Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Springbokke se vasvaljare

Dit was die jare toe Joggie Jansen en Mannetjies Roux teen die All Blacks gespeel het, maar ook ’n tyd van politieke onstuimigheid. Bun Booyens vertel van die stormagtige 1970’s en 1980’s.
Die Springbok-haker Piston van Wyk verlaat die veld tydens die tweede toets van 1970. Dié toets op Nuweland word beskou as een van die taaistes nog tussen die Springbokke en All Blacks. Foto: John Rubython

Die reeks van 1970 was een van die bestes van die eeu vir die Springbokke. Stem jy saam?

Beslis. Vir die eerste keer kom toer ’n volsterkte All Black-toerspan met Maori-spelers hier, boonop onoorwonne die vorige vyf jaar. Dok (Danie) Craven het geen kans laat verbygaan om hulle aan te prys as die wêreld se beste span nie, maar tog, daar was iets in die lug wat ’n mens laat voel het ons kan vir Goliat pootjie.

Ek was toe tien jaar oud en onthou die gees van 1970 goed. Die Aussie-krieketspan het aan die begin van die jaar hier kom toer en Barry Richards en Graeme Pollock het hulle aan flarde geslaan. En as ons die magtige Aussies 4-0 op die krieketveld kon klop, kon ons ook die All Blacks op die rugbyveld wen.

Die eerste toets: Joggie Jansen se duikslag op Wayne Cottrell en die “Syddie! Syddie!"-drie . . .

Onvergeetlik. Rugby is een van die min spansporte waar die uitkoms van ’n wedstryd of ’n reeks binne twee of drie sekondes kan verander. In krieket moet jy eers drie of vier paaltjies vat of iemand moet ’n honderdtal slaan en dan begin die gety draai. In rugby het jy net een duikslag soos daai een van Jansen nodig – “the tackle that was felt on the other side of the world”, soos een joernalis dit beskryf het.

Gaan kyk ook op YouTube na die vierde toets. Jansen het daar vir nog ’n deurslaggewende oomblik gesorg toe hy die All Black-senter Gerald Kember platgeloop het. Mannetjies Roux het die bal opgepik en vir die vleuel Gert Muller gegee om te gaan druk. Ons het die toets naelskraaps met 20-17 en die reeks met 3-1 gewen.

Hoekom was die gees in 1976 so anders met die All Blacks se toer?

Die Springbok-flank Jan Boland Coetzee vat die All Black-skrumskakel Sid Going vas in die reeks van 1976.

Dit was ons beurt om in Nieu-Seeland te gaan speel, maar die teenkanting daar was te erg weens apartheid, toe kom die All Blacks eerder hiernatoe – en toe boikot ’n stuk of 30 Afrikalande die Olimpiese Spele uit protes én die All Blacks kom hier aan net ná die Soweto-opstand. Hulle het baie opgeoffer om hier te wees, maar hulle was om die verkeerde redes op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Springbok-rugby was toe ook nog effens van balans af ná die vernedering deur Willie John McBride se Leeus van 1974 ...

Ja, dit was nogal ’n fiasko. Die keurders het op die ou end 33 spelers in die vier toetse gebruik. Ek onthou hoe my pa, toe al anderkant 60, destyds gesê het hy is versigtig om in die tuin te gaan werk, want hy’s bang die keurders sien hom en kies hom vir die Bokke.

En wat gebeur toe in 1976? Al vyf daardie keurders – Johan Claassen, Nelie Smith, Daan Swiegers, Ian Kirkpatrick en Butch Lochner – is steeds aan die stuur. Die kans op ’n nuwe benadering teen die All Blacks was basies nul en ons val toe terug op tienman-rugby met Gerald Bosch op losskakel.

Maar dit het gewerk, ons het die reeks met 3-1 gewen.

Nee en ja. Bosch het in daardie reeks nie waffers geskop nie, veral nie in die eerste drie toetse nie. Ek dink net agt uit 19 van sy stelskoppe was oor. Enige dorpspan se losskakel met ’n paar North Star-tekkies kan beter as dit vaar.

Ons kan ons sterre dank die All Blacks het selfs swakker geskop. Die rugbyjoernalis van Beeld Quintus van Rooyen het destyds gaan tel: Hul eerste 20 pogings pale toe op daardie toer was almal mis. Rooi liggies moes toe al begin flikker het.

