Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Damian: Van skurk tot held vir Stormers

John Dobson, afrigter van die Stormers, se lojaliteit aan Damian Willemse is uiteindelik besig om ’n dividend te lewer.

Willemse (22), wat onder baie kritiek deurgeloop het vir sy vertonings op losskakel in die Superrugby Unlocked-reeks, was uitsonderlik in Saterdag se oorwinning van 30-13 oor die Cheetahs op Nuweland.

Trouens, dit was die beste vertoning deur ’n Kaapse losskakel vir ’n lang tyd. Sy taktiese skopwerk was briljant, hy het afstand op sy lynskoppe gekry, en hy het foutloos pale toe geskop. Dan was daar ’n skepdoel in die doodsnikke van die eerste helfte waarop Naas Botha trots sou wees.

Die Stormers se skakelpaar, Herschel Jantjies en Damian Willemse, vier saam in Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Cheetahs op Nuweland. Foto: Gallo Images

Willemse het laat in die wedstryd die kroon gespan met ’n eenhand-aangee na Warrick Gelant vir die drie wat die wen bo alle twyfel geplaas het. Die losskakel se geelkaart vir ’n professionele oortreding laat in die wedstryd was jammer gegewe hoe goed hy andersins was, maar het nie ’n uitwerking op die uitslag gehad nie.

“Damian het die afgelope drie weke stadig maar seker ’n opwaartse kurwe in sy spelpeil begin toon. Hopelik kan hy nou sy kritici se mond snoer. Hy was manjifiek met die manier waarop hy die wedstryd beheer het,” sê Dobson.

“Hierdie was ons mees fisieke wedstryd tot dusver vanjaar. Ek is baie in my noppies dat hy onder druk só goed kon speel.”

Willemse het 15 punte bygedra deur drie doelskoppe, twee strafdoele en ’n skepdoel.

“Ons wil wedstryde beheer deur in ons teenstanders se helfte te speel en ek dink Damian het yslike vordering gemaak,” sê Dobson.

“Terselfdertyd wil ons mense laat glimlag met die drieë wat ons druk. Ek dink ons het dit óók vermag.”

In daardie opsig het Juarno Augustus se drie uitgestaan. Hy het afgerond ná ’n teenaanval wat deur Warrick Gelant geloods is. Willemse se puik aaangee na Gelant vir die laaste drie was ook ’n skouspelagtige oomblik.

Damian Willemse is besig om tot sy reg te kom op losskakel vir die Stormers. Foto: Gallo Images

Die Stormers speel Saterdag in Durban teen die Haaie in wat op ’n stryd om die Unlocked-trofee kan neerkom indien die Bulle Vrydag teen die Pumas verloor of daardie wedstryd weens Covid-19 nie gespeel word nie.

Dobson sê egter hy wil nie ’n trofee wen omdat ’n ander span nie speel nie. En die eindpunt wat die Stormers in gedagte het, is in elk geval die Curriebeker-eindstryd op 23 Januarie.

Vir hulle was die Cheetah-stryd die eerste van vier “toetse”. Ná die Stormers se Haaie-kragmeting skop die Westelike Provinsie hul Curriebeker-veldtog af met ’n wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland. Daarna speel die WP teen die Leeus op Ellispark.

“Daar’s geen twyfel nie dat dié vier weke die sukses van ons seisoen gaan bepaal, en waar die uitspeelwedstryde sal plaasvind. Ons kyk daarna as ’n toetsvenster,” sê Dobson.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, is byna fiks en sal of die komende week of die een daarna weer oorweeg word.

“Ons is geseënd met spelers wat terugkeer. Behalwe Siya sal Seabelo (Senatla) en Jaco Coetzee eersdaags beskikbaar wees. Dit gaan nog ’n paar weke wees voordat ons weer vir Sergeal Petersen terug het. Neethling Fouché (vaskopstut) en David Meihuizen (slot) is om rotasie-redes nie oorweeg nie. Wat die kwessie van beserings betref, beweeg ons in die regte rigting.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.