Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
De Wet, Swiel gee deurslag vir WP
Was dit nie vir Tim Swiel se akkurate skopwerk nie, sou die WP aan die kortste ent getrek het in Woensdag se Curriebeker-wedstryd teen die Haaie in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Die dapper besluit om vir Paul de Wet en Tim Swiel as skakelpaar te kies en boonop enduit op die veld te hou, is straks wat vir die Westelike Provinsie die knoop deurgehak het in Woensdagaand se Curriebeker-wedstryd teen die Haaie in die Kaapstad-stadion.

Swiel, wat strykdeur kalm vertoon het, het in winderige toestande foutloos pale toe geskop en met ses strafdoele en twee doelskoppe 22 van die Streeptruie se punte aangeteken in hul oorwinning van 32-31.

Tim Swiel (links) en Paul de Wet span saam om die Haai-stormram Thembelani Bholi te keer in Woensdagaand se Curriebeker-wedstryd in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Tesame met De Wet, wat suiwer diens agter die oond gelewer en ’n opportunistiese drie gedruk het, was Swiel se skopwerk uit die hand ook baie goed.

“Albei was uitstekend,” het John Dobson, die WP se breier, ná die wedstryd gesê.

“Ek dink ons spel op skrumskakel en losskakel tel onder die fasette waarin ons goed gevaar het. Die wedstryd was mettertyd op ’n naaldpunt en ons moes Tim op die veld hou vir sy stelskopwerk.”

Dobson meen die WP het in sy “donkerste uur” – in terme van spelers wat nie beskikbaar was nie – goed gevaar.

“Ons het probleme in die vaste fasette gehad en nuwe hakers wat hul voete vind. Om só ’n sterk span soos die Haaie te kon klop, was ’n groot prestasie. Ek dink ons het baie karakter getoon,” sê hy.

Benewens sy skakels het Dobson groot lof vir sy agtsteman, Evan Roos, gehad.

“Hy’s een van die beste kopies wat ek tot nog toe gemaak het,” sê Dobson oor Roos.

Daar was ’n desperaatheid en net soos jy begin dink dat hy nie meer met sy intensiteit kan volhard nie, slaag hy daarin.
John Dobson

“Met sy aankoms (van die Haaie af) het hy goed geoefen en toe van die bank af gespeel. Daar was ’n desperaatheid en net soos jy begin dink dat hy nie meer met sy intensiteit kan volhard nie, slaag hy daarin.

Evan Roos op pad doellyn toe in die WP se Curriebeker-oorwinning oor die Haaie. Die Streeptruie se afrigter, John Dobson, glo hy gaan nog ’n baie spesiale speler word. Foto: Jaco Marais

“Ons weet hy is vinnig, vaardig en sterk, maar sy intensiteit is ongelooflik. Alles is vir hom ’n stryd wat hy wil wen. Ek dink hy gaan ’n baie spesiale speler word.”

Dobson het ook vir Cornel Smit, wat vir die beseerde Dan du Plessis op senter ingestaan het, en die heelagter, Sergeal Petersen, geprys. Petersen se voorkeurposisie is vleuel, maar die WP het tans nie ’n fiks heelagter nie

“Ek dink daar was baie goeie individuele vertonings,” sê hy.

Die vaste fasette kort wel baie werk. In die eerste helfte het dit goed in die skrums gegaan, maar daardie momentum is prysgegee toe Leon Lyons en Sazi Sandi vir Ali Vermaak en Neethling Fouché in die voorry vervang het. Reinach Venter het ook met sy ingooiwerk werk by die lynstane gesukkel.

Vir Dobson is daar egter in elke geval versagtende omstandighede.

“Ons is gestraf by die skrums, maar nie as sulks ‘geskrum’ nie. Dis ’n ander gevoel as jy sien hoe die teenstander jou in trurat dwing. Wat dissipline betref was dit ’n swak skrumvertoning, maar ek is nie bekommerd oor ons krag nie,” sê Dobson.

Ons trek by haker nommer nege en Reinach het sy eerste wedstryd in omtrent ses maande gespeel.
John Dobson

“Drie skewe ingooie by die lynstane deug nie op beroepsvlak nie, maar ons het nie veel tyd gehad om mekaar te vind nie. Ons trek by haker nommer nege en Reinach het sy eerste wedstryd in omtrent ses maande gespeel.”

Voorts meen Dobson dat dit belangrik is om jong spelers die geleentheid te bied om te groei.

“Iemand het kommentaar gelewer dat ons vir Leon en Sazi te vroeg opgestuur het, maar ons moet spelers ook ontwikkel,” sê hy.

“Die strafskoppe wat hulle afgestaan het, was meestal die gevolg van hul oorywerigheid. Ons móét hulle meer speelkans gee. Voor hierdie wedstryd het Sazi op senior vlak die laaste jaar 51 minute as vaskopstut gespeel. Albei se algemene spel was baie goed.”

Meer oor:  Tim Swiel  |  John Dobson  |  Evan Roos  |  Kaapstad  |  Afrigter  |  Rugby  |  Curriebekerreeks  |  Wp  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.