Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die hef aan lê nou voor, sê Habana
Bryan Habana, voormalige stervleuel van die Springbokke, sê die nasionale span moet sy sukses genIet, maar dat die hef-aan nou voorlê. Foto: Getty Images

Geniet die lof wat julle kant toe kom en rus goed uit oor die feestyd, want die werklikheid wag net om die draai.

Dit is die boodskap van Bryan Habana, die eertydse stervleuel van Springbokrugby en lid van die span wat in 2007 die Wêreldbeker in Frankryk gewen het.

Habana het hierdie raad by Sun City aan vanjaar se Bokgroep gegee, waar hy aan die Gary Player-uitnodigingstoernooi by Lost City deelgeneem het.

Sy raad aan die Bokke was gewis veel meer in die kol as sy eerste bofhou.

Hy het in die vierbal van die legendariese Player gespeel en met die senuwees wat Habana heel verstaanbaar sou opgevreet het, het sy bofhou op die eerste putjie windskeef in die bosse naby die bof getrek.

“Dit is wonderlike tye daardie eerste ruk nadat die Wêreldbeker verower is,” sê Habana.

“Hierdie een was selfs veel meer geskiedkundig as ons s’n met die landswye toer wat hulle gehad het met hul terugkeer en met Siya (Kolisi) wat die kaptein was en alles wat daarmee saamgaan.

“Die invloed wat ouens soos Siya, (Makazola) Mapimpi en Beast (Tendai Mtawarira) gehad het, sal nooit vergeet kan word nie.

“Hierdie tye wat die groep saam deurgebring het, sal nooit vergeet kan word nie. Daar is nou ’n stewige platform om op vir die toekoms te bou,” sê Habana.

Ek glo die kerngroep is daar om die Britse en Ierse Leeus oor ’n paar jaar te pak en ook vir die volgende Wêreldbeker in 2023.
Bryan Habana

“Ek glo die kerngroep is daar om die Britse en Ierse Leeus oor ’n paar jaar te pak en ook vir die volgende Wêreldbeker in 2023.

“Daar gaan egter heelwat dinge wees om oor te besin voor die volgende toets teen Skotland volgende jaar. Sal SA Rugby dit kan bekostig om weer die ouens wat oorsee speel terug te bring vir so ’n reeks?” wou hy weet.

“Met verandering (’n nuwe Bok-afrigter) kom daar uitdagings en ek is nie vertroud genoeg met die opset om te weet hoe daar gedink word nie.

Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, en Rassie Erasmus, afrigter, met die Wêreldbeker kort ná die span se aankoms in Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Dit sal sin maak as daar ’n geskikte kandidaat in die huidige afrigtingspan is om hom aan te stel. Die nuwe afrigter moet egter dieselfde regte gegun word as wat die geval met Rassie (Erasmus) was. Ek sal ook wil sien dat ’n nuwe afrigter eerder gouer as later aangestel word,” sê hy.

Wat die moontlikheid betref dat Jannie du Plessis, een van die spelers wat soos hy in Frankryk gaan speel het, op 37-jarige ouderdom vir die Goue Leeus kom speel, het Habana gesê ’n mens moet jou nie blind staar teen sy ouderdom nie.

“Kyk wat het Schalk Brits op 38 vir die Bokke beteken in die Wêreldbeker-toernooi. Net soos Schalk sal Jannie dalk nie elke keer vir jou 80 minute op die speelveld kan gee nie, maar die rol en invloed wat hy van die veld af en as mentor kan hê, sal van groot waarde wees,” sê Habana.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.