Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Datums vir WB-sewestoernooi in Kaap bekend
Ondersteuners tydens die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Vroeg in die lente van 2022 sal die Blitsbokke se aanslag begin om die eerste keer ooit die Wêreldbeker-sewestoernooi te wen. Dié toernooi skop dan in Kaapstad af.

Wêreldrugby het Dinsdag die datums aangekondig vir die toernooi, wat van 9 tot 11 September in die Kaapstad-stadion beslis sal word.

Die aksie sal bestaan uit twee toernooie: 24 spanne sal sake uitspook in die toernooi vir manspanne, terwyl 16 vrouespanne mekaar in die ander toernooi die stryd sal aansê.

Die goeie nuus vir Suid-Afrikaners is dat die Blitsbokke en die Imbokodo, soos die nasionale vroue-sewesspan bekend staan, albei daar in aksie sal wees.

Siviwe Soyizwapi, kaptein van die Blitsbokke, lei sy span op die veld in 2019 se Kaapstad-sewestoernooi. Agter hom is Chris Dry en Justin Geduld. Foto: Gallo Images

Agt manspanne, Nieu-Seeland, Engeland, Suid-Afrika, Fidji, Argentinië, Amerika, Frankryk en Skotland, het reeds gekwalifiseer. Dié spanne was die voorste agt by die laaste Wêreldbeker-toernooi, in 2018 in San Francisco.

Ander spanne wat hoop om in die Moederstad in aksie te wees, sal aan kwalifiseringstoernooie moet deelneem.

Glorie in die Wêreldbeker is iets wat die hoogs suksesvolle Blitsbokke nog nooit kon proe nie. In 2018 moes hulle met die derde plek tevrede wees.

Suid-Afrika se beste prestasie was toe hy in 1997 teen Fidji in die eindstryd in Hongkong verloor het.

Wat die Imbokodo betref, kwalifiseer hulle om deel te neem omdat Suid-Afrika die gasheer is. Vier ander vrouespanne, Nieu-Seeland, Frankryk, Australië en Amerika, is reeds verseker van ’n plek.

Dit sal die eerste keer wees dat die toernooi in Afrika beslis word. Die Kaapstad-stadion, met plek vir 57 654 toeskouers, is reeds die afgelope paar jaar gasheer vir een van die gewildste toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks.

Liske Lategan in aksie vir die nasionale vrouesewespan by die Kaapstad-sewestoernooi in 2019 in ’n wedstryd teen Spanje. Foto: Gallo Images

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, wys in ’n verklaring daarop dat dit opwindende tye vir sewesrugby is, siende dat die Olimpiese Spele oor net ’n rapsie meer as twee maande begin.

“Suid-Afrika het ’n ryk tradisie om wêreldklas- internasionale sewestoernooie aan te bied en ons verwag dat 2022 se Wêreldbeker-sewestoernooi weer eens die dwarslat gaan lig om ’n unieke toernooi soos geen ander nie aan te bied,” sê Beaumont.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Sewes  |  Neil Powell  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.