Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Daar’s plan met Pienaar, paai Hawies

Ondersteuners van die Cheetahs wat die afgelope naweek erg verontwaardig was omdat die Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar weer nie in die beginspan was vir hulle Pro14-wedstryd teen die Southern Kings nie, kan gerus wees. Dit was alles deel van ’n groter plan.

Ruan Pienaar behoort die naweek in die Cheetahs se beginspan te wees teen die Kings in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

So sê die hoofafrigter, Hawies Fourie, wat verduidelik het hoekom die ster van die wedstryd wat hulle met 31-30 in die doodsnikke in Port Elizabeth gewen het, nie van meet af aan op die veld was nie.

Dit was Pienaar (35) se skop in beseringstyd wat die Cheetahs laat wen het, nadat hulle met tien minute se speeltyd oor met 17-30 agter was.

Sy “voetaangee” het tot die heelagter Rhyno Smith se tweede drie gelei, waarna hy die bal met ’n doelskop deur die mikke geklits het vir die oorwinning met ’n enkele punt.

“Ons het verlede jaar reeds onderneem dat Tian Meyer, wat ook die klubkaptein is, in die eerste twee wedstryde van die jaar sal speel, waarna ons vir Ruan weer ’n kans sal gee.

“Hy (Meyer) moet ook wedstrydtyd kry om hom skerp te hou. Dis moeilik as Ruan begin om hom af te haal, want hy is ook die skopper pale toe. As die wedstryd in die weegskaal is, wil jy nie jou skopper afhaal nie en dit is hoekom hy sekere wedstryde begin,” verduidelik Fourie.

Die Cheetahs is in die Baai lamgelê deur spelers wat die veld met bloed moes verlaat het en dit het daartoe bygedra dat die senter William Small-Smith dit nie gemaak het om betyds terug op die veld te kon kom nie.

“Daar is een dokter en toe William afgegaan het, was daar drie spelers wat af is met bloed en hy kon nie die steke betyds kry om terug te kom nie.

“Toe kry Tian Schoeman die geelkaart en Benhard (Janse van Rensburg) moes gaan losskakel speel en Clayton (Blommetjies) moes buitesenter gaan speel, so ons moes maar aanpas.”

Die Kings se waarnemende hoofafrigter, Robbi Kempson, het ná die wedstryd behoorlik gal gebraak oor die Cheetahs se geniepsige spel.

Dit was nie ons plan om hulle te intimideer of in onderonsies betrokke te raak nie en ek is seker dit was ook nie hulle plan nie.
Hawies Fourie

Fourie sê hy gee egter nie om wát die Kings oor die stryd sê nie, aangesien alles op die veld van twee kante af kom.

“Dit was nie ons plan om hulle te intimideer of in onderonsies betrokke te raak nie en ek is seker dit was ook nie hulle plan nie.

“Individue het soms ’n punt om te bewys of iemand voel hy is te na gekom en dan ruk en pluk spelers aan mekaar. Ons het in elk geval met meer bloed en snymerke van die veld gekom, so hulle het niks om oor te kla nie,” sê Fourie.

En wat gaan die Cheetahs maak in die herontmoeting Saterdag in Bloemfontein?

“Ons moet bou op wat ons goed gedoen het en die foute wat daar was, regstel. Die aantal hanteerfoute wat ons gemaak het, is vir my die grootste probleem. Ons het ook te veel besit afgestaan.

“Die bal het ook te stadig by die afbreekpunte uitgekom en die Kings kon toe hul verdediging organiseer, wat druk op ons geplaas het.”

Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Kings  |  Hawies Fourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.