Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dalk geen Engeland-afrigters

Die Britse en Ierse Leeus se afrigtingspan gaan glo vir die eerste keer hierdie eeu nie ’n enkele lid van Engeland se groep insluit nie.

Warren Gatland Foto: Getty Images

Luidens die Britse publikasie The Guardian word daar verwag dat Warren Gatland volgende week sal aankondig wie hom as assistente gaan bystaan tydens die toer na Suid-Afrika.

Engeland se verdedigingsafrigter John Mitchell was glo aanvanklik deel van die planne met selfs Eddie Jones wat in Desember gesê het dat hy sy hulpafrigter sal aanmoedig om by die Leeus aan te sluit indien hy gevra word.

Matt Proudfoot, wat die Springbokke se voorspelers gebrei het tydens 2019 se suksesvolle aanslag by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan, was voorheen ook as ’n moontlike kandidaat gesien, veral gegewe sy kennis oor die wêreldkampioene, maar daar word nou geglo dat Gatland eerder op ander knoppies gaan druk.

Dit kan ook ’n invloed hê op die spelers wat eindelik gekies word.

Ná Engeland se swak vertoning in die Sesnasies-reeks, waar hy vyfde geëindig het nadat hy vir die eerste keer sedert 1976 in ’n kalenderjaar teen Wallis, Skotland en Ierland vasgeval het, sal die grootste gros van die groep moontlik nie meer uit die Rose se geledere kom nie.

Gatland het boonop reeds aangedui dat die spelers wat in Engeland gebaseer is en nie beskikbaar vir die opwarmingswedstryd teen Japan op 26 Junie gaan wees nie, soos die Engelse Premierliga se regulasies vereis, dit ook hul kanse kan knou om in die groep ingesluit te word wanneer dit tot 36 spelers verklein word.

Gatland sal na verwagting op die knoppies van Gregor Townsend druk as sy aanvalsafrigter en waarskynlik met Steve Borthwick (voorspelers), Graham Rowntree (skrum) en Neil Jenkins (skoppe) volhard.

Sou Mitchell oor die hoof gesien word as verdedigingsafrigter, kan Andy Farrell vir die derde agtereenvolgende toer hierdie posisie beklee.

Ofskoon Borthwick, Rowntree en Farrell voorheen al as afrigters vir Engeland opgetree het, is geen van Gatland se eerste keuses tans deel van die Engelse groep nie.

Dit kan die eerste keer sedert 1997 wees wat geen afrigter van Engeland gekies word nie.

Farrell was ’n belangrike deel van die Britse en Ierse Leeus se spanne in 2013 en 2017.

Sy verantwoordelikhede as hoofafrigter van Ierland kan egter ’n hekkie wees met die Iere wat binnekort moontlik na die Stille Oseaan-eilande gaan toer. – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.