Op die ou end het ons die vierde toets met ’n enkele punt gewen, 15-14. Hulle was bitter kwaad vir die skeidsregter en het steen en been gekla. Van Rooyen skryf dat die ’76-toer eindelik nie hegter bande tussen die twee lande gesmee het nie; daar was eerder ’n mate van verbittering by die Nieu-Seelanders.

Vir die eerste keer het die vraag opgekom of als die moeite werd is te midde van die sportboikot teen Suid-Afrika.

All Blacks wat jy sou uitsonder?

Sid Going was op sy stukke. Die talentvolle vleuel Grant Batty se knie was beseer en hy moes waarskynlik nie getoer het nie. Bryan Wil­liams was steeds ’n puik vleuel, maar nie meer so gevaarlik soos in 1970 nie. Billy Bush, die stut, was veral ’n kleurryke speler.

Mense sê oordrewe provinsialisme het in die 1970’s posgevat. Stem jy saam?

Ek weet nie, ek het maar net my indrukke as kind. Ek onthou wel daar was in 1975 ’n Springbok-spanfoto in Die Huisgenoot, dink ek, waar die flank Kleintjie Grobler met ’n lekker blouoog staan nadat Morné du Plessis hom glo in die proefwedstryd geslaan het.

Destyds is gesê die res van die land wou vir Du Plessis “afhaal” omdat hulle nie ’n WP-man as Springbok-kaptein wou hê nie. Ek weet nie of dit waar is nie, maar Grobler het met ’n shiner vir die spanfoto aangemeld.

Die 1981-toer. Doringdraad, knuppels en meelbomme.

Ek was daardie jaar oorsee en het saam met ’n Kiwi getoer. Hy kon nie glo wat hy sien nie: Nieu-Seeland in twee geskeur deur die Springbokke se teenwoordigheid daar. Ek onthou hoe sielsontsteld hy oor die geweld was. Dit het my laat besef hoe eensydig ek destyds die hele kwessie beleef het. Met elke toer het ons effens leedvermakerig gedink, lekker, ons het weer die boikot omseil en solank ons teen die All Blacks kan speel en wen, kan geen ander land daarop aanspraak dat hulle die beste in die wêreld is nie.

Groot oomblikke van daardie toer?

Dit was ’n puik Springbok-span, maar die oomblik wat ’n mens helaas nie sommer kan vergeet nie, is hoe daardie skeidsregter die Springbokke in die doodsnikke van die laaste toets gestraf en die reeks op ’n skinkbord aan die All Blacks gegee het. Ek dink dit was ’n puik Springbok-span en hulle het verdien om te wen.

Maar die oomblik om te onthou was op pad terug uit Nieu-Seeland toe die Springbokke ’n toets teen die VSA gaan speel het. Ook daar moes hulle wegkruip vir die betogers en die wedstryd is iewers op ’n poloveld gespeel. Thys Burger was ’n reserwe en hy moes help om die doelpale op te rig en toe ook vlagman wees. Die magtigste rugbyland van die eerste 80 jaar van die eeu speel in die geheim voor ’n skare van skaars 30 . . .

Die Kavalierstoer van 1986: Hoe sou die Bokke die jaar daarná in die eerste Wêreldbeker gevaar het as ons toegelaat is om deel te neem?

Die Springbokke het die Kavaliers oortuigend geklop en ja, ek weet John Kirwan en David Kirk was nie hier nie.

Net so sou ’n mens kon sê die Bokke het vir Rob Louw en Ray Mordt aan geld-rugby afgestaan weens die sportboikot.

Naas Botha, Carel du Plessis, Moaner van Heerden, Johan Heunis, Gert Smal . . . ek sien geen rede hoekom ons nie daar sou kon wen nie.

Luister na Bun Booyens en Marco Botha se podsending oor die stryd tussen die All Blacks en die Springbokke op Netwerk24. Episode 7 word môre uitgesaai en die slotepisode Donderdag.

Luister na Bun Booyens en Marco Botha se podsending oor die stryd tussen die All Blacks en die Springbokke op Netwerk24. Episode 7 word op Dinsdag 13 April uitgesaai en die slotepisode Donderdag.

bloed, sweet, modder
'Bloed, sweet, modder'

Booyens is ’n voormalige redakteur van Die Burger.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Springbokke  |  Bloed  |  All Blacks  |  Sweet En Modder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.