Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Derde keer skeepsreg vir Jake?

Die Bulle sal aanstaande jaar die derde span op Jake White se Superrugby-kerfstok word.

Op Loftus Versfeld word gehoop dit sal ’n geval van derde keer skeepsreg wees.

In gelukkiger dae. Tendai Mtawarira en Bismarck du Plessis omhels Jake White nadat die Haaie die Crusaders in Christchurch geklop het. Foto: Getty Images

White het, hoewel hy by die Brumbies en Haaie sukses behaal het, lank voor sy kontrak in Canberra en Durban ten einde gekom het, gegroet.

Hy het aan die einde van 2011 die mandaat gekry om die Brumbies van agteruitgang te red nadat dié span 13de (uit 15 spanne) in Superrugby geëindig het.

Die voormalige Springbok-breier het dadelik sy stempel afgedruk en die span van Canberra het in 2012 net-net ’n uitspeelplek (7de op die puntelys) misgeloop.

In 2013 was die Brumbies vuurwarm en het hulle die Bulle op Loftus Versfeld in die halfeindstryd met 26-23 verras.

Die Bulle het voor dié wedstryd 22 van hul vorige 24 kragmetings in die kompetisie op Loftus gewen.

In Pretoria word die wedstryd steeds onthou vir die Bulle-kaptein, Dewald Potgieter, wat in die tweede helfte drie keer die kantlyn opgesoek het, pleks van om pale toe te skop.

Die benadering het op niks uitgeloop vir die tuisspan nie en die Brumbies het die meeste van dié meevaller gemaak. Matt Toomua, die besoekers se losskakel, het Tevita Kuridrani in die 78ste minuut vir die wendrie oorgestuur.

White se span het in die eindstryd met 22-27 teen die Chiefs in Hamilton verloor.

Dit was White se swanesang en hy het die Brumbies later die seisoen vanuit Suid-Afrika laat weet hy keer nie weer terug nie.

White het weens sy welslae by die Brumbies in 2013 na vore getree as ’n sterk aanspraakmaker om die Wallabies af te rig nadat Robbie Deans bedank het.

Ewen McKenzie het egter die pos gekry en daar is in die nadraai aangevoer dat White nie op die “Aussie-manier” afrig nie.

Dié dwarsklap het hom laat besluit om weer in Suid-Afrika wortel te skiet en hy is op 7 Oktober 2013 as die Haaie se nuwe direkteur van rugby aangewys.

Ook in Durban moes White ’n reddingsplan in werking stel nadat die Haaie teleurgestel het en die afrigter, John Plumtree, nog voor die einde van die 2013-veldtog handdoek ingegooi het.

Jake White lag breed nadat sy Brumbies in 2013 Warren Gatland (regs) se Britse en Ierse Leeus geklop het. Die Brumbies was die enigste van die Aussie-franchises wat die Leeus kon troef. Foto: Getty Images

Die Haaie het in 2014 met vier tuis-seges begin, maar die seisoen sal vir hul merkwaardige vertoning teen die Crusaders in Christchurch onthou word.

Dat die Haaie met 30-25 kon seëvier, was verstommend.

Jean Deysel (flank) het in die 16de minuut ’n rooikaart gekry en die Haaie moes in die tweede helfte in ’n stadium met 13 spelers oor die weg kom nadat die agtsteman Willem Alberts met ’n geelkaart gestraf is.

Die besoekers het met die grootste durf vasgebyt en ’n eerste sege nóg in Nieu-Seeland oor die Crusaders beklink.

Dit was ook die Kiwi-kampioenspan se eerste tuisnederlaag sedert 2001.

Twee maande later is die opskudding reggestel toe die Crusaders die Haaie in die halfeindstryd op dieselfde veld met 38-6 afgeransel het.

Daar was later daardie seisoen al meer gerugte uit die Haaie-kamp dat ’n groep spelers teen White in opstand gekom het.

Sy outokratiese benadering het glo nie aanklank gevind in die Haai-tenk nie en hy het in September 2014 bedank.

Die legendariese Springbok-stut Tendai Mtawarira het verlede jaar in sy outobiografie, Beast, geskryf White het hulle daardie seisoen “soos skoolkinders behandel”.

Meer oor:  Haaie  |  Jake White  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.