Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die bus wat ’n Springbok sou baar

Dit het alles tussen hoendermis en blêrende bokke begin.

Beast Mtawarira omhels sy kinders, Talumba en Wangu, ná die Wêreldbekereindstryd van 2019. Sy nuutste droom is om deur sy Beast-stigting kinders van oor die land heen te help om hul potensiaal te verwesenlik. Foto: Getty Images

Op ’n somersoggend in 2002 het ’n 16-jarige Tendai “Beast” Mtawarira vir homself ’n gaatjie gevind tussen die kleinvee en reisende mense op die lendelam “chicken bus” van Harare na Marondera, om ’n droom te jaag wat op geen ander manier kon waar word nie.

Agter hom in Harare was die Churchill School, waar hy vir vyf jaar om en oor ander seuns op die rugbyveld gehardloop het.

En voor hom in Marondera was Peterhouse Boys’ School, waar hy geglo het sy rugbydrome sou vlerke kry. Hy het vir niemand gesê hy gaan daarheen om te pleit vir ’n beurs nie. Hy het bloot geglo so ’n alleenrit sou wys hy is bereid om te gaan haal wat hy wil hê.

Mtawarira is blinkoog terwyl hy die afgelope week vertel van die halsoorkop-rit wat nou sy eerste treë na Wêreldkampioen-status vergestalt. Dit was dapper, gee hy toe, en twee dekades later waardeer hy ook hoe ’n ongelooflike verhaal dit is.

Hy weet hy is ’n wandelende bewys van wat gebeur as jy jou gemaksone verlaat omdat jou hart na iets anders smag.

“Ek was in daardie stadium in ’n staatskool, maar dit was ’n obsessie vir my om in te kom by Peterhouse,” sê hy. “Ek het net geweet dis die plek waar my rugby sou vlerke kry, want hulle het die beste geriewe gehad – gimnasiums, rugbyvelde, goeie afrigting . . . Maar dit was ook heeltemal vergesog, want my ouers kon dit nie bekostig om my daarheen te stuur nie. En elk keer dat ek na Peterhouse uitgereik het om te vra vir ’n kans, moes ek hoor hulle gee nie sportbeurse nie.

“So toe besluit ek een aand ek gaan die volgende oggend op die ‘chicken bus’ klim en die skoolhoof in die oë kyk terwyl ek vir my kans vra.

Ek het vas geglo hy sal my nie kan weier as ek voor hom staan en my storie vir hom vertel nie.

“Dit is omtrent 100 km van Harare na dié skool, so dit het nogal ’n rukkie gevat om daar te kom. Ek het ook die hele tyd gestaan, want daar was hoenders op die sitplekke en bagasie oral. Maar die tyd het gou verbygegaan, want ek was verskriklik op my senuwees.”

Mtawarira glimlag terwyl hy vertel hoe hy sonder ’n afspraak aangedring het om die skoolhoof te sien. “Ek het vas geglo hy sal my nie kan weier as ek voor hom staan en my storie vir hom vertel nie. Ek onthou sy oë het wyer en wyer gerek, hy was geskok deur hierdie kind wat op ’n bus geklim het om hom te kom sien, maar hy het dit ook waardeer. Hy het gesê ek sou moes wag tot die volgende jaar, maar dit was genoeg. Ek moes tien maande wag, maar ek was tevrede.”

Enigiemand wat die Mtawarira-storie ken, weet hoe die res van sy verhaal ontvou. Hy het Peterhouse se eerste span in 2004 aangevoer en is raakgesien deur die Haaie toe sy skoolspan in Durban gaan toer het. Teen 2005 was hy by die Haaie-akademie, waarheen hy aanvanklik elke dag geloop het, en later met sy fiets gery het.

Foto: Getty Images

Hy was ’n flank, soms selfs ’n slot. Maar in 2006 het Dick Muir en Swys de Bruin besluit om hom op stut aan te wend . . . en die res is geskiedenis.

