Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
De Jongh oefen homself voos by WP

Juan de Jongh is terug op die oefenveld by die Westelike Provinsie ná ’n paar seisoene in Engeland, maar dis onwaarskynlik dat hy Woensdag sy tweede buiging vir die Streeptruie in hul Curriebeker-rugbywedstryd teen Griekwas in die Kaapstad-stadion gaan maak.

Juan de Jongh op die oefenveld by die Westelike Provinsie se sentrum vir uitnemendheid in Bellville vandeesweek. Foto: Gallo Images

Die 33-jarige voormalige Springbok-senter tel onder die groep spelers waaruit John Dobson, die WP-afrigter, sy plaasvervangersbank gaan saamstel. De Jongh is egter deels die slagoffer van sy entoesiasme en professionaliteit – hy het só hard geoefen dat hy lyfseer is.

“Jouba het nog net twee oefensessies gedoen waarin hy briljant was,” sê Dobson.

“Daar’s by my geen twyfel nie dat hy albei senter-posisies kan dek, maar ek dink sy grootste bydrae gaan leierskap op die veld wees. Hy het eintlik só hard geoefen dat sy lyf seer is.”

Nóg ’n faktor wat teen De Jongh se insluiting op die bank tel, is dat Nama Xaba (oopkantflank) en JD Schickerling (plaasvervanger-slot) albei van beserings terugkeer. Dobson wil soveel as moontlik reserwekrag onder sy voorspelers hê, wat kan beteken dat daar ses van hulle op die plaasvervangersbank kan wees. Daar sal dan twee agterspelers – waarskynlik die skrumskakel Paul de Wet en ’n losskakel, Abner van Reenen, wees.

Selfs al haal De Jongh nie die 23-tal nie, sal Dan du Plessis se terugkeer na die middelveld ’n welkome hupstoot wees. Hy sal binnesenter speel met Rikus Pretorius buite hom. Vir die meeste van hul wedstryde saam tot dusver was die rolle andersom.

“Met nabetragting moes ek hulle eintlik vroeër omgeruil het, maar Rikus se goeie spelpeil het ’n stokkie voor die plan gesteek,” sê Dobson.

“Dan is eintlik meer van ’n natuurlike binnesenter en as jy kyk hoe Rikus verdedig, die manier waarop hy opsies aan die buitekant afsny en in ruimte in hardloop, moes ons hom dalk ’n bietjie vroeër buitesenter toe geskuif het. Hy het tot nou toe nog net een wedstryd daar gespeel, so ons moet hom tyd gee.”

Met dié dat De Jongh albei senterposisies kan dek, sal Du Plessis en Pretorius op volle krag moet wees om hul plekke in die opdrafspan te behou.

Benewens Du Plessis en Xaba se terugkeer, sal Dobson baie bly wees dat hy weer vir JJ Kotze beskikbaar het op haker. Die Kapenaars sal hoop dat dit hul lynstaanspel versterk ná die gesukkel daar teen die Haaie.

Die goeie nuus is egter getemper deur die verlies van Neethling Fouché (deernisverlof) vir die stryd teen Griekwas. Dit gee wel vir Sazi Sandi ’n geleentheid om van die afskop af sy staal te toon.

Westelike Provinsie: Sergeal Petersen, Seabelo Senatla, Rikus Pretorius, Dan du Plessis, Edwill van der Merwe, Tim Swiel, Godlen Masimla, Evan Roos, Johan du Toit, Nama Xaba, David Meihuizen, Ernst van Rhyn (k), Sazi Sandi, JJ Kotze, Ali Vermaak. PLAASVERVANGERS (Uit): Reinach Venter, Leon Lyons, Lee-Marvin Mazibuko, JD Schickerling, Niel Otto, Marcel Theunissen, Paul de Wet, Abner van Reenen, André-Hugo Venter, Justin Basson, Juan de Jongh.

Skeidsregter: Aimee Barrett-Theron.

TV: 15:45 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Meer oor:  Juan De Jongh  |  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.