Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die dag toe legende Dawie van veld dra

Op ’n manier kan ’n mens amper sê dat Wallis, en spesifiek die legendariese skrumskakel Gareth Edwards, Barbarians-rugby op die map gesit het.

Gareth Edwards in aksie vir die Barbarians. Die drie wat hy in 1973 vir die Barbarians teen die All Blacks gedruk het, het die rugbywêreld vir jare gaande gehad. Foto: Getty Images

Want dit was mos Gareth Edwards wat in 1973 ’n asemrowende drie teen die All Blacks op Twickenham gedruk het.

Daardie drie het die rugbywêreld in vervoering gehad en word vandag steeds as een van die mooistes wat nog gedruk is, beskou.

Natuurlik het die klub voor dit al heelwat hoogtepunte gehad.

Die Barbarians het in 1890 ’n beskeie begin gehad en hul wedstryde was vir ’n tyd lank meer van ’n sosiale byeenkoms vir studente.

In 1948 het hulle teen internasionale toerspanne begin speel en is die gees van hardlooprugby voortgesit en sedertdien was die span al in vele heerlike wedstryde betrokke.

Tog word Edwards se drie steeds gereeld opgebring wanneer daar oor Barbarian-rugby gesels word. Dit sal sekerlik weer so wees hierdie Saterdag wanneer die Barbarians in Cardiff teen Wallis speel.

Gedurende die 1970’s het Wallis ’n lang lys opwindende rugbyspelers opgelewer. Daar was manne soos Phil Bennett, JJ Williams, JPR Williams, Mervyn Davies en natuurlik Edwards.

Wallis het daardie jare ongelooflike hardlooprugby gespeel en die land se spelers het gemaklik in die Barbarians-patroon gepas.

Dit was dan ook van daardie Walliesers wat in 1973 die vonk verskaf het om vir ’n onvergeetlike wedstryd teen die All Blacks te sorg.

Maar net ’n paar jaar voor dit was die Barbarians, en Edwards, in nog ’n wedstryd betrokke wat ook nie gou vergeet sal word nie.

Dawie de Villiers word in 1970 deur Mike Gibson en Gareth Edwards van die veld gedra. Foto: Springbokkaptein Dawie de Villiers

Dit was in 1970 teen die Springbokke op Twickenham en as jy deur ou rugbyboeke blaai, sal jy dalk op ’n foto afkom waar die einste Edwards en die Ier Mike Gibson die Springbok-kaptein Dawie de Villiers van die veld af dra.

Suid-Afrika het toe nog ’n beleid van apartheid gehad en die Bokke moes te midde van betogings hul wedstryde speel.

Hulle was al redelik uitgemergel teen die tyd dat hul kragmeting met die Barbarians aangebreek het, maar die Bokke het van hul beste spel vir die laaste wedstryd van hul Britse toer gelos.

Of dalk was dit eerder hul selftrots wat hulle gedryf het om die Barbarians te klop. ’n Span met minder karakter sou dalk vroeg-vroeg boedel oorgegee het.

Die Barbarians was binne tien minute met 6-0 voor ná Dave Duckham en Roger Arneil drieë gedruk het. In altwee gevalle het die punte gekom ná Edwards steelkant toe gespeel het.

Jan Ellis, een van die mees balvaardige flanke wat nog vir die Bokke uitgedraf het, het toe teruggeslaan met ’n drie van sy eie.

Die Bokke se eerstekeuse-stelskopper, HO de Villiers, was dié dag nie op dreef nie en De Villiers het die doelskop waargeneem.

Dit was oor en die Bokke was net met een punt agter.

Toe gaan druk ATA Duggan vir die Baabaas en dis 9-5. De Villiers het daarná met ’n strafskop geslaag en die Bokke was met die rustyd met 8-9 agter.

In die tweede helfte het die Bokke, met De Villiers en Ellis uitstaande, die Baabaas van hulle voete af gespeel.

Eers het Mike Lawless ’n skepdoel deur die pale gejaag, toe gaan druk Andy van der Watt en De Villiers verdoel van die kantlyn af.

Toe hardloop Ellis byna 40 meter hiernatoe en daarnatoe en losdeur vir nog ’n drie en De Villiers verdoel weer.

Die Baabaas se Keith Fairbrother het ’n laaste drie gedruk, maar die Bokke was met 21-12 baas.

Kry vir jou ’n hoedjie! Ná dieselfde toets in 1968 in Pretoria waar Dawie de Villiers (regs) deur ondersteuners van die veld afgedra is, het ’n dapper een ook probeer om dit met die reuse-slot Tiny Naudé (links) te doen. Foto: Die Oosterlig

Dis toe dat Edwards en Gibson hul respek vir De Villiers wys deur hom van die veld af te dra.

Edwards en Gibson se optrede was dalk nie regtig ’n verrassing nie, want hulle het al voorheen met De Villiers te doen gehad.

Die einste De Villiers was in 1968 een van die Bokke se helde in hul reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika.

Gibson en Edwards was albei in daardie toerspan en het dalk nog gesien hoe word De Villiers ná die eerste toets in Pretoria, waar hy ’n drie gedruk het, deur toeskouers van die veld af gedra.

In daardie dae kon die toeskouers nog op die veld kom om hulle helde af te dra.

Behalwe dat hy as kaptein ’n logiese keuse was om af te dra, was De Villiers ook baie klein en lig, so die ondersteuners het omtrent oor hulle voete geval om eerste by hom uit te kom.

Ander was meer ambisieus, soos die ou wat omtrent sy nek gebreek het terwyl hy ná daardie toets teen die Leeus in Pretoria met die reuse-slot Tiny Naudé van die veld af gestrompel het.

Bronne: Springbokkaptein Dawie de Villiers – Roelf Theunissen; 112 Years of Springbok Rugby – Paul Dobson (projek-bestuurder).

Meer oor:  Gareth Edwards  |  Dawie De Villiers  |  Bokke  |  Springbokke  |  Barbarians
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.