Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph du Toit: Die R75 m.-man
Pieter-Steph du Toit
Pieter-Steph du Toit by 2019 se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan. Foto: Getty Images

Pieter-Steph du Toit kan die duurste rugbyspeler ter wêreld word as hy ’n massiewe aanbod van die Franse klub Montpellier aanvaar.

Volgens Rapport se inligting is die Springbokke se ster-flank en 2019 se Wêreldspeler van die Jaar €100 000 (sowat R2 087 000) per maand aangebied om vir drie jaar vir Montpellier te speel.

Du Toit het aan Rapport gesê hy is in gesprekke met sy agent oor wat hom te doen staan tot 14 Mei – die sperdatum vir die grasietydperk van 21 dae wat aan spelers gegee is om hul kontrakte op te sê vir beter aanbiedinge oorsee, nadat daar op salarisverminderinge weens die Covid-19-pandemie ooreengekom is.

“Ons sal in dié tydperk versigtig besin oor aspekte wat oorweeg moet word en dit van daar af verder vat,” sê Du Toit.

Sy agent, Gerrie Swart, het die bespiegelinge oor Du Toit se toekoms veroordeel.

“Die voorwaardes van enige kliënt se dienskontrak is beskermd. Vir ’n derde party om daaroor te bespiegel is onverantwoordelik en die motief daaragter moet ernstig bevraagteken word,” sê Swart.

Swart het daarop gewys dat Du Toit nie self beter aanbiedinge probeer inwin het of deur geld gedryf word nie.

“Pieter-Steph is ’n speler wie se spel die praatwerk doen. Sy dade bemark hom. As derde partye oor hul voete val in die hoop om sy dienste te bekom vorentoe, behoort dit niemand te verras nie.”

Terwyl Du Toit nog oor dié aanloklike aanbod besin, is daar onmin in Suid-Afrikaanse rugbykringe. Veral Zelt Marais, die Westelike Provinsie se rugbybaas, is ontsteld oor die 21-dae-klousule en takel nou die besluitnemers daaroor.

Die voorwaardes van enige kliënt se dienskontrak is beskermd. Vir ’n derde party om daaroor te bespiegel is onverantwoordelik en die motief daaragter moet ernstig bevraagteken word.

Hy het die afgelope week in ’n gesprek met Rapport agente en spelers bygekom omdat hulle “hul rug op die land keer in ’n tyd van krisis”.

Hy vaar uit teen “gewetenlose mense daarbuite” wat spelers se kwesbaarheid uitbuit te midde van die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande salarisverminderings.

As lid van die rugbywerkgewersorganisasie, Sareo, is WP gebonde aan die besluit, maar Marais is steeds teen die 21-dae-klousule gekant. Rapport verneem die WP het die afgelope week selfs ’n senior regsmening oor die besluit ingewin.

Die WP se hande is weens die kollektiewe aard van die besluit gebind. Hulle kan daarom nie Du Toit anders behandel as die res van die spelers nie, en kan nie sy salaris aanvul uit ander bronne nie.

Volgens Rapport se inligting het Montpellier vir Du Toit ’n kontrak van twee jaar, met ’n jaaropsie om te verleng, aangebied. Dit sal hom sowat R25 miljoen per jaar in die sak gee, en as hy die volle drie jaar by Montpellier bly, sal hy sowat R75 miljoen verdien.

Die aanbod is glo een van vyf wat aan Du Toit gemaak is.

Du Toit sal ingevolge die salarisverminderinge bykans R3 miljoen verloor. Sy huidige salaris by die WP is tussen R7,5 miljoen en R8 miljoen per jaar, verneem Rapport.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers, het reeds ’n noodvergadering met Du Toit en sy familie gehad.

Hoewel die direksie van die WP teen die aanvaarding van die klousule gekant was, het Marais dit aanvanklik op Sareo se vergaderings gesteun. Die Haaie en die Cheetahs was tydens Sareo se vergaderings die enigste twee unies wat teenstand gebied het.

