Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié pot goud wink dalk vir SA spanne
Jake White, hoofafrigter van die Bulle, is opgewonde oor die moontlikheid dat Suid-Afrika se voorste span in die Reënboogbeker-reeks dalk ’n plek in die gesogte Europese Kampioenebeker-reeks kan kry. Foto: Gallo Images

Daar moet ’n pot goud aan die einde van die reënboog(bekerkompetisie) vir die Suid-Afrikaanse spanne wees.

En as jy so na Jake White, hoofafrigter van die Bulle, luister, kan dít ’n plek in Heineken se Europese Kampioenebeker-kompetisie wees.

“Ek is nie seker van die detail nie, maar daar is sulke sprake. Ek twyfel of dit al gefinaliseer is en daar is niks op skrif nie, maar van Suid-Afrikaanse rugby se kant af weer ek dat dit een van die doelwitte is om in kompetisies soos die Heinekenbeker te speel.

“Ons moet toesien dat ons goed genoeg is, sou ons wel uitgenooi word of daarvoor kwalifiseer. Dit sal fantasties vir ons rugby wees as dit kan gebeur.”

White, wat Montpellier in Frankryk afgerig het, sê die voorste plaaslike span in die plaaslike Reënboogbeker-kompetisie se finansiële voordeel (as hy dan in die Kampioenebeker-kompetisie speel) sal enorm wees.

“En dit gee jou die geleentheid om jou aan die voorste spanne in wêreldrugby te meet.”

Suid-Afrikaanse rugby sal egter die beperkings van 45 spelers in ’n groep en die begroting van nie meer as R60 miljoen moet heroorweeg, meen White.

As jy in al die voorgestelde toernooie gaan speel, gaan ons ’n groter groep benodig, veral as jy ’n paar spelers aan die Bokke afstaan en daar is beserings.
Jake White

“As jy in al die voorgestelde toernooie gaan speel, gaan ons ’n groter groep benodig, veral as jy ’n paar spelers aan die Bokke afstaan en daar is beserings.

“Soos sake tans staan, het ons nie genoeg diepte in ons groep nie. Ek het verlede week (in die Noordelike Halfrond se Reënboogbeker-kompetisie) gekyk toe Munster teen Leinster gespeel het.

“Hulle het in ’n stadium genoem dat Leinster die seisoen al 57 spelers gebruik het. ’n Span soos Leinster, wat baie internasionale spelers het, het 57 spelers nodig gehad.

“Ek verneem dit is reeds iets wat in Suid-Afrikaanse rugby aangepak word.

“Ons sal daarna moet kyk om ons groepe en begrotings aan te pas om met die grotes in die Noorde mee te ding.”

Ruan Steenkamp in aksie vir die Bulle in ’n Curriebeker-wedstryd teen Griekwas in 2019 in Pretoria. Foto: Gallo Images

White sê hy is teleurgesteld dat die Bulle, Haaie, Stormers en Leeus nie oorsee in die Reënboogbeker-kompetisie kan speel nie.

“Ek glo al die ondersteuners sou ook ons spanne teen ander teenstanders wou sien.

“Dit is wat dit is. ’n Jaar gelede kon ons (weens die Covid-19-pandemie) nie eens rugby speel nie.

“As daar ’n keuse is om teen mekaar te speel of om glad nie te speel nie, kies ’n ou natuurlik eersgenoemde.

“Dit is nie die ideaal nie, maar minstens kan ons steeds speel en ons spanne ontwikkel.”

• Die Exeter Chiefs het Racing 92 op 17 Oktober 2020 met 31-27 in die eindstryd van die Kampioenebeker-kompetisie in Bristol geklop.

Meer oor:  Jake White  |  Suid-Afrika  |  Europa  |  Bulle  |  Rugby  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Haaie  |  Stormers  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.