Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Rassie-resep: So word Bokke beter

Van vernedering op vernedering in 2017 tot Suidelike Halfrond-kampioene skaars twee jaar later. Dit is die verhaal van die Springbokke se merkwaardige ommekeer onder Rassie Erasmus. Hendrik Cronjé belig vyf sleutelfaktore in die Bokke se Rugbykampioenskap-triomf vanjaar. 

Faf de Klerk (met die trofee) en die res van die Bok-span vier die afgelope Saterdag Suid-Afrika se eerste Rugbykampioenskap-titel in Salta. Foto: Getty

1. Haarfyn beplanning

Erasmus laat niks waaroor hy beheer het aan toeval oor nie. Die afgelope Rugbykampioenskap is ’n voorbeeld van sy deeglike beplanning.

Die oomblik toe hy die toetsbepalings vir 2019 ontvang het, het hy besef die wegtoetse in Wellington en Salta kan negatiewe gevolge vir die spelers inhou.

Om dit te oorbrug, het hy besluit om ’n sogenaamde B-span teen die Wallabies te kies. Sy sogenaamde A-beginspan, met die uitsondering van twee of drie spelers, kon gevolglik reeds die Donderdagaand voor die toets teen die Wallabies na Wellington vlieg.

Dit het aan die A-span kans gegun om van hul vlugflouheid voor die toets in Wellington ontslae te raak en die Maandag vars by die oefenveld op te daag.

Eerder as om ná die toets teen die All Blacks die spelers van Wellington via Sydney na Johannesburg te laat terugvlieg, het Erasmus besluit die Bokke sal ’n bykomende week in Nieu-Seeland aanbly en reguit van daar af na Argentinië vir die toets in Salta vlieg. Daarmee het hy ’n lang vlug van sowat 18 ure gesystap en sy spelers so vars as moontlik in Salta laat opdaag.

Die uitslae in Wellington en Salta is bevestiging dat dié beplanning in die kol was.

Toe Erasmus verlede jaar Maart amptelik as Springbok-hoofafrigter aangestel is, het hy dit uitgestippel dat hy en sy afrigtingspan nie nét tydens die toetsseisoen gaan werk nie, maar regdeur die jaar.

Aangesien die Bokke tot voor sy aanstelling gebruiklik net sowat 13 tot 14 weke ’n jaar bymekaar is en Erasmus dié min tyd saam as problematies beskou het, het hy besluit dat hy en sy afrigtingspan deur die jaar al die verskillende franchises sal gaan besoek.

In die proses het die Bokke ’n goeie verhouding met onder meer die fiksheidskundiges en mediese personeel van die franchises opgebou.

Hulle monitor die Bok-kandidate deurentyd, wat Erasmus in staat stel om in elke posisie ’n ranglys te kan opstel van die uitslae van dié spelers se fiksheidstoetse.

Erasmus en Jacques Nienaber, sy regterhand sedert hul Cheetah-dae en iemand wat hoë aansien onder die spelers geniet, het ook deur die jaar van die oorsese klubspanne besoek.

In ’n verdere poging om te verseker dat die kandidaat-spelers op dieselfde golflengte is wat onder meer wedstrydplanne betref voor die toetsseisoen aanbreek, het die Bok-afrigtingspan belyningskampe van ’n week lank by die franchises gehou tydens hul loslootjies in Superrugby.

Dié kampe het onder meer gehelp dat die spelers vertroud raak met die afrigtingspan se stemme voordat hulle vir toetse bymekaar kom. Dít is iets kleins wat uiteindelik ’n groot verskil maak.

Sou die Bokke tot die Wêreldbeker-eindstryd vorder, sal hulle vanjaar in totaal minstens sowat 20 weke bymekaar wees – die langste tydperk nog deur enige Bokspan in ’n Wêreldbekerjaar.