Twee jaar later was hy ’n Springbok, wat die veteraan Phil Vickery in die klere van Engeland én die Britse en Ierse Leeus laat huis toe verlang het. ’n Roemryke Bok-loopbaan wat 117 toetse opgelewer het, is in 2019 ná 11 jaar afgesluit met ’n Wêreldbekereindstryd waarin hy die veteraan Dan Coles behoorlik gefrommel het.

Mtawarira beskryf hom deesdae as ’n “eks-rugbyspeler”, nadat sy beplande swanesang by Old Glory in Washington DC ná net twee maande deur die koronaviruspandemie kortgeknip is.

Vir rugby en die lesse wat dit hom geleer het, sal hy altyd dankbaar wees. Veral die Bokke se Wêreldbekerveldtog het ’n blywende indruk op hom gemaak, sê Mtawarira.

“Ek het daar gesien dat diversiteit en inklusiwiteit ’n magtige rol te speel het in wat ons in die land en op die vasteland probeer vermag,” sê hy.

“Ek glo dis die grondslag waarop daardie span se sukses gebou was. Ons het mekaar as broers omhels, ongeag ons verskille, ons rasse, ons kleure, ons agtergronde. Dis hoe ons die onwaarskynlike gedoen het en die wêreld geskok het.

“Dis hoekom ek glo ons kan as ’n land, as Afrika, enigiets regkry as ons mekaar aanvaar en omhels, ongeag waar ons vandaan kom. Ons het dit as die Springbokke gedoen. Dit het ’n blywende indruk op my gelaat.”

Mtawarira droom groot vir Suid-Afrika én Afrika, en het sy voorneme om ’n verskil te maak die afgelope week gewys met die bekendstelling van sy Beast-stigting. Sy erns oor die saak word onderstreep deur die betrokkenheid van sy vrou, Kuziva, en voormalige Haaie-spanmaat Craig Burden as mededirekteure.

Die stigting het ten doel om geleenthede te skep en kinders van oor die land heen te mentor. Die pilare waarop hulle dit wil doen, is sport, opvoeding en lewensvaardighede, met rugby, basketbal en netbal onder die eerste kodes waarin hulle potensiële sterre wil identifiseer.

Iewers daarbuite is nog ’n jong Beast. Ons moet hom eenvoudig nou gaan vind.

“Ons eerste oefenkamp is in Junie by Kingspark, en ’n realiteitsreeks van tien episodes gaan op MTV Base uitgesaai word. Maar ons wil kinders nie net in sport help uitstyg nie, ons wil hulle help om beurse en ’n goeie opvoeding te kry, en hulle belangrike lewensvaardighede leer.

“Om so iets te doen, is al jare lank ’n droom van my. Daar is soveel mense wat my oor die jare gehelp het om te kom waar ek vandag is – ek wil dieselfde doen vir die volgende generasie. Met verloop van tyd wil ons uitbrei na ander dele van Afrika, want ek glo daar is hope goud in die mense op dié vasteland. Ons moet dit net ontgin.”

Mtawarira glo ook daar was nog nooit ’n beter tyd om vir die rugbygoud in Suid-Afrika se swart gemeenskap te begin delf as juis nou nie.

“Ons Wêreldbekersege, waarin daar soveel spelers van kleur betrokke was, het ’n saadjie geplant in elke swart kind dat, hei, ek kan ook eendag so wees, ek kan ook ’n Wêreldbekerwenner wees.

“Watter konnotasies daar ook al in die verlede aan rugby gekoppel was, is iets van die verlede. Baie swart kinders wil nou rugby speel bloot omdat hulle Siya (Kolisi) die Wêreldbeker sien lig het – die muur tussen hulle en rugby is afgebreek.

“Iewers daarbuite is nog ’n jong Beast. Ons moet hom eenvoudig nou gaan vind.”

  • Besoek www.thebeastfoundation.org vir meer inligting oor Mtawarira se stigting.
Meer oor:  Tendai Mtawarira  |  Harare  |  Springbok  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.