’n Verandering in die Blitsbokke se afrigtingspan is vir die komende sewesseisoen aan die kom met Renfred Dazel wat binnekort as Neil Powell se hulpafrigter van die nasionale sewesspan aangewys gaan word.

Renfred Dazel, die afrigter van Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan. Foto: Gallo Images
Dazel, tans afrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan, word by die span betrek nadat Allan Temple-Jones die Blitse vroeër vanjaar verlaat het.
Jones was die Blitse se kondisioneringsafrigter, maar het ook as Powell se hulpafrigter diens gedoen.
Powell het die span sedert sy aanstelling as afrigter sonder ’n adjudant gebrei en die skuif om hulp vir hom te kry, word al ’n tydjie verwag.
Dazel kan straks al vroeg aanstaande maand betrek word by die Springbok-sewesspan wanneer die nuwe sewesreeks in Dubai begin.
Die feit dat hy die vroue-span afrig en nou saam met Powell en Marius Schoeman, hoof van die sewesakademie, by hul hoofkwartier in Stellenbosch gewerk het, maak die proses veel gladder vir die Blitsbokke.
Hy het self voorheen vir die span uitgedraf en was deel van die groep wat Suid-Afrika se eerste sewestitel in 2008/09 gewen het.
Die vroue-span neem aan ’n uitnodigingstoernooi in Dubai deel en as hy dié span na die Verenigde Arabiese Emirate gaan brei, behoort hy met die Kaapstad-sewes deur die Blitse nader gehark te word. Daarna sal hy heeltyds as hulpafrigter oorneem.
Sy aanstelling moet wel nog gefinaliseer word.
Dit sal afgehandel word wanneer Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaans Rugbyunie se nuwe direkteur van rugby, in sy pos begin.
Erasmus was nog die afgelope Vrydag vir oulaas aan die stuur van Munster toe dié Ierse klubspan teen die Newport Gwent Dragons gespeel het.
Paul Delport, afrigter van die sewesakademie, sal moontlik Dazel se pos by die vroue vul.
Hy sal dan onder meer die taak hê om die span te laat kwalifiseer as een van die vaste spanne op die Wêreld-sewesreeks vir vroue.
- Powell het intussen sy tevredenheid uitgespreek met die vordering van Kyle Brown en Justin Geduld wat ná beserings verlede Sondag vir die eerste keer aan ’n mededingende sewestoernooi deelgeneem het.