Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
D-dag vir Cheetahs: Daar is hoop!

Daar is steeds ’n tikkie hoop vir die Toyota Vrystaat Cheetahs.

’n Voorstel gaan Dinsdag op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se vergadering ingedien word wat die Cheetahs ’n voet in die agterdeur van die Pro-reeks in Europa kan gee.

Die voorstel is dat vyf Suid-Afrikaanse franchises deel van die Pro16-kompetisie uitmaak met een span wat elke jaar uitsit.

Die Cheetahs sal dan die eerste jaar uitsit, maar dan die tweede jaar speelkans kry.

Joggie Jansen (72), een van die beroemdste Springbok- en Vrystaat-rugbyspelers, het die optog as deel van Oranje-Maandag bygewoon om die Vrystaat Cheetahs te ondersteun aan die vooraand van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se vergadering waar oor die toekoms van provinsie se span besluit gaan word. Hy het die 1976-Vrystaatspan verteenwoordig wat die Curriebeker die eerste keer gewen het. Foto: Charles Smith

Die Curriebekerreeks sal bepaal watter span vanaf 2023 elke jaar uitval.

Die rugbyunies wat dié voorstel steun, sal hoop dat dit 75% stemme kry, het ingeligtes na aan die onderhandelings aan Netwerk24 gesê.

Andersins sal hulle hoop die Vrystaat-groep is sterk genoeg om die meerderheid se voorstel dat net die vier huidige Super-spanne, die Bulle, Stormers, Haaie en Leeus, deelneem, onder 75% te dwing, sodat verdere onderhandelings moet plaasvind.

As die voorstel aanvaar word, kan dit ’n reddingsboei vir Vrystaat-rugby wees. Die franchise kan met sy borge onderhandel, sy spelers betaal en die Vrystaat-stadion in stand hou.

Hoewel dit een van verskeie voorstelle op die tafel sal wees, is die hoop dat redelikheid sal seëvier en die besluit nie net sal wees om die Cheetahs die tweede keer uit ’n buitelandse kompetisie te skop nie.

Dit gaan egter nie maklik wees nie. Die groot unies dink volgens ingeligtes net aan hulself.

“Dit gaan ’n taamlik ernstige geveg wees,” het een rugbybeampte gewaarsku.

Dit het nietemin vir ’n tikkie hoop op Oranje-Maandag gesorg met honderde Cheetah-ondersteuners wat ’n verbyry-demonstrasie op die N1-snelweg buite Bloemfontein gehou het om hul span te ondersteun.

’n Cheetah-speler het hier gesê hul toekoms hang letterlik van Saru se besluit af.

“Ek het vir my vrou en kinders gesê ek weet nie of ek ná Dinsdag nog ’n werk en salaris gaan hê nie. Ons as spelers het vir mekaar gesê ons speel nou elke wedstryd nie net om te wen nie, maar vir ons lewens.”

Die spelers hoop ook die regstryd om die Vrystaat Cheetahs se regte te beskerm kan oor die volgende agt maande uitgerek wees en hulle ’n bietjie hoop gee vir die toekoms deurdat hulle op die veld kan wys wat in hulle steek.

Sonder die Vrystaat gaan Suid-Afrikaanse rugby skade ly.

Kommer is Maandag opnuut in rugbykringe uitgespreek dat ’n besluit om die Cheetahs uit te skop verreikende gevolge vir die streek kan hê.

Borge gaan dadelik hul beursies toeknyp. Die Vrystaat-stadion kan leegstaan en selfs geplunder word.

Van die beste spelers kan oornag hul opsie uitoefen om hul kontrakte te beëindig. Dit kan selfs die Cheetahs se Curriebeker-veldtog as huidige kampioen ’n ernstige knou gee nog voordat dit afskop.

Joggie Jansen, wat die Vrystaat se wenspan in 1976 se Curriebeker in die Oranje-Maandag-optog verteenwoordig het, het trots met sy Cheetah-trui naby die Curriebeker gestaan.

As hy op die nippertjie ’n boodskap aan Saru kon stuur, sal hy die beamptes vra om mooi te dink voordat hulle ’n drastiese besluit neem.

“Sonder die Vrystaat gaan Suid-Afrikaanse rugby skade ly. Dit gaan ’n valerige besigheid word as hulle nie hierdie voedingsbron bly behou nie.

“Asseblief, manne, dink weer, dink mooi en dink positief vir die Vrystaat. As julle vandag net sien hoe geesdriftig die mense is, sal julle die regte besluit neem.”

Meer oor:  Toyota Vrystaat Cheetahs  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.