Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hoofborg DHL gee WP groot hupstoot

Die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se beroepsrugbyvleuel, Westelike Provinsie Professionele Rugby (WPPR), het ’n groot hupstoot gekry met die hernuwing van DHL as sy hoofborg.

DHL, wat al sedert 2011 ’n borg by dié unie is, het sy kontrak tot die einde van die 2023-’24-seisoen verleng nadat dit aan die einde van verlede jaar verstryk het. In die nuusverklaring word nie gesê hoeveel die borgskap werd is nie.

Wie sal dan nou nie die hoofborg van ’n span wil wees wat deur Steven Kitshoff aangevoer word nie? Foto: Gallo Images

Dié internasionale koeriermaatskappy was by tye al haaks met die WPRU oor hoe die unie sake doen. Dit het selfs daartoe gelei dat Hennie Heymans, DHL se verteenwoordiger op die sakevleuel, in Oktober verlede jaar as ’n direkteur bedank het.

Hy het toe gesê hy stem nie saam met die koers wat die direksie inslaan nie en het die mening uitgespreek dat daar nie dringendheid was om ’n beleggingstransaksie met die Amerikaanse konsortium MVM Holdings te beklink nie. Die WPRU, wat direkteure aan WPPR afvaardig, wou nie ’n beherende belang in sy sakevleuel verkoop nie. MVM het sedertdien in die Haaie belê en die Durbanse unie is besig om met ’n dik beursie die WP se topspelers weg te rokkel – die verwagting is dat Bongi Mbonambi vir Siya Kolisi KwaZulu-Natal toe gaan volg.

Heymans, uitvoerende hoof van DHL in Afrika suid van die Sahara, het egter altyd volgehou dat die wispelturigheid in die WPRU se raadsale ’n aparte kwessie van die borgskap self is. DHL het nog altyd waarde daarin gesien.

Volgens Megan Collinicos, visepresident van bemarking vir DHL Express in Afrika suid van die Sahara, word groot waarde uit die vennootskap met die Stormers en WP ontsluit.

“Die sukses van die handelsname (wat DHL borg) wêreldwyd het ons baie geleenthede gegee om met belanghebbendes in aanraking te kom. Nie net in Suid-Afrika nie, maar in ander belangrike markte oor die wêreld heen,” het sy in ’n nuusverklaring gesê.

Die borg het ook vertroue in John Dobson, die hoofafrigter. Ebrahim Rasool het deur sy leiding as voorsitter van die WPPR ook ’n stabiele omgewing vir die beroepspanne geskep. Dis is dus deur daardie lens wat daar na dié verwikkeling gekyk moet word.

DHL het ’n groot teenwoordigheid in rugby. Hy is die logistieke borg vir die komende toer van die Britse en Ierse Leeus na Suid-Afrika en het ook vennootskappe met Wêreldrugby se sewesreeks en Rugby World Cup.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die Westelike Provinsie Professionele Rugby, het ’n stabiele omgewing vir die Stormers help skep. Foto: Gallo Images
DHL het ’n sterk band met John Dobson, die Stormers se afrigter. Foto: Gallo Images

Rasool het sy waardering vir die borgskap in die nuusverklaring verwoord.

“DHL, en die uitnemendheid wat dit na elke aspek van die besigheid bring, het sinoniem met ons spanne geraak. Ons is baie bly dat ons hierdie belangrike vennootskap kan voortsit,” sê Rasool.

“Dis ’n baie nodige mosie van vertroue in ons visie vir die toekoms en die strategie wat ons volg om dit ’n werklikheid te maak. Met DHL aan boord, is ons selfs meer vasbeslote om ons spanne na groter hoogtes te neem en spelers se lojaliteit aan die handelsnaam te beloon.”

Heymans het op sy beurt gesê dat DHL verheug is om die borgskap te kan voortsit.

“Ons het ’n sterk verbintenis met die spelers, afrigters, bestuur en personeel en dit maak ons opgewonde om te kan sien hoe die span in die komende jare gaan groei. Die spelers dra die DHL-handelsnaam met trots en ons is ewe trots om hulle as deel van die DHL-familie te hê.”

Dobson voel DHL is meer as net ’n vennoot vir die Stormers.

“Die menslike aspek maak dit baie meer as net ’n borgskap op en van die veld af,” sê hy.

“Dis ’n vennootskap wat goed werk en suksesvol is.”

Meer oor:  Dhl  |  Westelike Provinsie  |  Wpru  |  Borgskap  |  Borg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.