Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dayimani en Leeus se paaie skei

Tot baie onlangs was Hacjivah Dayimani een van die uitverkorenes wat al die geheime in die Leeus se binnekring kon aanhoor. Woensdag op Ellispark sal hy dit moontlik teen hulle kan gebruik wanneer hy die blou-en-wit streeptrui van die Westelike Provinsie dra.

Hacjivah Dayimani Saterdag vir die eerste keer in ’n WP-trui. Die losvoorspeler sal hom nou permanent by die Kapenaars aansluit. Foto: Gallo Images

Dayimani het Saterdag teen die Bulle sy Curriebeker-buiging vir die Kapenaars gemaak nadat hy deur die Leeus aan hulle geleen is, maar hy sal hom nou permanent by dié unie aansluit.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, het gesê weens die diepte in die unie se losvoorspeler-spens het hulle besluit om Dayimani toe te laat om sy vlerke elders te gaan sprei.

Die 23-jarige losvoorspeler was op die kantlyn sedert hy verlede November ’n kniebesering opgedoen het. Teen die tyd dat hy herstel het, het die Leeus se voorkeur-lostrio van MJ Pelser, Vincent Tshituka en Francke Horn te veel moles gemaak om maklik uit die kussings gelig te word.

In ’n onderhoud met SA Rugby Magazine in April het Dayimani die “eksistensiële krisis” geopenbaar waarin hy hom bevind het met geen vooruitsig om terug op die rugbyveld te kom nie.

Vir ’n man wat sedert sy skooldae by Jeppe die tonge met sy krag en spoed laat klap het, en in 2018 se Curriebeker meer veld as enige ander (insluitend agterspelers) gewen het, was die rugbywoestyn hel.

Nou is daar weer lig in die tonnel, met sowel die WP as Dayimani wat kan baat vind by die sterk flank se skuif Kaap toe.

Die WP Rugbyunie het die laaste paar maande afskeid geneem van die flanke Siya Kolisi (wat Haaie toe is) en Jaco Coetzee (Bath). Juarno Augustus gaan boonop eersdaags Northampton toe en Pieter-Steph du Toit se kop staan Japan toe. Die WP-afrigter, John Dobson, is dus met goeie rede opgewonde daaroor om Dayimani in sy kamp te hê.

Wat die Leeus betref, hulle het geen tekort aan talent onder hul losvoorspelers nie. Benewens die trio wat so goed gevaar het in die Reënboogbeker-reeks, kan hulle binnekort weer op die knoppies druk van die Springbok Jaco Kriel en amper-Bok Roelof Smit, wat tot onlangs op die krukkelys was.

Die beseerde Mark Snyman is ’n flank oor wie daar groot opgewondenheid is, vir Sibusiso Sangweni word ’n blink toekoms voorspel en sowel Izan Esterhuizen as Siyemukela Ndlovu speel tans vir die Junior Bokke – Ndlovu as kaptein.

• Die Leeus is Maandag 'n groot slag toegedien met die nuus dat die veteraan Willem Alberts sy regterdyspier Vrydag teen die Pumas geskeur het en moontlik die res van die Curriebekerreeks sal mis.

Alberts het in die 14de minuut van die veld gehinkepink. Waar sy span in daardie stadium nog doelgerig op die aanval was, het hulle met verloop van die wedstryd al meer futloos en planloos gelyk. Hulle is met 39-10 afgeransel deur die Laevelders.

Die Leeus kon reeds nie al hul voorkeurspelers vir daardie wedstryd kies nie, nadat 'n rits koronavirus-gevalle in die span gevind is, en het sonder onlangse uitblinkers soos Burger Odendaal, Sti Sithole, Morné van den Berg en Pelser gesukkel om kalm te bly.

In die nadraai daarvan word daar vanselfsprekend asem opgehou oor die nuutste ronde van koronavirus-toetse, wat Maandag by Ellispark gedoen is, aangesien dit sal bepaal hoe 'n sterk span hulle vir die stryd teen die WP kan kies.

Die Leeus kondig Dinsdag hul span vir die stryd teen die WP aan.

Meer oor:  Hacjivah Dayimani  |  Westelike Provinsie  |  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.