
Deon DavidsFoto: Olga Williams
Deon Davids, die Southern Kings se hoof-afrigter, weet “niks” van gerugte dat hy glo op ’n kortlys is om die Cheetahs se nuwe breier te word nie.
Daar is Sondag in Rapport berig dat Davids die “verrassingspakkie” kan wees wanneer die Cheetahs oor ’n plaasvervanger vir Franco Smith besluit.
Smith het die pos as hoof-afrigter van Italië se nasionale span aanvaar.
Op navraag het Davids by monde van ’n woordvoerder laat weet dat hy “niks” weet van die “Cheetahs-konneksie” nie en daarom geen kommentaar wil lewer nie.
Davids was teen die einde van verlede jaar op ’n kortlys om die Bulle se afrigter te word, maar Pote Human het toe die werk gekry.
Davids is nog tot die einde van 2020 se Pro14-seisoen by die Kings gekontrakteer. – Michael Green