Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die dag toe Braam die Wallabies sink

Stelskoppers het nie die maklikste werk in die wêreld nie. Vra maar net vir Percy Montgomery en hy sal jou kan vertel hoe hy in 2001 uit die Springbok-span gepos is omdat hy glo nie goed genoeg pale toe skop nie, net om in 2007 die Wêreldbeker vir die Bokke met sy skopskoen te help wen.

Percy Montgomery is in sy speeldae nie deur al die Springbok-afrigters met die stelskopwerk pale toe vertrou nie. Foto: Gallo Images

Maar daar in 2001 was Montgomery nogal moedeloos toe hy nie gekies is vir die Bokspan, wat op 28 Julie op Loftus Versfeld in Pretoria teen Australië sou speel nie.

Dit was nadat hy die vorige week in Kaapstad ’n paar skoppe pale toe teen die All Blacks verbrou het en die Nieu-Seelanders met 12-3 baas was.

Harry Viljoen, wat toe die Bok-afrigter was, het besluit om vir Braam van Straaten op senter plek te maak sodat hy pale toe kon mik. Butch James was steeds die losskakel, maar Viljoen het hom nie met die stelskopwerk vertrou nie.

Op heelagter, in Montgomery se plek, het Viljoen die jong Conrad Jantjes gekies.

Van Straaten vertel vroeër hierdie week hy was nie verbaas dat Viljoen op sy knoppie gedruk het nie.

“In daardie stadium het ek baie goed vir die Westelike Provinsie geskop. Ek en Monty het altwee vir die WP gespeel, maar ek was die eerstekeuse-stelskopper,” vertel Van Straaten.

Vir my was dit in elk geval nooit oor druk nie, ek was in my eie wêreld wanneer ek pale toe geskop het.

Daar is in die media ’n groot bohaai oor die belangrikheid van die skopwerk pale toe gemaak, maar Van Straaten het hom nie daaraan gesteur nie.

“In daardie stadium het ek ’n suksespersentasie van 98% met my skoppe pale toe gehandhaaf. Ek was regtig vol selfvertroue. Vir my was dit in elk geval nooit oor druk nie, ek was in my eie wêreld wanneer ek pale toe geskop het. Ek kon net op my skopwerk fokus wanneer ek die bal gestel het, dan het ek niks om my gehoor nie,” sê hy.

Braam van Straaten is in 2001 weer vir die Bokke gekies omdat hy so goed pale toe kon skop. Foto: Gallo Images
’n Onlangse foto van Braam van Straaten. Foto: Gallo Images

Die feit dat die toets op Loftus gespeel sou word, het Van Straaten nog meer selfvertroue gegee.

“Toe het ek al oor ’n langerige tydperk net drie skoppe pale toe gemis op Loftus, so ek het daarna uitgesien om daar te speel. Ek het ook toe saam met Sherylle Calder (’n bekende sportwetenskaplike, wat spesialiseer in visuele vaardighede) gewerk en wanneer ek na die pale gekyk het, was dit partykeer vir my asof die gaping al wyer en wyer geword het, so ek was gereed om my beste op Loftus te gee.”

Dit was nou darem ook nie asof dit Van Straaten se eerste toets sou wees nie. Hy het sy debuut reeds in 1999 in Durban teen Italië gemaak.

Daardie dag het die Bokke met 101-0 gewen en het Van Straaten, wat as plaasvervanger-losskakel opgedraf het, vyf doelskoppe deur die pale gejaag.

Robbi was ongelooflik mededingend, ’n ware vegter. Hy was in die Aussies se gesigte en het nooit ’n tree teruggestaan nie.

Dit was egter ’n sterk Wallaby-span teen wie die Bokke in 2001 op Loftus gespeel het. Daar was manne soos Joe Roff, George Gregan, John Eales en Owen Finegan in die besoekers se span.

Van Straaten het self vroeg in die wedstryd besef dat die Bokke in is vir ’n ding.

“Die eerste keer toe Nathan Grey (een van die Aussies se senters) die bal kry en op my afhardloop, het ek onder hom probeer inseil, maar hy het eenvoudig oor my gehardloop. Dit het nog nooit voorheen met my gebeur nie en ek was nogal erg verleë,” vertel Van Straaten.

Van Straaten het daarvan gehou om hoë skopkegels te gebruik. Foto: Gallo Images

Hy het egter die vermoë gehad om vinnig weer sy fokus terug te kry. Hy het toe gesorg dat hy hom fisiek op die verdediging laat geld het en hy het nie weer ’n duikslag gemis nie.

Van Straaten het ook met vyf strafskoppe pale toe geslaag. “Ek het net met een skop pale toe misluk en dit was met die doelskop om Bob (Skinstad, wat die Bokke se kaptein was) se drie van die kantlyn af te probeer verdoel. Daardie skop was teen die regop-paal vas,” onthou Van Straaten.

Die Bokke het daardie toets met 20-15 gewen.

Hy onthou ook dat Jantjies uitstekend gespeel het en as die Speler van die Wedstryd aangewys is. En dat Robbi Kempson, saam met wie hy nou by die Southern Kings werk (Van Straaten is die Kings se skop- en verdedigings-afrigter en Kempson die hoëprestasie-direkteur) ook in die span was.

“Robbi was ongelooflik mededingend, ’n ware vegter. Hy was in die Aussies se gesigte en het nooit ’n tree teruggestaan nie,” vertel Van Straaten.

Van Straaten klou vir al wat hy werd is aan die sterk Wallaby-losvoorspeler Owen Finegan. Foto: Gallo Images

Van Straaten vertel ook dat hy graag met sy eie kegels pale toe geskop het. “Dit was sulke hoës wat ek met pleister aanmekaar gesit het. Ek sê altyd dat ek wens ek het vroeër in my loopbaan hoë kegels begin gebruik, want ek het baie beter met hulle as met die laeres geskop,” sê hy.

So, vir ’n paar wedstryde was Van Straaten in die Springbok-breier en -keurders se goeie boekies. Hy het egter dieselfde jaar op die Bokke se jaareind-toer ná ’n toets teen Engeland op 30-jarige ouderdom besluit om sy uittrede uit toetsrugby aan te kondig.

Van Straaten het in 21 toetse gespeel en het 221 punte daarin aangeteken.

Van Straaten en Daniel Herbert probeer altwee die bal in die hande kry gedurende die Bokke se toets in 2001 teen die Wallabies op Loftus in Pretoria. Foto: Gallo Images

Montgomery het in 2002 besluit om eerder klubrugby in Wallis te gaan speel. Jake White het hom in 2004 weer vir die Bokke begin kies toe hy breier geword het. White het ook volle vertroue in Montgomery se vermoë as stelskopper gehad.

Montgomery het eindelik in 102 toetse gespeel en het 893 punte daarin aangeteken.

Saterdag is dit weer die Bokke teen die Wallabies, dié keer op Ellispark in Johannesburg. Die stelskoppers kan dalk weer ’n groot rol in die uitslag speel en met die oog op die komende Wêreldbeker-toernooi sal Rassie Erasmus, die huidige Bok-afrigter, sy skoppers sekerlik met arendsoë dophou.

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Braam Van Straaten
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.