Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Daai têkkel het ‘lekker gevoel’, sê Joggie

As jong seun het ’n demonstrasie van ’n behoorlike duikslag ’n geweldige indruk op Joggie Jansen gemaak – in so ’n mate dat hy dit ook wou doen.

Die 71-jarige Jansen, wat toe later as Springbok-senter beroemdheid verwerf het vir ’n plettervat op die All Black Wayne Cottrell in 1970 in Pretoria, was verlede week ’n gasspreker op ’n manne-aand in die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein.

Joggie Jansen in sy speeldae in aksie vir die Springbokke. Foto: Gallo Images

Dit was seker onvermydelik dat die gespreksleier, Pieter Möller, Jansen sou vra waar hy geleer het om so te duik.

“In 1965, toe ek 16 jaar oud was, het ek in my eerste Cravenweek-toernooi (vir Griekwas) gespeel. Met my tweede Cravenweek het hulle oud-Springbokke daar gehad om te help.

“Kan julle vir Ryk van Schoor en Tjol Lategan (die beroemde senterpaar van die laat 1940’s en vroeë 1950’s) onthou? Hulle was ouens wat kon duik. Van Schoor het ons so ’n bietjie van têkkel vertel en hy het toevallig op my gedemonstreer hoe so ’n duikslag uitgevoer word. Dit het vir my regtig lekker gelyk en gevoel,” het Jansen gesê, wat die Bokke in tien toetse verteenwoordig het.

Hy het gesê Mannetjies Roux, wat Griekwas aangevoer het toe hulle in 1970 die Curriebeker gewen het, was die beste senter saam met wie hy ooit gespeel het.

Jansen het ook die gehoor laat lag met sy antwoord op Möller se vraag of hy en die spelers uit sy era “nog kontak, dalk ’n WhatsApp-groepie, met mekaar het”.

“Nee,” het hy vinnig geantwoord. “My vingers is te groot.”

Nog twee groot geeste van Vrystaatse rugby, Tat Botha en Casper Wessels, het ook staaltjies uit die verlede gedeel.

Agter van links: Joggie Jansen (oud-Springbok), Herman van der Merwe (skoolhoof van Hoërskool Fichardtpark), Casper Wessels (oudspeler van die Vrystaat). Voor is die oud-breier Tat Botha. Foto: Marnus Kok

Botha, wat hom veral bewys het as afrigter van die Vrystaat se junior spanne en ook Suid-Afrika se o.21-span gebrei het, het vertel hoe hy skolespelers na die sentrale streek gelok het.

“Dit was eintlik maklik om jong spelers na die Vrystaat te lok. Want as ek na jong spelers gegaan het, het ek net gevra of hulle saam met Joggie Jansen of Casper Wessels (oud-senter van die Vrystaat) wil speel. Dan het die spelers onmiddellik ‘ja’ gesê en dan sou ek gesê het: ‘Jou plek is in die koshuis (by Kovsies) bespreek’.

“Ons het maar hoofsaaklik in die Cravenweek-toernooie gaan kyk hoe die spelers speel, dan het ons ons aantekeninge gemaak. Ons het gesoek na spelers wat by Vrystaatse rugby sal aanpas, ouens wat vlugvoetig is. Dan het ons ’n mooi briefie vir hom geskryf en hom vertel wat hier in die Vrystaat aangaan,” het Botha gesê.

Meer oor:  Cravenweek  |  Vrystaat  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.