdoel of -skepdoel kan wen, was deurslaggewend toe die nasionale keurders tussen hom en Cronjé as Steyn se plaasvervanger moes kies.

Steyn is nie gekies nie om hom ’n kans te gee om saam met sy Franse klubspan, Montpellier, vir die nuwe seisoen voor te berei.

Cronjé, wat hom dié week by Jake White se Japanse klubspan, Toyota Verblitz, aangesluit het, se aanvallende spel was vanjaar ’n uitstaande kenmerk in die Kings se onverwagse goeie vertonings in die Superreeks.

Die 20-jarige Bosch is egter met die oog op 2019 se Wêreldbekertoernooi gekies. Hy is waarskynlik ingesluit op grond van sy vertonings vir die Haaie, eerder as vir die Junior Bokke in die Junior Wêreldtoernooi.

In die Haai-trui speel hy met selfvertroue. Hy is ’n opwindende aanvaller en het die gevaarlikste skopskoen van enige Suid-Afrikaanse speler. Sy suksessyfer van 83% met sy stelskopwerk in vanjaar se Superreeks is juis beter as dié van Elton Jantjies (77% voor die eindstryd) en Cronjé (76%). Bosch se 151 punte is ook die tweede meeste in vanjaar se Superreeks.

Cronjé kan hom egter tog as ongelukkig ag, ofskoon Bosch se veelsydigheid as ’n heelagter en losskakel deurslaggewend was.

Bosch se vertoning vir die Ju­nior Bokke in Georgië was teleurstellend. Gemeet aan

sy spel in Junie sou min ondersteuners hom ’n kans gegun het om die Rugbykam­pioenskap-groep te haal.

Die keurders het waarskynlik gedink Bosch se spelskeppende vermoëns weeg swaarder as sy brose verdediging.

Weens beserings moes die keurders kopkrap oor hul twee losskakels, Bosch en Jantjies.

Handré Pollard is in die Bok-groep ingesluit, maar dit is grootliks omdat hy vir eers ’n rehabilitasieprogram in die kamp sal volg. Pat Lambie (harsingskudding) is soos Pollard nie oorweeg vir 19 Augustus se toets teen die Argentynse Poemas in die Baai nie.

Robert du Preez, die ander sterk aanspraakmaker op die nr. 10-trui, herstel nog van ’n besering.

Pollard is ook nie die enigste beseerde waaroor kommer in die Bok-kamp bestaan nie. Beast Mtawarira sal sy fiksheid voor die toets in Port Elizabeth moet bewys. En Steven Kitshoff kan dalk nog weens Mtawarira se nekbesering die loskopstut wees.

Nog ’n verrassing in die Bok-groep is die weglating van Ruan Combrinck. Hy was nou wel nie gister op sy beste in die Superrugby-eindstryd nie, maar was kookwater in die kwart- en halfeindstryd. Hy kan hom ook as baie ongelukkig ag.

Die opwindende 22-jarige Gelant se goeie spel in die Superreeks en SA A-span, is wel deur die keurders raakgesien. Daar was aanvanklik twyfel oor sy insluiting toe hy nie na die mediese en kondisioneringskamp in Stellenbosch genooi is nie.

Dié speler kan ook as ’n vleuel op toetsvlak oorweeg word.

In ’n interessante verwikkeling in die Bok-groep, is Trevor Nyakane ten koste van Ruan Dreyer ingesluit.

Nyakane, wat aan albei kante van die skrum kan speel, het die reeks teen Frank-

ryk misgeloop.

Dreyer word tydens die Rugbykampioenskap pa en kan weer later betrek word.

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Frans Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.