Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dankie, Patrice, sê Blou Bulle Maatskappy
Die mynmagnaat en eienaar van Sundowns, Patrice Motsepe, besit nou ’n aandeel van 37% in die Blou Bulle Maatskappy.Foto: Gallo Images

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) sou nie sonder Patrice Motsepe se belegging kon oorleef nie.

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Bulle-maatskappy, het dié realiteit geskets nadat Motsepe en Johann Rupert se maatskappye, onderskeidelik African Rainbow Capital (ARC) en Remgro, ’n geskiedkundige beherende aandeel in die BBM verkry het.

Die BBM is in Desember 1997 op die been gebring om die Bulle as ’n professionele entiteit te bedryf.

Vir die afgelope paar seisoene sukkel dié maatskappy toenemend om geldelik kop bo water te hou.

Voor die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) Donderdagaand by Loftus Versfeld dié nuwe bedeling goedgekeur het, het die unie en Remgro elk ’n 50%-aandeel in die BBM gehad.

ARC en Remgro het nou elkeen ’n aandeel van 37% (74% gesamentlik) en die BBRU 26%.

Meyer sê Motsepe se belegging is ’n tydige reddingsboei vir die maatskappy, wat onder geweldige finansiële gebuk gaan.

Dit was van groot belang. Dit gaan regtig swaar, want rugby maak nie meer geld nie.
Alfons Meyer

“Dit was van groot belang. Dit gaan regtig swaar, want rugby maak nie meer geld nie.”

Daar word verneem dat die ooreenkoms ’n finansiële inspuiting van sowat R60 miljoen (vir die beherende aandeel) en ’n bykomende R5 miljoen per jaar vir amateurrugby beloop.

Willem Strauss, president van die BBRU, sê die Bulle is bevoorreg om sulke swaargewigte in die sakewêreld aan boord te kry.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - APRIL 12: Willem Strauss
Willem Strauss, die president van die Blou Bulle Rugbyunie. Foto: Gallo Images

“Ons het baie moeite gedoen om toe te sien dat die ooreenkoms ’n werklikheid word en ek is trots om te sê dat al die uniekomiteelede dit eenparig gesteun het.

“Die ooreenkoms gaan nie net vir beroepsrugby tot voordeel strek nie, maar ook op amateurvlak.”

Meyer sê onder meer dat Loftus van 2020 tot 2023 teen etlike miljoene opgeknap moet word.

Die stadion se staalstruktuur het volgens hom “aandag nodig”.

“Jy kan nie sulke uitgawes aangaan as jy nie geld maak nie. Dit (die ooreenkoms) kon nie op ’n beter tyd gekom het nie.”

Meyer sê daar sal in samewerking met die maatskappy se nuwe vennote toegesien word dat Loftus in die toekoms ’n groter inkomste bied.

“Ons sien uit na die moontlikhede wat die nuwe vennootskap bring. Sokkerondersteuners begin al meer losies huur op Loftus en die ooreenkoms sal ons help om ons ondersteuningsbasis te vergroot.

“Dit is ’n briljante ooreenkoms vir ons, nie net vir die maatskappy nie, maar vir ons gemeenskappe en die sportbedryf in die geheel.

Dit is ’n briljante ooreenkoms vir ons, nie net vir die maatskappy nie, maar vir ons gemeenskappe en die sportbedryf in die geheel.
Willem Strauss

“Patrice Motsepe is ook die eienaar van Mamelodi Sundowns en daar is geen twyfel nie dat dit ons verder sal help met ons visie om Tshwane die sporthoofstad te maak.”

Die unie se verteenwoordiging en besluitneming in die maatskappy se direksie sal ooreenkomstig aangepas word.

Meyer sê die BBRU het vier lede op die direksie en dít sal in alle waarskynlikheid na twee verminder word.

“Met die aandeelhouding wat nie meer 50/50 is nie (tussen die BBRU en Remgro), bring dit nou ook groter duidelikheid in terme van besluitneming.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.