Albei unies wou die vryheid hê om geld elders te probeer vind om spelers se verliese te dek. Dit is deur die meerderheid afgeskiet, maar Marais is duidelik ontevrede met die ooreenkoms.

“Ons is die enigste land wat so ’n klousule met die salarisverminderinge ingesluit het. Die vraag wat ons stel – en dit is nie dat ons nie ten gunste van die kollektief is nie – is hoekom ons anders as die res van die wêreld optree,” sê Marais aan Rapport.

“Ons het uiteindelik ons teenstand teen die klousule teruggetrek, maar ons wil steeds aanhou praat daaroor, veral omdat daar gewetenlose mense daarbuite is wat ons spelers se kwesbaarheid uitbuit. Ons kan nie tans bekostig om ons groot-naam-spelers te verloor nie, want ons weet nie watter impak dit later in die jaar in die onderhandelinge met borge kan hê nie.

Dit is erg onregverdig vir mense om in ’n tyd van oorlog – en hierdie is ’n oorlog teen ’n virus – ons spelers as prooi te gebruik en vir hulle te sê hulle kan elders meer geld maak.

“Dit is erg onregverdig vir mense om in ’n tyd van oorlog – en hierdie is ’n oorlog teen ’n virus – ons spelers as prooi te gebruik en vir hulle te sê hulle kan elders meer geld maak. Ek wil nie sê hulle is onpatrioties nie, maar hoekom sou jy dit in dié neerdrukkende tydperk doen?

“Daar word gesê dat ’n groot deel van die bevolking hul werk gaan verloor. Die spelers gaan ten minste nog ’n werk hê.

“Ek wil niemand se moraliteit bevraagteken nie, maar jy moet vir hulle vra of hulle die oorlog wil help veg en wen of nie. Dit is ’n etiese vraag wat agente moet beantwoord,” sê Marais.

“Jy moet wonder of hulle korttermynwins eerste stel en nie ag slaan op die ramp wat hulle kan veroorsaak nie.

“Pieter-Steph is vir ons baie belangrik, nie net vir WP nie, maar ook vir Suid-Afrika. Suid-Afrika kan nie sonder hom doen nie.

“Ons wil hom vir lank nog hier hou. Ons weet ook hy hou daarvan om hier te bly. Ons wil nie hê hy moet vir die verkeerde redes loop nie. Hy is ’n ongelooflike voorbeeld van ’n sportpersoon.”

Rudolf Straeuli, voorsitter van Sareo, het aan Rapport bevestig die ooreenkoms is geteken en is op al sy lede van toepassing.

Straeuli het ook bevestig dat Sareo ’n brief van WP ontvang het dat hulle kapsie maak teen die klousule.

“Die dokument is geteken. Ons sal nog ’n gesamentlike mediaverklaring uitreik. Die notules van die vergaderings is duidelik,” sê Straeuli.

In ’n brief wat WP Donderdag aan sy spelers gestuur het, sê WP die klousule is nog nie aanvaar nie en spelers kan dit nie gebruik nie.

’n Brief wat Vrydag deur MyPlayers uitgestuur is, sê egter die spelers het die reg om die opsie uit te oefen.

Pieter-Steph kan sy salaris verdriedubbel

Pieter-Steph du Toit se jaarlikse salaris by die Stormers is ver benede die bedrag wat sommige van sy Wêreldbeker-spanmaats oorsee verdien.
handré pollard
R23 m. Handré Pollard Montpellier (Fra)
Eben Etzebeth
R21 m. Eben Etzebeth Toulon (Fra)
Faf de Klerk
R12 m. Faf de Klerk Sale Sharks (Eng)
Pieter-Steph du Toit
R8 m. Pieter-Steph du Toit Stormers (SA)
Malcolm Marx
R11 m. Malcolm Marx Shining Arcs (Jap)
Cheslin Kolbe
R15 m. Cheslin Kolbe Toulouse (Fra)

Meer oor:  Pieter-Steph Du Toit  |  Montpellier  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.