Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die All Blacks se eie ‘Mannetjies Roux’

Die All Blacks se eie Mannetjies Roux het hierdie week verjaar.

Grahame Thorne het Dinsdag 73 jaar oud geword. Hy is in 1970 deur die rugbyskrywer Neil Steyn met die legendariese Roux vergelyk. Dít was die jaar toe ’n jong Thorne saam met die All Blacks deur die land getoer en mense met sy avontuurlustige spel meegevoer het.

Grahame Thorne in aksie vir Noord-Transvaal in die vroeë 1970’s. Foto: Die Ligbloues

Thorne kon, as hy wou, ook vir Nieu-Seeland krieket gespeel het. Hy het egter besluit om hom eerder op rugby toe te spits.

Eintlik het hy direk ná skool ’n tyd lank opgehou rugby speel omdat hy eerder ’n skeidsregter wou word. Gelukkig het iemand sy arm gedraai om weer te begin speel en nie lank nie, toe is hy ’n All Black.

Volgens Steyn was Thorne op daardie 1970-toer “oral”.

“Dit is hy wat saam met Min Shaw gaan sing het op Bethlehem, dit is hy wat eerste met enige nuwe speelding te voorskyn gekom het, dit is hy wat soos ’n klein seuntjie altyd voor op die wa was, wat gevra het om prof. Chris Barnard te ontmoet, wat oral voor was,” skryf Steyn in Weer Wêreldkampioene.

Nog ’n rugbyskrywer, Fred Labuschagne, beskryf Thorne as “ ’n grapmaker op die veld”, wat soms oor die breedte van die veld gehardloop het en spelers gepypkan het sonder om ’n meter veld te wen.

Daardie beskrywing klink eerder na iemand soos wyle Gerbrandt Grobler as Mannetjies Roux, maar Grobler was in 1970 nog nie op die toneel om ’n vergelyking af te dwing nie.

“Hy (Thorne) het dalk meer vriende op toer gemaak as enige ander All Black,” skryf Labuschagne in All blacked-out.

Volgens Labuschagne was Thorne “vol pret” en altyd bereid om met die “plaaslike mense” te gesels en om skole te besoek.

Thorne was blykbaar ook ’n rokjagter soos min en hy was glo bang dat sy verloofde in Nieu-Seeland van sy romantiese avonture in Suid-Afrika sou uitvind.

Labuschagne was ook van mening dat Thorne gereeld deur die All Blacks op vleuel “gemors” is en dat hy – soos hy by ’n paar geleenthede gewys het – ’n baie gevaarliker wapen op senter was.

In sommige wedstryde het Thorne die soort rugby gespeel en die soort drieë gedruk wat deesdae by veral Nieu-Seelandse spanne in Superrugby gesien word.

So was daar die kragmeting met Noordwes-Kaap in Upington, wat die All Blacks met 26-3 gewen het.

Die besoekers het agt drieë gedruk, met Thorne wat drie daarvan bygedra het (’n drie was toe net 3 punte werd).

Vir die een drie het Thorne op sy eie doellyn begin hardloop. Hy het twee fop-skêrbewegings gedoen en toe het hy regtig ’n skêr met Malcolm Dick uitgevoer.

Dick het op sy beurt ’n fop-skêrbeweging gedoen, gemaak of hy die bal vir iemand uitgee, dit toe regtig gedoen en toe kry Bill Davis die bal en hy gee vir niemand anders nie as Thorne, wat die drie druk.

Toe die toer eindig, het Thorne in die land agtergebly en vir Noord-Transvaal en Natal gespeel.

Grahame Thorne soos hy ’n paar jaar gelede gelyk het. Foto: Getty Images

Toe hy in 1974 terug is Nieu-Seeland toe, het hy nog so ’n bietjie klubrugby gespeel. In daardie tyd is hy gereeld ná wedstryde in Auckland in die Auckland Station-hotel se kroeg gesien met ’n bierbeker wat om sy nek vasgeketting is.

Thorne, wat eers met ’n Suid-Afrikaanse vrou getroud was en ná hulle geskei is met ’n Nieu-Seelandse een afgehaak het, se gesinslewe was maar onstuimig.

Sy een seun, Bruce, wat vir Transvaal rugby gespeel het, is in 2009 in ’n motorongeluk oorlede.

Sy ander seun, David, het sy rug in 2006 ernstig in ’n klubwedstryd beseer en het ook ’n beroerte gekry.

Thorne het hom later in die politiek begewe en was van 1990 tot 1993 ’n lid van die parlement. Hy is deesdae meer as ’n aanbieder van kosmaakprogramme op televisie bekend.

Hy het 39 wedstryde vir die All Blacks, insluitend tien toetse, gespeel.

* Kyk hier hoe doen Thorne ’n paar jaar gelede die haka in ’n kroeg:

Bronne: Weer Wêreldkampioene – Neil Steyn; All blacked-out – Fred Labuschagne; The Diamond Fields Advertiser; nzherald.co.nz.

Meer oor:  Mannetjies Roux  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Grahame Thorne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.