Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Davies maan teen uitbreiding van Pro14

Gareth Davies, voorsitter van die Walliese Rugbyunie, het gewaarsku dat die Pro14-reeks nie dieselfde roete moet volg as die Superrugby-reeks nie.

Gerugte doen die ronde dat die reeks nog verder kan uitbrei, met die toevoeging van Suid-Afrika se Stormers, Bulle, Leeus en Haaie.

Die Cheetah-heelagter Clayton Blommetjies in aksie in sy span se laaste Pro14-wedstryd van die huidige seisoen in Februarie vanjaar teen die Dragons in Newport, Wallis. Foto: Gallo Images

Daar word bespiegel dat ’n reeks met 16 spanne geskep kan word, met die Cheetahs en die Southern Kings wat dan die trekpas sal kry.

Dié reeks is in die 2017-’18-seisoen verander van die Pro12 na die Pro14-reeks om die Cheetahs en die Kings te kon huisves nadat dié spanne die trekpas uit Superrugby gegee is.

“Wat onthou moet word, is dat om meer te wees nie altyd beter is nie, soos ons gesien het in Superrugby,” het Davies aan die BBC gesê.

“Dit (die Superreeks) het groter en groter geword en dis dalk nie meer wat dit eens was nie.”

Die Cheetahs het egter gesê dis “ondenkbaar” dat hulle in die slag moet bly as die toernooi uitgebrei sou word om die land se huidige Superrugby-spanne te huisves.

Gareth Davies, voorsitter van die Walliese Rugbyraad. Foto: Getty Images

Die Cheetahs se uitvoerende hoof, Harold Verster, het gesê hulle is “verras deur die bespiegelinge”, maar het vandeesweek aan Netwerk24 bevestig hy is “vol vertroue dat die Cheetahs deel sal wees van ’n toekomstige bedeling, ongeag wat die nuwe Pro14-struktuur gaan wees”.

Die Cheetahs het gekwalifiseer vir die kwarteindronde in 2018, maar is uiteindelik deur die Scarlets verslaan. Die Cheetahs was vroeër vanjaar ook sterk in die prentjie om die uitkloprondes te haal voordat die huidige seisoen weens die Covid-19-pandemie opgeskort is.

Daarteenoor kon die Kings nog net drie wedstryde wen sedert sy toetrede tot die reeks en het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie boonop onlangs weer sy administrasie vanweë finansiële probleme oorgeneem.

Die Pro14-reeks het nog niks bevestig wat sy toekoms betref nie, maar Davies het die grootbase aangeraai om versigtig te wees.

Hy glo tog die toernooi het voordeel getrek uit die betrokkenheid van Suid-Afrikaanse spanne.

“Dit het gehalte en bykomende belangstelling tot die reeks gevoeg,” het Davies gesê.

“Ek veronderstel die aantrekkingskrag van die vier voorste Suid-Afrikaanse provinsiale spanne, waar jy spelers soos Siya Kolisi (Suid-Afrika se seëvierende Wêreldbeker-kaptein) en al die ander spelers kan sien, is tog iets om na uit te sien, sou dit gebeur.

Harold Verster, uitvoerende hoof van die Cheetahs. Foto: Getty Images

“Daar is baie bespiegelinge en dis belangrik om te sê dat niks nog van die Pro14 se kant af gekom het nie.

In die laaste dekade het die Superrugby-reeks van 14 tot soveel as 18 spanne uitgebrei, met spanne in vyf verskillende lande, wat meegeding het in ’n reeks met ’n ingewikkelde konferensiestelsel.

Ondersteuners het belangstelling verloor en televisie-kykertalle het skerp afgeneem voordat daar toe besluit is om ’n meer vaartbelynde kompetisiestruktuur te skep.

Dít het daartoe gelei dat Suid-Afrika die Cheetahs en Kings en Australië die Western Force uit die kompetisie moes sny.

Superrugby bestaan tans uit 15 spanne van Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Argentinië en Japan, en die toernooi is in Maart as gevolg van die Covid-19-pandemie opgeskort.

Nieu-Seeland en Australië het sedertdien kompetisies geloods waarin plaaslike spanne meeding.

In 2021 is die Superreeks veronderstel om net uit 14 spanne te bestaan, met die Sunwolves van Japan wat ook uit die reeks geboender is.

Gegewe die Covid-19-pandemie is dit egter nog onseker of Superrugby in sy beplande formaat sal voortgaan en daar is toenemende bespiegelinge dat Nieu-Seeland en Australië se Superspanne volgende jaar in hul eie reeks sal speel. – Sportredaksie, BBC

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Wallis  |  Pro14  |  Gareth Davies  |  Harold Verster  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.