Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dayimani kyk graag kat uit boom vir Leeus

Al is hy een van die Leeus se voorste driedrukkers in die Curriebeker-reeks, pla dit Hacjivah Dayimani glad nie dat hy Saterdag se halfeindstryd teen die Haaie op Kingspark in Durban eers vanaf die plaasvervangersbank sal moet dophou nie.

Hacjivah Dayimani sal waarskynlik Saterdag ’n impakrol vir die Leeus teen die Haaie vertolk. Foto: Gallo Images

Om die waarheid te sê, hy verkies dit eintlik so, het Dayimani vandeesweek erken.

“Ek geniet dit eintlik om dinge eers vanaf die plaasvervangersbank dop te hou en goed uit te kyk. As jy ’n wedstryd begin, is dit net spelers wat jy voor jou sien, maar daar op die bank het jy tyd om die teenstanders goed uit te kyk en te sien watter patroon die wedstryd aanneem,” sê dié blitsige agtsteman, wat in vanjaar se Curriebeker-reeks reeds ses keer agter die doellyn gekuier het.

Hy sal straks sy nr. 8-trui aan die Leeus se Springbok-agtsteman en gereelde kaptein, Warren Whiteley, moet afstaan. Whiteley het herstel van sy liesbesering en keer in hierdie halfeindstryd terug na die spel.

“Wanneer ek op die bank sit, maak ek aantekeninge in my kop oor spelers en wat ek dink gedoen moet word wanneer ek opgaan,” sê Dayimani.

“Wanneer ek dan wel my speelkans kry, voel ek rustiger, want ek het reeds ’n gevoel vir die wedstryd gekry so van die kant af en weet ook meer wat die teenstanders gaan doen.”

Dayimani beskou dit as opwindende tye, want dit is die tweede agtereenvolgende halfeindstryd in die Curriebeker-reeks waarby hy betrokke gaan wees.

Courtnall Skosan sê uitklopwedstryde is onvoorspelbare affêres. Foto: Gallo Images

Hy reken ook nie dit gaan ’n goeie ding wees om die Haaie se vuur voorlangs met vuur van hul eie te probeer neutraliseer nie. Kortom gestel: Volgens hom gaan dit nie die wenresep wees om in ’n armdruk-situasie met die stewige agttal van die Durbaniete betrokke te raak nie.

“Ons het ’n ander manier van dinge doen en sal meer staatmaak op ons vaart wyd op die punte om skade te kan aanrig,” sê hy.

Een van die Leeus se ander drieëvrate wat dalk net saam met Dayimani op die plaasvervangersbank kan wees, die vleuel Courtnall Skosan, is ook opgewonde om deel van die halfeindronde te wees.

“Uitkloprugby is ’n snaakse storie. Jy kan ’n span kry wat deurskraap tot in die uitspeelstryde en dan voor jy jou oë uitvee, is hy die kampioen. Dit is eenmalige wedstryde waar enigiets op die dag kan gebeur,” sê Skosan.

“Dit is wel ’n groot uitdaging vir ons om weg van die huis af te speel en die Haaie is beslis die gunstelinge, maar hierdie jong span van ons het gegroei oor die laaste paar weke en ons almal weet ons sal moet uithaal en wys, maar ons is gretig en oorgehaal vir die uitdaging,” sê Skosan, wie se plek in die beginspan dalk deur die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi geneem kan word.

Curriebeker: Bepalings

Curriebeker: Puntelys

Curriebeker: Uitslae

Meer oor:  Hacjivah Dayimani  |  Leeus  |  Halfeindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.