Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok wat rugby vir godsdiens los

Rugbyspelers is suiplappe en hoereerders en die ware geloofsmens moet nie met hulle meng nie.

Hierdie woorde, wat in 1953 deur die Springbok Daantjie Rossouw geuiter is, het destyds die rugbywêreld geruk. Veral omdat Rossouw toe ook summier sy uittrede uit rugby aangekondig het.

Daantjie Rossouw het in twee toetse vir die Springbokke gespeel voor hy besluit het om hom eerder met godsdiens besig te hou. Foto: Die Oosterlig

Rossouw wou weens sy Christelike oortuigings nie meer rugby speel nie.

“Laat jou liggie skyn, Daantjie!” het dr. Danie Craven destyds die land se rugbybaas, Rossouw gesmeek.

Maar Rossouw wou nie luister nie. Op 24-jarige ouderdom was hy klaar met rugby.

Ander rugbyspelers het deur die jare hulle geloof op ander maniere uitgeleef.

Daar was onder andere Dawie de Villiers en Darius Botha, wat dominees was terwyl hulle nog gespeel het.

En wat van Jannes Labuschagne? Die groot voorspeler is in November 2002 vreeslik sleggesê toe hy die Engelse losskakel Jonny Wilkinson gevaarlik en laat geloop het en van die veld af gestuur is.

Die Bokke het daardie dag in Londen met 3-53 teen Engeland verloor.

Labuschagne is deur diep driwwe, maar hy het aangehou speel. Hy het geestelik sodanig gegroei dat hy deesdae ’n pastoor is wie se preke ook op die internet baie gewild is.

Jannes Labuschagne, wat hier die trekpas kry op Twickenham in 2002, is deesdae ’n gewilde pastoor. Foto: Gallo Images

Maar Daantjie Rossouw . . . wat ’n tragiese verhaal!

Die joernalis Koos van der Merwe het 50 jaar gelede met hom oor sy omstrede besluit gesels en toe daaroor in Die Oosterlig geskryf.

Toe het Rossouw gesê hy is bitter spyt dat hy die spel so vroegtydig gegroet het.

“As ek die verlore jare (wat hy sy rug op rugby gekeer het) kan terugwens, sal ek elke sent gee wat ek besit,” het Rossouw gesê.

Rossouw was net 19 jaar oud toe hy al in 1951 vir Noord-Transvaal gespeel het.

’n Jaar later is hy Maties toe waar hy nog meer aandag getrek het met sy avontuurlike senterspel.

In Mei 1953 is Daantjie vir die Westelike Provinsie vir ’n vriendskaplike wedstryd teen Transvaal op Nuweland gekies.

Hy is daarna genooi om die Springbok-proewe by te woon, maar hy het gedink dat hy nie regtig ’n kans staan om die span te haal nie.

Ek het myself so opgewen dat ek naderhand op die randjie van ’n senuwee-instorting was. In dié emosionele toestand het ’n studentemaat oor godsdiens met my kon praat.

Hy besluit toe om eerder saam met ’n gekombineerde Maties- en Ikeys-span na Rhodesië (nou Zimbabwe) te toer.

Met sy terugkoms is hy vir ’n universiteitespan, wat die Woensdag voor die tweede toets teen die Wallabies sou speel, gekies.

Rossouw was daardie dag skitterend en die keurders het hom onthou toe die Bokke se een senter, Tjol Lategan, beseer is en nie in die derde en vierde toetse kon speel nie.

Só het dit dan gekom dat Rossouw saam met Ryk van Schoor die senterpaar in daardie twee toetse was.

In altwee toetse het Rossouw uitgeblink en daar is vir hom ’n groot toekoms as internasionale speler voorspel.

Maar toe haak Rossouw se kop uit.

“Ek was in my finale jaar LLB. Drie keer per week het ek rugby geoefen en nog Saterdae gespeel ook,” het Rossouw aan Van der Merwe vertel.

“Ek het myself so opgewen dat ek naderhand op die randjie van ’n senuwee-instorting was. In dié emosionele toestand het ’n studentemaat oor godsdiens met my kon praat.”

Volgens Rossouw het hy toe “die kluts heeltemal kwyt” geraak.

Ryk van Schoor (links) en Tjol Lategan was lank die Springbokke se senterpaar tot Lategan in 1953 beseer is. Daantjie Rossouw het Lategan vervang. Foto: Huisgenoot

“My uitlating dat die ware geloofsmens nie behoort te meng met suiplappe, hoereerders en diesulkes wat die meeste rugbyspelers sou wees nie, is deur al wat ’n koerant was, opgeneem,” het Rossouw onthou.

Rossouw het sommeer sy studies ook opgeskop en hy het in die Noord-Kaap gaan boer.

Vir vier of vyf jaar het hy hom glo met “geestelike dinge” besig gehou.

Algaande het hy tot ander insigte gekom en in 1961 het hy op Upington weer begin klubrugby speel.

Dis waar dit gebly het. Hy kon nie eens Griekwas se span haal nie.

Rossouw was darem gelukkig getroud en hy en sy vrou, Marietjie, het drie seuns gehad.

Dit het hom nie gepla dat hy sy studies opgeskop het nie.

“Maar die rugby, ai.”

Oor godsdiens het hy hom destyds as volg teenoor Van der Merwe uitgelaat: “Godsdiens is noodsaaklik in ’n mens se lewe, dit moet ’n stabiliserende faktor wees, pleks van mee te help dat jy jou ewewig verloor, soos ek.”

* Rossouw, wat Daniël Hendrik gedoop is, is in 2010 in die ouderdom van 79 in Mosselbaai oorlede.

Meer oor:  Geloof  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.