Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié Bokke laat broeke bewe, sê breker Bryan
Bryan Habana glimlag breed saam met Jake White en die William Webb Ellis-trofee nadat die Bokke die Wêreldbeker in 2007 gewen het. Die Klas van 2019, sê hy, kan beslis vanjaar ook so maak. Foto: Getty Images

Soos die Springbokke die afgelope vier weke gespeel het, sit elke ander span in wêreldrugby sekerlik nou kiertsregop en dink, ‘Dié ouens moet ons vir so lank as moontlik vermy.’

Só sê die oud-Bok-vleuel Bryan Habana, in reaksie op die Suid-Afrikaners se uitmuntende Rugbykampioenskap, waarin hulle onoorwonne gebly het.

Habana was ’n prominente lid van die Springbok-span wat in 2007 die Wêreldbeker gewen het – hy was om die waarheid te sê die Speler van die Toernooi – en sê hy kan hom dit maklik indink dat die Klas van 2019 ook hul vingerafdrukke op daardie trofee sal plaas.

Ek dink die enigste probleem is nou dat geen span al die Rugbykampioenskap en Wêreldbeker in dieselfde jaar kon wen nie, maar ek sien ook geen rede hoekom hierdie span nie die eerste kan word nie
Bryan Habana

“Die span was die laaste paar weke absoluut briljant. Ek dink die enigste probleem is nou dat geen span al die Rugbykampioenskap en Wêreldbeker in dieselfde jaar kon wen nie, maar ek sien ook geen rede hoekom hierdie span nie die eerste kan word nie,” het Habana die afgelope week by Mastercard se hoofkantoor in Johannesburg gesê.

“As ek terugdink aan 2007 onthou ek hoe spesiaal dit vir ons almal was om die trofee te lig, maar niks kon ons voorberei op wat op ons gewag het toe ons teruggekeer het huis toe nie.

“Daar was kinders in die landelike gebiede wat agter ons bus aan gehardloop het, kinders in wie se oë jy die hoop en inspirasie gesien het wanneer jy met hulle gepraat het. Geen ander beroep in die wêreld gee jou dit nie, en dis iets waaroor ek altyd bevoorreg sal voel.

Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke.

“Nou sien ons ’n groep Springbokke wat ook die kans het om ’n erfenis te laat en wat reeds besig is om dit te doen. Dit wat ons die laaste weke gesien het dui aan dat hulle op die regte pad is en dat hierdie 18 maande van groei en die volbringing van Rassie (Erasmus, die Bok-afrigter) se planne baie maklik kan uitloop op Wêreldbeker-sukses.

“Ek dink Rassie-hulle sou baie teleurgesteld gewees het met hul 50%-suksesrekord verlede jaar en boonop was dit ’n merendeels teleurstellende Superrugby-veldtog vir Suid-Afrika.

“Maar dit alles vervaag as jy kyk hoe hierdie Bokke nou speel. Vir die eerste keer sedert 1998 het hulle nie ’n wedstryd in die Kampioenskap (Drienasies) verloor nie. Dit bied alles goeie tekens vir die Wêreldbeker.”

Terwyl Habana in sy hoedanigheid as Mastercard-ambassadeur by die Wêreldbeker-toernooi sal aankom met groot ideale vir sy opvolgers in die Bok-trui, besef hy ook hulle is maar net een van ’n aantal spanne wat mag durf om te droom.

“Ek dink ons gaan in Japan die oopste Wêreldbeker-toernooi ooit sien. Kyk net wat het die Wallabies die afgelope naweek teen die All Blacks gedoen. Enige van die voorste ses spanne in die wêreld kan daai trofee wen.”

Meer oor:  Bryan Habana  |  Rassie Erasmus  |  Pretoria  |  Toets  |  Rugby  |  Vleuel  |  Wereldbeker  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.