Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dawid sien kans vir Goliat in Curriebeker
Dit neem meer as een speler om Chris Massyn te stuit, soos hier gesien word in die Cheetahs se Pro14-wedstryd teen die Southern Kings in Februarie vanjaar. Foto: Gallo Images

’n Moontlike tweestryd met die Bulle se Springbok-agtsteman, Duane Vermeulen – dís die vooruitsig waarna die Cheetahs se Chris Massyn die meeste uitsien.

Massyn het voorheen al vier keer as plaasvervanger vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks gespeel, maar is opgewonde oor sy eerste volwaardige seisoen, wanneer die kompetisie na verwagting volgende maand afskop.

Dié vuurvreter-flank van die Cheetahs het in die Pro14-reeks reeds gewys hy gaan nog baie beteken vir die Bloemfonteinse franchise. Die aggressie waarmee hy die voordeellyn aanval en sy rateltaai verdediging, maak van hom ’n aanwins vir Hawies Fourie (hoofafrigter) se span.

Dis seker dan nie ’n verrassing nie dat sy spel geskoei is op een van sy groot helde, die gewese Bok-slot Bakkies Botha.

Massyn sê hy sien sy rol in die span baie soos die van ’n speler soos Vermeulen, wat gewoonlik die harde werk op die grond en in die losgemale doen en nie bang is om sy alles te gee nie.

Dit sal my eerste volwaardige Curriebeker-reeks wees en elke klein seuntjie in Suid-Afrika droom daarvan om in die Curriebeker te speel en hopelik is dit nou my kans.
Chris Massyn

“Dit sal my eerste volwaardige Curriebeker-reeks wees en elke klein seuntjie in Suid-Afrika droom daarvan om in die Curriebeker te speel en hopelik is dit nou my kans.

“Dis ’n tradisieryke kompetisie as daar net gekyk word na wie almal al daarin gespeel het. Ek sien uit daarna om eendag vir my kinders te kan sê dat ek in die Curriebeker gespeel het. Dit sal egter nog groter wees as ek kan sê ek het ’n Curriebeker gewen,” sê Massyn.

Die glans van die reeks het volgens hom glad nie getaan soos baie meen nie, trouens, vanjaar behoort dit weer toprugby op te lewer met die spanne wat ewe sterk staan, meen hy.

“Ek sien veral uit daarna om in Suid-Afrika voor ons tuisskares te speel (wanneer dit weer toegelaat word), hoewel die Pro14-reeks baie lekker is en in ander lande gespeel word met ’n lekker atmosfeer, is daar niemand wat so lief is vir rugby soos Suid-Afrikaners nie.”

Chris Massyn sweet tydens ’n oefening in die Toyota-stadion. Foto: Gallo Images

Massyn glo die eerste paar wedstryde, wanneer die Springbokke nog vir hul provinsies beskikbaar behoort te wees, sal veral taai wees.

“Daar is druk op ons, nie net in die Curriebeker-reeks (om hul titel te verdedig) nie, maar ook rondom die Pro14-reeks, met die Cheetahs wat wil wys ons is ’n waardige span en ’n groot naam in Suid-Afrikaanse rugby.

“Ek wil ook die Curriebeker-reeks gebruik om myself teen die groot name in Suid-Afrika te meet en te sien waartoe ek in staat is,” sê Massyn.

Hy sê dit het ’n bietjie tyd geneem om weer aan kontaksituasies gewoond te raak nadat die Covid-19-pandemie hulle vir maande lank daarvan verhinder het.

“Die ergste roes is afgeskud en ná ons eerste kontaksessie die afgelope naweek was die lyf maar seer, maar nou kyk ek net vorentoe en kan ek nie wag dat die Curriebeker-reeks begin nie.”

Meer oor:  Chris Massyn  |  Duane Vermeulen  |  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Agtsteman  |  Rugby  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.