Een van die belangrikste vereistes om ’n suksesvolle internasonale afrigter te kan wees, is om ook ’n goeie keurder te wees. Nie almal het dié gawe nie.

Gemeet aan die reaksie op sosiale media en die ou tradisionele hoofstroommedia, is min fout met Erasmus se keuses in die Rugbykampioenskap gevind.

Hy het van die oomblik toe hy sy aanvanklike vergrote groep vir die Rugbykampioenskap aangewys het, met sy keuses raakgevat. Veral as spelers wat weens beserings – soos Aphiwe Dyantyi, Damian Willemse, Dan du Preez, Warren Whiteley en Jan Serfontein – nie oorweeg kon word nie, in ag geneem word.

Coenie Oosthuizen, Ox Nche, Joseph Dweba, Akker van der Merwe, Wilco Louw, Jean-Luc du Preez en Jaco Kriel tel onder diegene wat hulself ongelukkig kan ag, maar Erasmus kan net soveel kies.

Sy besluit om Herschel Jantjies, Cobus Reinach en Frans Steyn te betrek, het baie punte vir Erasmus onder Bok-ondersteuners getel.

Danksy onder meer die goeie keurproses, bevind die Bokke hulle nou in die gunstige posisie waar Erasmus moet kopkrap oor wie hy moet weglaat, eerder as wie hy moet kies.

Erasmus het ook verlede jaar dikwels sy span ten koste van uitslae verander omdat hy onder meer sy diepte wou uitbou en spelers op toetsvlak wou weeg.

Die besluit om verlede jaar ontslae te raak van die oorsese kiesbeleid van 30 toetse, het ook bygedra tot die sukses van die Rugbykampioenskap.

Skynbare oornagsukses verg dikwels maande se beplanning.

4. Henning, Simjee se rol

’n Mens kan nie genoeg klem lê op hoe belangrik die regte dinamika van ’n bestuurspan is sodat spelers op én van die speelveld gelukkig is nie. Dis nog soveel belangriker as ’n span uit ’n groep spelers van 30 of meer bestaan, soos die geval nou in die Rugbykampioenskap was.

Erasmus se besluit om Eugene Henning die voog van sy spelers te maak en Zeenat Simjee as dieetkundige aan te stel, het sy eerste vuurdoop in die Rugbykampioenskap geslaag. Hulle was in die Rugbykampioenskap die eerste keer deel van die Bokke se bestuurspan.

Henning is ’n spesialis in spelerverhoudings en die besturende direkteur van MyPlayers.

Hy is al sedert 2010 betrokke by MyPlayers, die liggaam wat beroepspelers in Suid-Afrika verteenwoordig. Henning se bestaande verhouding met die land se voorste spelers het sake reeds in die Rugbykampioenskap vir Erasmus vergemaklik.

Erasmus weet hoe moeilik dit is om al 31 spelers vir die duur van die Wêreldbeker gelukkig te hou én aan te moedig om hul beste te lewer.

Simjee sal ook saam na Japan reis om te verseker dat die Bokke genoeg braaivleis inkry en nie te veel tydens die Wêreldbekertoernooi huis toe verlang nie.

Sy het die afgelope tyd naatloos ingeskakel en ’n waardevolle bydrae gelewer.

5. Geen winkelure

Erasmus se passie vir die spel is deel van sy menswees. Hy eet en slaap rugby. Hy is soos ’n motorhawe langs die hoofpaaie. Hy maak nooit toe nie. Hy leef 24 uur ’n dag rugby.

Hy is innoverend en bly ’n student van die spel. Tegnies en strategies is hy uitstekend. Hy maak ook dikwels foute, maar erken dit en vra om verskoning.

Hy glo aan die nuutste tegnologie en wend dit aan om sy doelwitte te bereik. Hy weet waar Suid-Afrika se sterk- en swakpunte is en speel soos in die Rugbykampioenskap die soort rugby wat daarby pas.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Rugbykampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.