Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Damian se toekoms lê nie op losskakel’

Curwin Bosch was die beste van die Suid-Afrikaanse Superrugby-spanne se losskakels voordat die seisoen onbepaald opgeskort is weens die Covid-19-pandemie, sê Swys de Bruin.

Dié voormalige Springbok-hulpafrigter en oud-Leeus-breier sê ook hy glo Damian Willemse se toekoms lê dalk liewer op binnesenter of heelagter as in die nr. 10-trui.

Curwin Bosch se peil is die beste van al die Suid-Afrikaanse losskakels in die Superrugby-reeks, sê Swys de Bruin. Foto: Getty Images

“Skoppende spel het vir my uitgestaan, veral omdat spanne so vinnig opskiet op die verdediging. Om te skop vir ruimte en taktiese skopwerk. Die ou wat die beste daarmee is, is Curwin Bosch,” het De Bruin aan Netwerk24 gesê.

Dink hy Bosch moet meer prominent in Springbok-gesprekke genoem word?

“Ja, en ek glo hy is nou op sy plek waar hy moet speel,” sê De Bruin.

Damian Willemse se beste posisie is dalk binnesenter of heelagter, meen Swys de Bruin. Foto: Getty Images

Die rede waarom Bosch so goed speel, is omdat die Haaie baie afwisseling in hul spel het ook oor ’n pak voorspelers beskik wat hom op die voorvoet kry, sê De Bruin.

Bosch het die laaste paar jaar gesukkel om speelkans by die Haaie te kry, omdat die vorige afrigter, Robert du Preez, sy seun met dieselfde naam in die nr. 10-trui verkies het.

Wanneer Bosch gespeel het, het hy meestal op heelagter uitgedraf. Dít nadat hy in 2017, toe Du Preez jr. nog by die Stormers was, in die nr. 10-trui geskitter het.

Bosch het in 2017 sy toetsbuiging as plaasvervanger teen Argentinië in Port Elizabeth gemaak, maar het daarna net in een ander toets gespeel – 2018 se “weggooitoets” teen Wallis in Washington D.C.

Sedertdien het die Stormers se Willemse voor hom in die ry ingeskuif. Willemse het sy buiging in Augustus 2018 teen die Poemas in Durban gemaak en sedertdien in ses toetse gespeel. Hy is ook verlede jaar Wêreldbeker toe ontbied toe Jesse Kriel vroeg seergekry het.

“Ek is nie heeltemal oortuig Damian Willemse is ’n losskakel nie,” sê De Bruin.

“Hy is ’n briljante speler, ek het so geniet om hom af te rig. Ek wonder of hy nie ’n 12 (binnesenter) of ’n 15 (heelagter) moet wees nie, want hy speel eerstens vir homself.

“Hy kyk wat vir hom aan is, voordat hy sal uitgee en dan ondersteun.”

Swys de Bruin, voormalige hulpafrigter van die Springbokke en hoofafrigter van die Leeus. Foto: Getty Images

Handré Pollard, wat sy rugby vanjaar by Montpellier in Frankryk speel, is waarskynlik steeds die Bokke se voorkeur-generaal. Buiten vir Bosch en Willemse, was daar nog nie juis veel om oor te praat wat die ander Suid-Afrikaanse losskakels in die Superrugby-reeks betref nie.

“Morné (Steyn) is ’n held en ’n legende, maar hy is vir my nog vasgevang tussen die boom en die bas van hoe die Bulle moet speel,” sê De Bruin.

“Dis moeilik met Elton (Jantjies), want ons voorspelers by die Leeus oorheers nie soos in die verlede nie. Ons skrum nie ouens lekker pap nie en ons lynstane oorheers nie.

“Dis amper onregverdig om vir Elton te beoordeel voordat ons nie sien hoe hy beter bal op die voorvoet kry nie.”

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Swys De Bruin  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Damian Willemse  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.