Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brenden Nel gesels met Sean Everitt
Dekade se donkie-werk beloon

As ’n hulpafrigter was sy paadjie lank, vol kronkels en soms sonder ’n klaarblyklike eindbestemming. Sean Everitt het egter nie omgegee nie. Hy het ook nie opgegee nie, omdat rugby sy passie is.

Sy breier-kollegas en base by die Haaie was manne soos John Plumtree, Jake White, Gary Gold, Brendan Venter en Robert du Preez.

Everitt was ’n dekade lank deel van die Haaie se breierskorps, maar altyd as ’n hulpafrigter. Dit het hom egter nie ontmoedig om te bly doen waarvan hy hou nie.

Sean Everitt in sy dae as hulpafrigter van die Haaie. Foto: Gallo

Sy geduld en aanhou is egter nou beloon met sy aanstelling as die Haaie se nuwe hoofafrigter in die plek van Robert du Preez.

Everitt se lewe is net rugby. Dis so eenvoudig soos dit. Vra vir die man wat doen hy weg van ’n rugbyveld, en hy antwoord: “Om by my gesin te wees.”

In sy lewe is daar eintlik net plek vir rugby en sy gesin. Hy geniet dit ook om te hardloop, maar sê gholf is uit.

“Ons het so min naweke af, so as ek gholf gespeel het, sou ek nie ’n gesin gehad het nie,” skerts hy.

“Ek het een Comrades gehardloop en voltooi en dit is meer as genoeg vir my.”

Everitt hol nog halfmarathons om fiks te bly, maar die lang afstande is nie vir hom nie. Hy verkies om saam met sy vrou, Jacqui, en twee seuns, Matthew (22) en Christian (14), sy vrye tyd deur te bring. Matthew speel losskakel vir Durban Old Boys terwyl Christian ’n haker is.

Maar Everitt het ’n lang pad gestap en het saam met van die Haaie se beste afrigters gewerk. Sy afrigterspad het hy by College Rovers begin stap in die tyd toe hy nog geswot het.

Tydens sy tyd by Rovers het hy die o.20’s en senior spanne afgerig en albei die klubkompetisies in Durban – die Moorebeker en Murraybeker – vier keer gewen.

Sy pad het toe met dié van die KwaZulu-Natal-rugbyunie gekruis toe hy in 2008 in beheer van die unie se afrigtingskursusse geplaas is.

Everitt saam met sy vrou, Jacqui, en twee seuns, Christian (14) en Matthew (22).

Everitt is toe nog in dieselfde jaar as hulpafrigter vir Plumtree aangestel, met die Haaie wat daardie jaar die Curriebeker ingepalm het. Sy afrigtingsloopbaan het verder gevorder toe hy die Vodacombekerspan en o.21’s tussen 2009 en 2013 by die Haaie afgerig het, voordat hy weer as ’n hulpafrigter saam met Brendan Venter in 2013 die Curriebeker gewen het.

In 2014 was hy hulpafrigter vir Jake White en in 2015 en 2016 weer vir Gary Gold. In 2017 was hy Rob du Preez se hulpafrigter.

Verlede jaar was hy terug by die jonger groepe en het hy die onoorwonne o.19’s afgerig.

Everitt beskryf sy nuwe pos as hoofafrigter van die Haaie as ’n droom. Maar hy is ook deeglik bewus van die verwagtinge.

“Dit is ’n eer om die Haaie af te rig. Dit is rêrig ’n droom wat ek lankal het. Die feit dat dit my so lank gevat het om hier te kom, is goed vir my. Ek het die geleentheid gehad om baie ondervinding op te doen en met baie afrigters te werk. Ek het ook met van die beste rugbyspelers gewerk en ek voel ek is definitief nou reg om daardie volgende stap boontoe te neem,” vertel hy aan Rapport.

“Ek weet dit is ’n ongelooflike taak en ’n helse uitdaging vir my, met ’n groot verantwoordelikheid teenoor ons ondersteuners. Ons moet elke jaar so goed as moontlik doen, maar ons sê ook reguit dat ons tans in ’n boufase is.

“Ons het ’n klomp nuwe spelers wat inkom en ’n klomp ju­niors wat opbeweeg en ons sal daardie proses vinniger moet maak om hulle reg te maak vir Superrugby.”

Een doel is om Durban ’n tuiste vir sy spelers te maak, een waar hulle gelukkig is en sal wil bly.

“Dit is belangrik dat jy ’n omgewing skep waar die spelers gelukkig is en gemaklik is om in te groei en leer. Solank hulle beter raak en hulself geniet, sal hulle hopelik by die Haaie wil bly. Ons kan nie die finansies beheer of die aanbiedinge aan spelers nie. Maar ons kan hulle ’n gelukkige rugbytuiste gee.”

Dat die Haaie jaarliks goed op papier lyk, maar nie aan die verwagtinge op die speelveld voldoen nie, is een van Everitt se uitdagings om reg te stel.

“Ons het nie altyd die diepte in die groep nie en ons kan ook nie altyd ons spelers bly roteer om jonger spelers te speen nie.

“Ons wedstrydskedule vir volgende jaar bepaal dat ons agt in ’n ry speel. Dan, ná ons enigste ruskans, is dit weer agt in ’n ry.”

Everitt sien ook daarna uit om saam met sy nuwe hulpafrigter, Brent Janse van Rensburg, wat tans in Engeland is om klubs te besoek, die Haaie voor te berei.

As ons moet verander in ons manier van verdedig, is Brent die regte ou om dit te doen.
Sean Everitt

“Brent het nog nie by ons aangesluit nie, maar ons ken mekaar al lankal.

“Toe ek die juniors by die Haaie afgerig het, het ons saam gewerk en ons het spelers vir hom geleen toe hy by die NMU was. Ons werk goed saam en ek volg sy loopbaan baie noukeurig en hy is ’n goeie afrigter.

“Brent is ’n goeie ou en is ’n sterk voorspeler- en verdedigingsafrigter. In my eerste jaar het ek ’n goeie groep afrigters nodig om my te ondersteun en ek glo Brent is een van hulle.

“Ons het baie nuwe spelers en ons verdedigingsafrigters sal moet verstellings aanbring. Ons het groot fisiese spelers in die verlede gehad en vanjaar het ons nie sulke fisiese spelers nie.

"As ons moet verander in ons manier van verdedig, is Brent die regte ou om dit te doen.

“Ons is vanjaar ook net drie afrigters vergeleke met verlede jaar se ses, so ons sal almal baie nou moet saamwerk om te verseker ons is suksesvol.”

Sy droom is steeds om toe te sien dat die Haaie suksesvol is, en dat hy die span tot ’n Superrugbyreus kan opbou.

“Ek wil sien dat die span meer konsekwent sukses behaal en hulself op die veld uitleef, maak nie saak wat die uitslag is nie. Ons het die talent om met die bestes mee te ding, maar dit is duidelik ’n proses wat ons moet deurgaan en ons bou op die oomblik.

“Ons het wel ook ’n verantwoordelikheid om goeie rugby vir ons ondersteuners te speel.”

Meer oor:  Haaie  |  Sean Everitt  |  Hoofafrigter  |  Hulpafrigter  |  Nuwe Hoofafrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.