Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Bokke voel dit: Die WB is hier!

Toe hulle Vrydagoggend opstaan, het dit hulle getref: Die Wêreldbeker-toernooi is nou amptelik hier.

“Ek dink die ganse Japan het vanoggend wakker geword met die wete dat die Wêreldbeker hier is en ek is seker al die ander spanne sal dieselfde gevoel as ons beleef,” het Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, Vrydag by sy eerste amptelike WB-nuuskonferensie gesê.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, Vrydag by sy eerste amptelike Wêreldbeker-nuuskonferensie. Foto: Gallo Images

Vrydag was die 12de oggend wat die Bokke in Japan wakker geword het. Dit was egter die eerste dag van hul amptelike WB-verpligtinge.

“Ons het vanoggend in busse met Wêreldbeker-embleme op gery, anders as die gewone Kagosjima-busse. Die beamptes het Wêreldbeker-hemde gedra, ons het ons akkreditasie rondom ons nekke gedra by die oefenveld. Jy kan beslis ’n verskuiwing in die atmosfeer voel,” sê Erasmus.

Die Bok-breier sê die span het vir drie hoofdoelwitte gehad toe hy vroeër as die ander spanne in Japan aangeland het.

Eerstens wou hulle aan die Japanse kultuur gewoond raak.

“Die kultuur is baie anders as in Suid-Afrika. Ek dink ons is nou gewoond aan hoe die mense hier dink en optree,” sê hy.

Ek het nog nooit by ’n WB-toernooi gesien dat die mense van die gasheerland jou eie embleem, die Springbok-embleem, dra nie. Dit is ongelooflik.
Rassie Erasmus

Die volgende doelwit was om “wedstrydtyd teen teenstanders van gehalte” agter die blad te kry. Dít, sê Erasmus, het hulle in die sege met 41-7 oor Japan reggekry.

“Hulle het baie strawwe mededinging gebied en ons het daardie wedstryd boonop gewen, so daardie boksie is afgetiek.

“Derdens, en dit is waaroor almal hier praat, wou ons aan die toestande gewoond raak. Dit is baie anders in Suid-Afrika. Nie net met die hitte nie, maar ook die bedompigheid.

“Daardie was die drie grootste doelwitte. Dan wou ons ook as ’n span nader aan mekaar kom en dít het ons ook gedoen.”

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, en sy spanmaats moes Vrydagoggend vir die eerste keer hul Wêreldbeker-akkreditasie om die nek dra. Foto: Gallo Images

Die Bokke het hul tyd in Kagosjima terdeë geniet, sê Erasmus. Hulle het plaaslike kos soos soesji geëet en die kaptein, Siya Kolisi, sê, hy het selfs ’n vulkaan gaan besoek wat uitgebars het terwyl hy daar was.

Die breier sê die Japanse publiek is opsigtelik in rep en roer oor die toernooi.

“Ek het nog nooit by ’n WB-toernooi gesien dat die mense van die gasheerland jou eie embleem, die Springbok-embleem, dra nie. Dit is ongelooflik,” sê Erasmus.

“Dit laat ons baie welkom en trots voel. Ek dink die Japanse mense kan ook baie trots wees op hoe verwelkomend hulle is.”

Met die eerste deel van hul sending voltooi, vertrek die Bokke Saterdag na Tokio, waar die werklike missie begin.

Van nou af fokus die Bokke uitsluitlik op hul openingswedstryd op 21 September teen die All Blacks in Jokohama.

Erasmus, wat meen die Springbok-span het sy lot omgekeer deur meer bestendig te wees, sê daar is bitter min te kies tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland voor volgende naweek se wedstryd.

“Daar is bitter min verskil tussen ons en Nieu-Seeland in die laaste vier wedstryde wat ons teen mekaar gespeel het,” sê Erasmus.

“Volgende naweek gaan weer ’n naelbytwedstryd wees. Dit is moeilik om te sê wie die wedstryd gaan wen, dit kan iets kleins soos ’n aanslaan, ’n skepdoel of ’n skeidsregterbeslissing wees.

“Ons sal goed voorberei, soos wat ons vir die laaste 18 toetse voorberei het. Soms speel geluk ’n groot rol.

“Ek dink spanne nr. 1 tot 6 op die wêreldranglys het ’n kans in dié toernooi.”

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.