Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die pakt wat Pieter-Steph in SA laat bly het

Die toetrede van die Stormers se grootste borg, DHL, was deurslaggewend om Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit, in die Kaap te hou.

Pieter-Steph du Toit. Foto: Getty Images

Du Toit is vroeër die maand as ’n handelsmerk-ambassadeur van DHL aangestel. DHL het volgens die ooreenkoms die reg om die Springbok-ster vir bemarking aan te wend – beide deur optredes en deur sy beeldregte wat bekom is.

Dié derdeparty-ooreenkoms is gister deur Megan Roper, DHL Express sub-Sahara-Afrika se adjunkpresident van bemarking, aan Rapport bevestig.

Die geldbedrag van die ooreenkoms is nie bekend nie, maar volgens Rapport se bronne vergoed dit vir ’n gedeelte van die salarisvermindering wat op Du Toit van toepassing is weens die Covid-19-pandemie.

Vrese van ander unies dat WP die kollektiewe ooreenkoms oortree het deur met Du Toit te her-onderhandel ná hy die sogenaamde 21-dag-klousule afgedwing het, is klaarblyklik ongegrond.

Volgens Rapport se inligting het die spelersvakbond MyPlayers ’n toegewing gemaak deur Du Toit die reg te gee om sy beeldregte te verkoop. Die wyse waarop WP Du Toit behou het, al het hy die klousule afgedwing, word beskou as binne die ooreenkoms.

“Dit is baie slim gedoen en hulle het die gaping gesien,” het ’n ingeligte vir Rapport gesê.

Dit kom nadat WP gedreig het om uit die werkgewersorganisasie Sareo te bedank en ’n hofinterdik teen die afdwing van die klousule te kry as hulle Du Toit sou verloor.

Benewens ander klein verstellings aan klousules in sy kontrak, was die ooreenkoms met DHL die deurslaggewende faktor wat hom in Suid-Afrika laat bly.

Die Stormers se afrigter, John Dobson, het ook die ooreenkoms bevestig, maar het gesê dit het niks met die WP te doen nie, en het alle vrae na DHL verwys.

“Ons is baie dankbaar en dit is verblydend as borge so betrokke by spelers raak. Ons weet hy is nie die eerste speler wat so ’n ooreenkoms as ’n handelsmerk-ambassadeur het nie en ons weet ook dat hy deel is van DHL se langtermyn-planne in rugby. DHL wil sy posisie in rugby versterk en Du Toit pas in die plan.

“Dit is verblydend as rugbyspelers ambassadeurs word wat hulle dan toelaat om in Suid-Afrika te kan bly. Dit is wonderlik vir die borge, vir die span en vir die SA rugby-ekonomie,” sê Dobson.

Sareo het WP tot die afgelope Maandag gegee om te antwoord oor of hulle by die kollektiewe ooreenkoms gaan hou wat die bedryf oor salarisverminderinge beding het. WP het voorheen gesê hulle stem nie saam nie en behou hul regte voor.

Volgens Rapport se inligting het die WP dié week ’n brief aan Sareo gestuur waarin hulle hulself tot die ooreenkoms verbind en instem om die salarisverminderinge in te stel. Maar WP het nie, soos Sareo gevra het, inligting verskaf oor hoe hulle die Du Toit saak-hanteer het nie.

Op Rapport se versoek om kommentaar het WP volstaan met dié aanhaling van Dobson: “Soos ek dit verstaan, het WP Rugby die ooreenkoms oor spelersregte en kontrakte aanvaar.”

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Stormers  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.