John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, meen die losskakel-binnesenter-kombinasie van Damian Willemse en Rikus Pretorius sal sy span se aanval opskerp in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein.

Damian Willemse. Foto: Gallo Images
Willemse en Pretorius vervang onderskeidelik vir Josh Stander en Dan Kriel, wat albei van stryk was in verlede naweek se nederlaag teen Griekwas in Kimberley.
Kriel kon weens ’n enkelbesering nie vandeesweek oefen nie, maar sou waarskynlik in elk geval vir Pretorius plek gemaak het omdat Dobson sy diepte wil uitbou.
“Dis ’n balanseertoertjie. Met Damian de Allende wat ons verlaat, gaan ons diepte op senter vir aanstaande jaar se Superreeks uitgedun wees. Soms móét jy dapper wees met jou spankeuses en Rikus verdien dit. Ons speel ons hele veldtog nog met dieselfde senters,” sê Dobson.
“Rikus was skitterend op o.20-vlak. Hy’s groot, speel naby aan die voordeellyn en is baie fisiek. Ek’s opgewonde oor sy insluiting.”
Willemse se insluiting in die beginspan was ’n gegewe ná sy terugkeer van die plaasvervangersbank af teen Griekwas.
“Damian is ’n puik aanvallende losskakel. Jy kon die verskil sien wat hy teen Griekwas gemaak het. Ek verwag dat daar meer vloei in ons spel gaan wees,” sê Dobson.
In die voorry vervang Wilco Louw en Scarra Ntubeni vir onderskeidelik Carlu Sadie en Chad Solomon op vaskopstut en haker.
Dillyn Leyds se terugkeer beteken dat daar nie plek vir Seabelo Senatla in die beginspan is nie, maar dis deels ook omdat hy met tendonitis sukkel. Sergeal Petersen het ’n soortgelyke skeet, wat beteken dat hy en Senatla die 80 minute tussen hulle sal deel.
SP Marais skuif van heelagter af vleuel toe om vir Leyds plek te maak.
Westelike Provinsie: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Rikus Pretorius, SP Marais, Damian Willemse, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, JD Schickerling, Ernst van Rhyn, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, Nama Xaba, Juarno Augustus, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis, Seabelo Senatla.
Curriebeker-bepalings
Curriebeker-puntelys
Curriebeker-uitslae