Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Bok-dokter met die wit wolfkop
Dr. Konrad von Hagen verlede jaar aan die werk gedurende die Wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en Engeland in Jokohama. Links is Bongi Mbonambi en regs die nuwe Bok-breier, Jacques Nienaber.Foto: Gallo Images

’n Geheimsinnige man met ’n wit wolfkop het ’n paar keer al grommend sy verskyning op van die Springbokke se sosiale byeenkomste verlede jaar by die Wêreldbeker-toernooi in Japan gemaak.

Hierdie “wolfman” was nie ’n weerwolf nie en was ook nie daar om die Bokke se WB-veldtog te saboteer nie. Inteendeel, op sulke geleenthede was die wolfman baie gewild by die Bokke en is hy deur hulle op die hande gedra.

Daar kan vandag onthul word dat die wolfman inderdaad die Bokke se spandokter, dr. Konrad von Hagen, was, wat maar net ’n paar ligte oomblikke verskaf het.

“Ek het die wolfkop daar iewers in Japan gekoop en sommer baie pret daarmee gehad,” vertel Von Hagen (47) hierdie week in sy nuwe kantoor in Kaapweg, Port Elizabeth.

Sy kontrak van vier jaar met die Bokke het tot ’n einde gekom en hy beplan om vir eers ’n bietjie minder weg van die huis af te wees.

Dr. Konrad von Hagen stap saam met ’n beseerde Lood de Jager van die veld af. Volgens hom is De Jager “nogal ’n skerp ou”. Foto: Gallo Images

“Die laaste tien jaar was ek regtig min by die huis. My kinders het deur die jare al daaraan gewoond geraak dat ek elke nou en dan weggaan, hulle huil nie eens meer nie. Hulle vra net: ‘Oor hoeveel weke sien ons jou weer, Pappa?’ ” vertel Von Hagen.

Veral die laaste vier jaar – en spesifiek verlede jaar – saam met die Bokke was baie besig.

“Rassie (Erasmus) het ons (die spelers en beamptes) vroeg verlede jaar bymekaar gekry. Toe sê hy: ‘Luister, ons gaan vir 20 weke saam wees. Werk jou plan uit hoe jy gaan cope daarmee en wanneer jy jou familie en vriende wil sien’,” sê Von Hagen.

Gedurende daardie 20 weke het Von Hagen sy gesin so drie keer gesien. Dalk daarom dat sy groot hoogtepunt van sy tyd saam met die Bokke was dat sy gesin almal ook in Jokohama was toe die Bokke die Wêreldbeker gewen het.

“Dit was ongelooflik om ná die eindstryd saam met Ansa (sy vrou) en my kinders op die veld te wees,” sê Von Hagen.

Die ouens (Bokke) was ’n ongelooflike groep. Hulle was baie toegewyd. Daar was soveel ystermanne in daardie span.

Ansa is ook ’n mediese dokter. Die Von Hagens het een seun, Arné (16), en twee dogters, Lana (14) en Mila (8).

Von Hagen was nog altyd gek oor sport. Maar verbasend genoeg het hy al op 13-jarige ouderdom in sy laerskool (Laerskool Andries Brink in Pretoria) se jaarboek geskryf dat hy eendag die Springbokke se spandokter wil word.

Hy het self rugby gespeel totdat hy 28 jaar oud was.

“Ek was ’n losvoorspeler of binnesenter,” vertel Von Hagen. “Ek het op klubvlak vir Centurion gespeel en toe ek in 1999 in Engeland gewerk het, het ek vir die Telford Hornets uitgedraf.”

Von Hagen hou homself besig gedurende ’n Bok-oefening. Die dokter het self rugby gespeel totdat hy 28 jaar oud was.Foto: Gallo Images

Von Hagen het ook al 12 keer die Comrades-marathon kafgedraf en vier keer die Ysterman-byeenkoms voltooi.

Nadat hy van Engeland af teruggekeer het, het hy eers by die Madibaz as spandokter begin help. Toe word hy in 2004 die Oostelike Provinsie se spandokter en in 2013 die Southern Kings s’n.

Hy het ook in 2002 by die Warriors se krieketspan betrokke geraak en help steeds dié span se spelers met hul skete.

Von Hagen was in 2006 en 2007 ook die Proteas se spandokter, so op ’n manier kan ’n mens seker sê hy is ’n “dubbele Springbok”.

“Gelukkig hou ek van reis. Wanneer ek saam met ’n span weg is, gebruik ek my vrye tyd om soveel moontlik te sien,” sê Von Hagen.

“Japan was verlede jaar ’n ongelooflike ervaring en ek love Argentinië, selfs Salta het sy interessante plekkies. My gunsteling-plek om te besoek was egter Edinburg in Skotland. Ek is mal oor daardie ou stad en sy fanatiese rugbyondersteuners.”

Hulle (die toeskouers) klap nie hande nie, hulle boo ook nie ... Dis tjoepstil. Dis bisar. Dit het my altyd uitge-freak.

Volgens hom was die “freaky-ste” stadion wat hy nog saam met ’n sportspan besoek het, die José Amalfitani-stadion in Buenos Aires.

“Dit was ’n groot hoogtepunt toe ek in 2017 daar saam met die Kings was en ons teen die Jaguares gewen het. Hulle (die toeskouers) klap nie hande nie, hulle boo ook nie. Jy druk ’n drie en jy dink dit was seker ’n vorentoe-aangee, want daar is niks. Dis tjoepstil. Dis bisar. Dit het my altyd uitge-freak. Hulle speel net elke nou en dan so ’n grom van ’n jaguar . . . hrrrrrr . . . oor die luidsprekers,” onthou Von Hagen.

Die gesprek draai die heeltyd terug na die Bokke se WB-oorwinning in Japan.

Die Bokke het die Wêreldbeker gewen en die dokter se gesin was ook daar! Van links is Lana, Ansa, Konrad, Mila en Arné. Foto: Verskaf

“Die ouens (Bokke) was ’n ongelooflike groep. Hulle was baie toegewyd. Daar was soveel ystermanne in daardie span, ouens soos Duane (Vermeulen) en Pieter-Steph (du Toit). As ’n ou bly lê het, het jy geweet daar is regtig fout, daardie ouens is nie kleinserig nie. Hulle het ongelooflik hard gewerk. Daar was maar min kans om weg te breek.

“Gelukkig was daar ’n paar ouens, soos Lood (de Jager) en Handré (Pollard) wat ’n ligter oomblik verskaf het wanneer dinge te ernstig geraak het,” vertel Von Hagen.

Sy dae saam met die Bokke het baie vroeg begin (“Rassie rus nooit”) en laat geëindig.

“Ek het eers lank ná die Wêreldbeker-toernooi besef dit was heeltyd in my kop en deel van my. Ek het nooit regtig besef hoeveel onderliggende stres ek gehad het nie. Al was jy nie die hele tyd besig nie, vat dit jou gedagtes heeltemal oor,” sê Von Hagen.

Daarom dat hy die rustiger tyd saam met sy gesin nou so geniet.

“Ons baklei net oor die TV se remote,” vertel hy laggend. “Ja, dit was lekker om so ’n ruk lank net af te vat en niks te doen nie.”

Maar hy is ook nie een wat vir ewig net kan stilsit nie. Die verf teen die mure van sy nuwe kantoor in die Baai was nog skaars droog toe trek hy in.

Daar is tans weens die Covid-19-pandemie nie sport nie, maar vir ’n dokter is daar altyd werk.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Konrad Von Hagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.