Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ouer spelers keer terug na SA

’n Nuwe groot trek is in Suid-Afrikaanse rugby in wording met al hoe meer ouer spelers wat van oorsee af huiswaarts keer om hul rugbyloopbane in Suid-Afrika af te sluit.

Dit is in teenstelling met die trek van talle jonger spelers, wat hul rugbytande hier in Superrugby en die Curriebeker-reeks geslyp het, wat oorsee gaan speel. Hierdie uittog van spelers lei daartoe dat die land se franchise-spanne dikwels sonder broodnodige ervaring sit en dit belemmer die vordering van die jong spelers.

Ruan Pienaar
Ruan Pienaar in aksie vir Montpellier. Foto: GETTY

Die Bulle het die suidelike migrasie van spelers begin toe hulle vanjaar die 38-jarige Schalk Brits gekontrakteer het. Hy het van die Engelse klubspan Saracens teruggekeer.

Die 34-jarige Morné Steyn volg hom binnekort van die Franse klubspan Stade Français terug na Loftus.

Die 33-jarige Jacques Potgieter is reeds sak en pak terug in Pretoria ná sy draai by Toulon.

Ander franchises volg nou die Bulle se voorbeeld in die hoop om hul ervaring te verbeter.

Die 35-jarige Ruan Pienaar gaan sy rugby die volgende twee jaar by die Cheetahs speel. Hy kan daarna by afrigting betrokke raak. Daarvoor het hy sy skat­ryk kontrak met ’n jaar by Montpellier kortgeknip.

Die Haaie het die 32-jarige JP Pietersen omgepraat om voor die Curriebeker na Durban terug te keer. Hy sal van einde volgende jaar by die afrigting van hul junior spanne betrokke raak.

Die 32-jarige Frans Steyn kan volgende jaar soos Pienaar van Montpellier af na Bloemfontein of selfs Durban terugkeer.

Die Bulle het ook onlangs erken dat hul gesprekke met die 33-jarige Juandré Kruger voer om hulle met hul slotkrisis te help.

Kruger het reeds soos Pietersen op Twitter aangekondig dat sy speeldae by hul Franse klubspan Toulon getel is.

Kom terug vir ander redes as geld. Dis mooi.

Harold Verster, uitvoerende hoof van die Cheetahs, verwelkom die nuwe neiging. Hy sê hy het onlangs met meer oorsese spelers gepraat wat aangedui het hulle is gretig om hul loopbane in Suid-Afrika “tussen hul mense” af te sluit.

“Hulle (die ervare spelers wat terugkeer) het nou lank in die buiteland gespeel en goeie kontrakte gehad,” het Verster gesê.

“Hulle kan nou terugkeer en in rand kom verdien, nie noodwendig op dieselfde vlakke (as wat oorsee die geval was) nie.

“Ander faktore, soos families, tel nou baie sterk.

“Dis goed vir ons dat dit gebeur. Ons kry al daardie ervaring terug. Dis mooi dat hulle wil terugkeer vir ander redes as geld. Hulle wil kom terugploeg. Hulle wil ook hul kinders in ’n omgewing van hul keuse kom grootmaak.”

MJ Smith, die Cheetahs se hoëprestasiebestuurder wat ook vir sy franchise se kontraktering verantwoordelik is, het gesê baie van die ouer spelers keer om persoonlike redes terug.

“Van hulle wil hul kinders in Afrikaanse skole plaas,” het Smith gesê.

“ ’n Mens moet onthou van die spelers is hier weg toe hulle nog nie ouers was nie.

“Nou het hulle kinders en keer onder meer om daardie rede terug.

“Hul omstandighede het verander.”

Meer oor:  Oorsee  |  Spelers  |  Suid-Afrikaanse Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.