Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dankie tog ek het huis toe gekom, sê Jaco

Vir ’n jaar en ’n half het Jaco Kriel in die nat en koue van Engeland gesit met ’n hart wat met ’n punt trek huis toe.

Die nukke van die beseringspook het verhoed dat hy die talente wat hom ’n Springbok gemaak het, aan Gloucester se ondersteuners kon uitstal. En die genadelose siekte wat sy pa in Standerton in ’n ystergreep gehad het, was ’n knaende kommer in die flank se gemoed.

Jaco Kriel sê dis vir hom heerlik om terug by die Leeus te wees. Foto: Gallo Images

“Ek het in Januarie gaan sit met coach Ackers (Johan Ackermann, wat Kriel voorheen by die Leeus afgerig en Gloucester ook sedertdien verlaat het) en die direkteur van rugby (David Humphreys) om vir hulle te verduidelik hoekom ek wou terugkom huis toe.

“Ek het gevoel ek sien my pa nie genoeg nie en ek wou naby hom wees. Dit was ’n wyse besluit, want ek weet nie of ek myself ooit sou vergewe het as ek nie terug Suid-Afrika toe gekom het en hierdie laaste paar maande saam met hom gehad het nie,” sê Kriel die afgelope week.

Herman Kriel is laat in Oktober oorlede nadat hy vir vier jaar in ’n stryd met motorneuronsiekte gewikkel was. Sy seun was vir die laaste agt maande van sy lewe terug in Suid-Afrika nadat hy ’n nuwe kontrak met die Leeus, die span van sy jeug, gesluit het.

Vir Jaco is die lewe sonder sy pa nog iets om aan gewoond te raak.

Jaco Kriel saam met sy pa, Herman, terwyl hy vir Gloucester gespeel het. Foto: Instagram

“Hy het regtig hard geveg teen die siekte en ons het gedoen wat ons kon om hom te help. Ten minste weet ek nou hy het geen meer pyn nie, maar dit vat nie die leemte in my lewe weg nie. Enige ou wat rugby speel, sal vir jou sê hoeveel daai boodskap of oproep van jou pa voor ’n game beteken. Nou gaan ek nooit weer ‘Sterkte, yster’ van my pa hoor nie,” sê hy.

Kriel het verlede naweek in Kimberley vir die eerste keer sedert sy pa se afsterwe weer gespeel, in sy eerste Curriebeker-wedstryd sedert 2015 se eindstryd.

Dis vir hom heerlik om terug te wees, sê Kriel – maar hy sal nooit spyt wees dat hy die tog oor die waters Engeland toe geneem het nie.

“Ek is regtig bly ek het gegaan, ek sou altyd gewonder het hoe dit sou wees as ek dit nie gedoen het nie,” sê hy.

“My tyd by Gloucester was moeilik, want ek het ’n horde beserings gehad. Ek dink ek het op die ou einde nie eens 20 wedstryde gespeel nie. Maar dit was vir my lekker om ’n ander kultuur te ervaar en mense te leer ken wat anders as ek dink. Dit was net sleg dat ek so ver van my familie was.

My tyd by Gloucester was moeilik, want ek het ’n horde beserings gehad.
Jaco Kriel

“Ek het darem daar ook ’n klompie goed geleer wat ek aan die ander ouens wat nog nie in Europa gespeel het nie kan oordra wanneer ons gaan Pro16-rugby speel. Dis ervaring wat niemand van jou kan wegvat nie, en ek is bly ek kan nou vir die jonger spelers daarvan leer.”

Hy is wel spyt dat hy nooit weer sal Superrugby speel nie, erken Kriel.

Jaco Kriel in aksie vir Gloucester, waarvoor hy uiteindelik net 20 keer in ’n jaar en ’n half gespeel het. Foto: Gallo Images

“Ek kry veral ’n ou soos Andries (Coetzee) jammer, want hy is op (98) Superrugby-wedstryde en sal nou nooit by 100 uitkom nie. Ekself het so 30 kort van 100 Super-wedstryde gedraai en dit sou ’n lekker doelwit gewees het om na te jaag, maar daar is darem ander dinge om na te streef. Ek is op 45 wedstryde in die Curriebeker en dit sal baie, baie spesiaal wees om 50 te haal. En ek hoop ek kan ’n erfenis bou in die Pro16.”

Sy grootste droom bly egter om weer die Groen-en-Goud te dra – al beskou hy sy pad daarheen as steil.

“Wel, my direkte kompetisie in die Bok-span is die kaptein (Siya Kolisi), so ek sal moet hard werk om sy plek te vat. Maar dis beslis boaan my prioriteitslys om weer vir Suid-Afrika te speel.

“Hulle sê mos jy weet nie wat jy het totdat jy dit verloor het nie en ek voel beslis so oor die Bokke. Dit het dalk nie baie goed met die span gegaan toe ek (in 2016 en 2017 in 11 toetse) gespeel het nie, maar dit was steeds ’n reuse-voorreg om daar te wees,” sê Kriel.

“Ek het in die inperking elke dag opgestaan en hard geoefen vir wanneer rugby weer begin – nie net om my beste in die Leeus-trui te gee nie, maar ook met daardie Springbok-droom in my hart. Jy móét groot droom, en dis wat ek doen.”

Meer oor:  Gloucester  |  Leeus  |  Springbokke  |  Engeland  |  Jaco Kriel  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.