Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
De Jongh ‘kom huis toe’; Marx in WP-visier

Juan de Jongh gaan glo die Engelse klub Wasps verlaat om na die Westelike Provinsie terug te keer.

Juan de Jongh spog met die Curriebeker nadat die WP die Haaie in 2012 se eindstryd op Kings Park in Durban verslaan het. Foto: Gallo Images

John Dobson, hoofafrigter van die WP en Stormers, het aan Netwerk24 bevestig dat onderhandelinge met De Jongh in ’n “gevorderde stadium” is.

Die verwagting is dat hy ’n kontrak van twee jaar gaan sluit en hom in Julie by die Kaapse span sal aansluit met die oog op die Pro14-reeks. De Jongh was ook in die Bulle se visier, maar die WP het die wedloop gewen.

Ofskoon De Jongh in die skemer van sy rugbyloopbaan is – hy het Donderdag sy 33ste verjaardag gevier – kan sy ervaring van groot waarde wees.

Die WP hoop om die Springbok-haker Malcolm Marx volgende jaar te kontrakteer. Foto: Getty Images

Kaapse ondersteuners het ook ’n sterk emosionele verbintenis met hom nadat hy geskitter het in 2012 se Curriebeker-eindstryd in Durban, waar die WP met ’n sege oor die Haaie ’n trofee-droogte van 11 jaar gebreek het.

’n Groter vis wat waarskynlik ingekatrol gaan word, is die Springbok-haker Malcolm Marx, maar dis onwaarskynlik dat hy hom al hierdie jaar by die WP sal aansluit.

“Malcolm is iemand na wie ons kyk, maar wat onderhandelinge betref, moet daar nog baie water in die see vloei,” het Dobson gesê.

Marx is baie goed bevriend met die Springbok-loskostut Steven Kitshoff, wat onlangs ’n nuwe kontrak met die WP gesluit het en die Stormers vorentoe gaan aanvoer.

In hierdie stadium maak dit vir enige span eintlik maar min sin om enorme tjeks vir hoëprofiel-spelers uit te skryf, want die vraag is wanneer hulle met die Springbok-skedule in gedagte ooit vir hul franchise-spanne beskikbaar sal wees.

Juan de Jongh rond ’n drie af in die kleure van die Engelse klub Wasps. Foto: Getty Images

Die Bokke speel tussen Julie en Augustus ’n reeks teen die Britse en Ierse Leeus en daarna is dit die Rugbykampioenskap voordat die jaareindtoer aanbreek.

Dit lyk wel asof daar ’n behoefte aan nog ’n ervare haker in die WP gaan wees, want die Springbok Bongi Mbonambi het steeds nie ’n nuwe kontrak met die WP gesluit nie. Trouens, dit sal niemand verbaas indien hy hom in die nabye toekoms by die Haaie aansluit nie.

Die WP het darem daarin geslaag om vir Scarra Ntubeni te behou, maar dis uiters belangrik om diepte op haker te hê.

Daar’s ná Chris van Zyl se uittrede ook ’n behoefte aan ’n nuwe slot en dit sal nie verbaas indien Gerbrandt Grobler na die WP terugkeer nie. Grobler is aan die einde van 2014 positief getoets vir ’n verbode middel en nadat hy sy straf uitgedien het, het hy hom by Racing 92 in Frankryk aangesluit. Daarna was hy Munster toe in Ierland en hy het ook vir Gloucester in Engeland gespeel. Hy is tans op Stade Francais in Frankryk se boeke.

Die 29-jarige Grobler se ervaring in die Noordelike Halfrond kan hom ’n nuttige aanwins maak gegewe dat Suid-Afrikaanse spanne se heil nou daar lê.

Meer oor:  Juan De Jongh  |  Stormers  |  Malcolm Marx  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.