Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die groot William Webb Ellis-mite

Die William Webb Ellis-trofee, ha, ha.

Volgende week begin die negende weergawe van rugby se Wêreldbeker-toernooi waar die Webb Ellis-trofee weer op die spel gaan wees.

John Smit en wyle Chester Williams poseer in 2015 saam met die Webb Ellis-trofee. Smit se Bok-span was in 2007 die houer daarvan en Willams was lid van die Bok-span wat dit in 1995 verower het. Foto: Gallo Images

Nou kan ’n mens half nie help om so half te grinnik as jy ’n bietjie gaan naslaan wie dié William Webb Ellis is wie se van op die trofee pryk nie.

As jy soos ’n kindjie klein, rein en fyn, nog in Kersvader en die Tandemuis glo, sal jy seker volstaan met die storie wat algemeen opgedis word.

Dat Webb Ellis jare gelede, toe daar nog net sokker gespeel is, die bal by die Rugby-skool in Engeland opgetel en daarmee gehardloop het.

Dat al die ander seuns, en onderwysers, so verstom was oor die ongelooflike stukkie individualiteit en dat hulle so meegevoer was deur die fantastiese toneel van ’n seun wat met ’n bal onder die arm rondhardloop, dat hulle hom net daar as skepper van ’n nuwe spel erken het.

’n Borsbeeld van William Webb Ellis. Foto: Gallo Images

Dit was dus, soos een geskiedkundige die storie sarkasties beskryf het, “a big bang moment”.

Die waarheid is meer langdradig en daar is nie een Meneer Rugby wat vir die ontwikkelling van die spel gekrediteer kan word nie.

Aan die begin van die negentiende eeu is daar reeds verskeie variasies van ’n soort rugby, wat moontlik hul oorsprong by die Griekse spel harpastum het, in Brittanje gespeel.

By die Rugby-skool in Engeland was daar daardie tyd, volgens die geskiedkundige sir Montague Shearman, ’n styl van die spel wat nogal gewild was.

Elke speler is toegelaat om die bal op te tel en daarmee te hardloop en hul teenstanders kon hulle dan op verskeie maniere plattrek.

Dr. Thomas Arnold, tussen 1828 en 1842 ’n skoolhoof by Rugby, het glo nie vreeslik in die spel belang gestel nie. Hy het dit egter aangemoedig, omdat die seuns dit geniet het en omdat dit ’n manier was waarop hulle van hul frustrasies ontslae kon raak.

Mettertyd het van die seuns self onderwysers of hoofde by ander skole geword en het hulle weer die spel aangemoedig en so het dit algaande in gewildheid gegroei.

Thomas Hughes se boek Tom Brown’s Schooldays, wat in 1858 gepubliseer is, het rugby ’n verdere hupstoot gegee. In die boek beskryf Hughes, wat nege jaar ná Webb Ellis by Rugby op skool was, die spel. Nêrens noem hy Webb Ellis se naam nie.

Die plaat by die Rugby-skool in Engeland, wat William Webb Ellis as rugby-pionier verewig. Foto: The Union Game

Ene Matthew Bloxam is skynbaar die skepper van die Webb Ellis-sprokie. Hy het in 1876 ’n artikel in Rugby se tydskrif Meteor geskryf waarin hy Webb Ellis die krediet gee dat hy die spel begin het, maar hy het dit nie self gesien nie en hy noem ook geen bron as bevestiging van sy storie nie.

Bloxam se storie is in 1895 deur die Old Rugbeian Society ondersoek. Net een voormalige skolier van Rugby, ene Thomas Harris, kon Webb Ellis enigsins onthou.

En hy het Ellis ook nie as die “skepper van rugby” geëien nie.

He was an admirable cricketer but was generally regarded as inclined to take unfair advantages at football,” was Harris se vae herinnering van Webb Ellis.

Dit het die Old Rugbeian Society egter min geskeel en hulle het summier in 1900 ’n herdenkingsplaat vir Webb Ellis by Rugby-skool ingehuldig en siedaar, nou word die storie deur baie mense as die ware feite aanvaar.

Snaaks dan dat Webb Ellis, as hy so ’n rugbypionier was, nie die sport verder ontwikkel het soos ’n tipe dr. Danie Craven nie. Snaaks dan dat hy as volwassene nie in sy leeftyd reeds met die een of ander soort beker vereer is waarvoor spanne meegeding het nie.

Snaaks dan dat Webb Ellis nie iewers sy reëls vir rugby neergepen het nie . . .

Webb Ellis het ná sy skooldae by die Brasenose College in Oxford gaan swot en het eindelik ’n predikant geword. Webb Ellis, wat nooit getrou het nie, is in 1872 in Frankryk dood.

Bron: The Union Game – Sean Smith.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.