Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cyle wag vir Straeuli se ja oor Leicester

Die Leeus kan Cyle Brink volgende week die finale ja-woord gee om sy loopbaan by die Engelse klubspan Leicester Tigers voort te sit.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, wil eers met Rassie Erasmus beraadslaag oor Brink se toekoms – omdat hy steeds in die groter Bok-prentjie is – alvorens hy die losvoorspeler die groen lig sal gee.

Cyle Brink

Die 26-jarige losvoorspeler sal slegs toegelaat word om Johannesburg vroeër as die amptelike einddatum van sy kontrak in Oktober te verlaat as hy tot sekere voorwaardes instem.

Dit sal onder meer insluit dat die Leeus vorentoe die eerste opsie het om hom terug te lok en hy moet vooraf die nodige mediese goedkeuring kry.

Brink sukkel tans met ’n Achilleshielbesering wat hom van die speelveld af hou. Hy beskou volgens ’n ingeligte ’n skuif na Engeland as ’n vars begin vir hom ná die frustrasies met sy beserings.

Hy was twee jaar gelede op die randjie van insluiting in die Bokspan toe ’n nekbesering verhinder het dat hy sy toetsbuiging maak. Hy het ook verlede jaar met kniebeserings gesukkel.

Sy beplande skuif is ’n terugslag vir die Leeus, maar daar is darem ook goeie nuus vir die ondersteuners van die franchise.

Jaco Kriel het van sy enkelbesering herstel en kan Vrydag sy terugkeer vir ’n Leeu-vyftiental in ’n oefenwedstryd teen sy eweknie van die Haaie maak. Hy kan as ’n plaasvervanger vir die wedstryd gekies word.

Die 30-jarige Kriel het in Desember ’n enkeloperasie ondergaan en oefen die afgelope tyd voluit saam met sy spanmaats nadat hy hom vroeër vanjaar van Gloucester by die Leeus aangesluit het.

Straeuli het gister aan Rapport gesê Kriel kan vir die Leeus se Super-tuiswedstryd op 28 Maart oorweeg word.

Straeuli het terselfdertyd bevestig dat hulle goeie aanbiedinge aan Wandisile Simelane en Tyrone Green gemaak het om hulle loopbane in 2021 op Ellispark voort te sit.

“Ek glo dat ons albei die spelers (Wandisile en Tyrone) sal behou,” het Straeuli gesê.

Die Leeus ontken ook dat hulle hul Bok-slot Marvin Orie kan verloor.

Hy het vroeër belangstelling van die Franse klubspan Castres geniet, maar daardie gesprekke het doodgeloop.

Meer oor:  Leicester Tigers  |  Leeus  |  Rudolf Straeuli  |  Cyle Brink  |  Uitvoerende Hoof  |  Loopbaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.