Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié reël het brul uit Poemas se skrums gehaal

Argentinië se afrigter, Mario Ledesma, sê ’n reël wat twee jaar terug in sy tuisland van krag geword het ná ’n rits ernstige beserings, het die Poemas se eens gevreesde skrumkrag verswak en kan potensieel hul Wêreldbeker-aanslag knou.

Argentinië se skrumwerk is nie meer ’n aanvallende wapen, soos wat dit in die verlede was nie. Foto: Getty Images

Ledesma het dié onthulling gemaak aan die vooraand van sy span se kragmeting met die Barbarians Saterdag op Twickenham.

Toe die stut Jeronimo Bello verlam is nadat ’n skrum ineengestort het in ’n eersteliga-klubwedstryd in 2016 – die vierde besering van dié aard in ’n jaar – het die Argentynse Rugbyunie (UAR) besluit om op te tree.

Die UAR het toe ’n reël van krag gemaak wat spanne belet het om hul teenstanders meer as 1,5 m terug te stoot in skrums, behalwe as die skrum vyf meter van die doellyn af was.

Dié reël geld in alle plaaslike kompetisies, waaruit die Jaguares (Superrugby) en Poemas spelers werf.

Ledesma, wat die leisels van Argentinië voor vanjaar se Rugbykampioenskap geneem het, het aan Reuters gesê die Poemas se trotse skrumkultuur is nadelig hierdeur beïnvloed en dat dit tot twee jaar se harde werk sal verg om Argentinië se skrumkrag van ouds te herwin.

Die Poemas het egter minder as ’n jaar tot hul beskikking voordat die Wêreldbeker-toernooi in Japan afskop. Hulle is boonop in ’n taai groep saam met Engeland, Frankryk, Tonga en Amerika geloot.

“Dié reël strek tot die nadeel van alle Argentynse rugby,” het Ledesma prontuit gesê.

Ledesma sê hy verstaan dis in reaksie op die beserings in plek gestel, maar voel tog dat daar nie meer ernstige rugbybeserings in Argentinië as in ander lande was nie.

Trouens, Ledesma glo daar is in ’n land soos Australië, waar hy voorheen ’n Wallaby-hulpafrigter was, selfs meer ernstige beserings.

“Dié reël het nie net ons skrumkultuur, wat deel van ons DNS is, verswak nie, maar dit het die siel van voorspeler-spel aangetas.”

Argentinië het vroeër jare roem verwerf met hul gevreesde “bajada-skrum”, ’n tegniek wat hulle in staat gestel het om vaste skrums te oorheers.

Volgens Ledesma is opkomende stutte egter nie meer gerat om aan die eise van skrumwerk op ’n hoër vlak te voldoen nie.

“Deesdae is skrums (in plaaslike kompetisies) nie langer as vyf, ses sekondes nie. Jong spelers wat by ons (op nasionale of Superrugby-vlak) kom, is dan verbaas oor hoe taai en ongemaklik dit in ’n skrum raak wanneer dit langer as tien sekondes hou.

“Jy moet daardie tipe gestoei geniet en verstaan watter belangrike invloed dit op ander afdelings van die spel het,” het die 45-jarige Ledesma, ’n voormalige toetshaker, gesê.

Volgens hom is die sielkundige waarde van ’n oorheersende skrum onmeetbaar.

Ledesma se loopbaan as toetsbreier het belowend begin met ’n groot tuissege oor die Springbokke en ’n wegsege oor die Wallabies, maar sedertdien het die Poemas ’n rits nederlae gely.

Dié span sal daarom hoop om sy seisoen op ’n hoogtepunt te eindig teen ’n Baabaas-span gelaai met Bokke. – Reuters

* Saterdag se stryd skop om 16:30 af en word regstreeks op SS 2 uitgesaai.

Meer oor:  Toetsrugby  |  Mario Ledesma  |  Barbarians  |  Poemas  |  Baabaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.