Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP se Damian klou vas aan Bok-droom

Damian Willemse het nog nie die skrif aan die muur gelees vir sy kanse om die Springbokke se Wêreldbeker-groep te haal nie.

Damian Willemse in aksie by ’n oefensessie van die Westelike Provinsie op Nuweland Woensdag. Foto: Gallo Images

Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, maak Maandag sy uitsoekgroep van 31 bekend en met dié dat Willemse nie vandeesweek saam met die Bokke in Bloemfontein by ’n oefenkamp is nie, kan daar seker aanvaar word dat sy visier eerder maar op 2023 se skouspel in Frankryk moet wees.

Maar volgens die Westelike Provinsie se afrigter, John Dobson, droom sy losskakel vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein steeds groot.

“Damian is van die veld af ’n spesiale seun. Hy’s nie jou alledaagse losskakel nie. Hy dink diep oor die spel en die lewe. Ek het met hom gesels en sy benadering is dat dinge in sy hande is,” sê Dobson.

“As hy Saterdag in Bloemfontein skitter, kan hy dalk nog vir die nasionale keurders hoofpyne besorg. Hy het die WB-toernooi in gedagte en dis die regte ingesteldheid.”

Willemse se vermoë om sowel heelagter as losskakel te speel, maak van hom ’n aantreklike opsie, maar hy het verlede naweek teen Griekwas eers sy terugkeer van ’n kniebesering gemaak wat hy in die Superreeks opgedoen het. Die gevolg is waarskynlik dat hy vir eers die bus verpas het, maar op Erasmus se kortlys sal wees indien ’n losskakel of heelagter tydens die WB-toernooi beseer raak.

As hy Saterdag in Bloemfontein skitter, kan hy dalk nog vir die nasionale keurders hoofpyne besorg.

Indien Willemse nie by die agterdeur inglip nie, gaan hy hom waarskynlik op kort termyn as ’n leenspeler by die Engelse klub Saracens aansluit.

Uit die perspektief van die Stormers klink dit dalk soos ’n effense roekelose skuif, gegewe dat hy in aanstaande jaar se Superrugby-reeks hul voorkeur-losskakel gaan wees. Dobson meen egter Willemse kan daarby baat, veral omdat hy vanjaar heelagter moes speel en gevolglik nie sy spel op losskakel ontwikkel het nie.

Selfs al lyk dit onwaarskynlik, glo Damian Willemse steeds hy kan ’n Springbok-baadjie in Japan dra. Foto: Gallo Images

“Dit sal baie goed wees, want in Europa is daar ’n groot klem op taktiese skopwerk. Saracens is die span wat verreweg die beste skop. Die omgewing daar is ook fantasties,” sê Dobson.

“Damian se eerste doelwit is om Saterdag te wen en so goed as moontlik te speel. As hy nie die WB-groep haal nie sal hy aan Saracens begin dink. Dis die regte benadering.”

Willemse het met sy terugkeer ’n onmiddellike impak van die plaasvervangersbank af gemaak in verlede naweek se nederlaag teen Griekwas.

Saterdag sal hy uit die staanspoor die generaal in die WP se aanslag wees en gegewe die druk op die Kapenaars om in hul laaste ligawedstryd ’n plek in die halfeindronde los te speel, sal Willemse dalk die gevaar loop om te veel op sy eie te probeer doen. Die Cheetahs gaan hom natuurlik ook baie fyn dophou.

Sy lot sal uiteindelik in die hande van sy voorspelers wees, wat moet verseker dat daar vinnige besit by die afbreekpunte is. As Willemse Saterdag genoeg tyd en ruimte kry, kan hy Erasmus dalk nog vir oulaas twee keer laat dink.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Bokke  |  John Dobson  |  Springbokke  |  Damian Willemse  |  Wp  |  Wêreldbekerrugby  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.